1

Neem ons nog die kerk ernstig op?

 

 

The narrow way to heaven is wide enough for believers of every name and denomination – J. C. Ryle

Neem ons  nog die kerk ernstig op?

As ons Christene word, is ons nooit alleen nie. Ons word individueel verlos, maar nie vir ‘n lewe van selfgesentreerde individualiteit nie. Ons is nou aangenome kinders in God se familie. Ons is aanmekaar verbind in God se nuwe skepping. Hierdie nuwe skepping staan as die kerk bekend.

 

Wat was God se plan vir die kerk? Kyk hoe Paulus die kerk in Efesiërs aanbied. Hy verklaar eers dat God ryk in barmhartigheid is en ons liefhet (2:4). Hy sê dat hulle uit genade gered is;  Dat God ons gemaak het wat ons nou is: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (2:8 – 9).

Paulus gebruik nou drie basiese beelde om ‘n aspek van hierdie entiteit wat God geskep het te beskryf.

  • Die gebou. Op die fondament van die apostels en profete met Jesus Christus as hoeksteen word Jode en nie-Jode saam in een gebou ingebou – in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon (2:20 – 22).
  • Die liggaam. Soos in die menslike liggaam beheer, integreer en gee die hoof rigting aan die hele organisme. Die kerk is een liggaam onder Christus die hoof. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus (4:13). Wat Paulus hier beskryf is koördinasie van almal wat deel van die liggaam is deur God; diversiteit van bediening in die eenheid van die liggaam; onderskeiding van die waarheid en wysheid van God deur die liggaam korporatief.
  • Die bruid. Die Bruidegom van die kerk werk om haar, die voorwerp van sy liefde, voor te berei vir die toekomstige heerlikheid wat Hy vir haar beplan – sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (5:25 – 27). Die versekering van Jesus Christus se onfeilbare liefde bly ‘n voortdurende ondersteuning.

In die Belydenis van Nicea word vier woorde gebruik om die kerk te beskyf:

  • Een: ‘n enkele globale gemeenskap in en deur en onder Jesus Christus; ‘n gemeenskap waarin verskille tussen mense oorkom word.
  • Heilig: die kerk is gewy aan/afgesonder vir die aanbidding, gehoorsaamheid en diens aan God.
  • Katoliek/algemeen: wêreldwyd. Die kerk is in die wêreld vir die wêreld en met ‘n sending na die wêreld.
  • Apostolies:  egtheid van geloof en doel. Die kerk hou vas aan die leer van die apostels.

Paulus se denke oor die kerk begin by God se groot plan vir die kerk wêreldwyd. Hoe verbind hy dan die kleiner gemeentes met hierdie groter werklikheid van die universele kerk? Vir Paulus is die plaaslike gemeente ‘n miniatuur voorstelling van wat die universele kerk behoort te wees. Elke gemeente is deel van die globale gemeenskap.