Neerval en die Heilige Gees

Neerval en die Heilige Gees – Francois Malan

Sunet vra:

Ek is op soek na ‘n vers in die Bybel wat bevestig oor die neerval onder die krag van die Heilige Gees. Kan u asb help.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Handelinge 9:4 word vertel dat Paulus op die grond neergeval het toe hy soos ‘n besetene voortgegaan het om die volgelinge van die Here met die dood te dreig en na Damaskus gegaan het om die aanhangers van die leer van die Here gevange te neem, maar daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal het en hom op die grond laat val het om hom te stop, sodat Jesus uit die hemel met hom kon praat en sy lewe omdraai (vgl. Hand 22:7 waar hy dit vir die Jode vertel, en Hand. 26:14 waar hy dit vir koning Agrippa vertel).

Maar dit is nie die gewone manier van die Heilige Gees om ons tot besinning te bring nie. Die Heilige Gees is God, wat deur sy woord in die Bybel of in die prediking of in die getuienis van gelowige mense, ons oortuig van ons sonde, omdat ons nie in Jesus glo en Hom vertrou vir ons verlossing nie (Johannes 16:8,9). Hy oortuig ons ook van geregtigheid, dat Jesus die verhouding tussen ons en God reggemaak het deur sy sterwe aan die kruis vir ons sonde. Die Heilige Gees lei ons tot geloof in Jesus, dat Jesus God is wat vir ons sonde gesterf het, en die Heilige Gees kom woon in ons, om ons aan Jesus te verbind. So word ons kinders van God wat deur die Heilige Gees gevorm word om al meer soos Jesus te word (Romeine 8:9-17; 2 Kor 3:18).

Jesus het vir Nikodemus gesê: ‘Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is (Joh. 3:7,8).

Ons sien die krag van die Heilige Gees in die lewe van ‘n mens wat deur Jesus ‘n kind van God geword het, in die volgende kenmerke, wat die vrug van die Gees se werking in jou is (vgl. Galasiërs 5:22,23):

liefde, selfs vir jou vyande (Matteus 5:43-48),

vreugde (wees altyd bly in die Here, Filippense 4:4),

vrede (Christus is ons vrede, vrede met God en met my medemens, Efesiërs 2:13-18),

geduld (met mekaar se swakhede)

vriendelikheid of sagmoedigheid (soos Jesus, Matteus 11:29)

goedhartigheid (soos ons Vader se goedheid wat Hy in Jesus aan ons bewys het, Ef. 2:7)

getrouheid (in ons diens aan God en aan mekaar, Matteus 25:21)

nederigheid (dat ek ander mense hoër ag as my self, Filip. 2:3)

en selfbeheersing (van my humeur en my selfsugtige begeertes)

Neerval is nie die teken van die werk van die Gees van die Here nie, maar waar hierdie 9 kenmerke wat Paulus in Galasiërs 5:22,23 opgenoem het in die lewe van ‘n mens gesien word, kan ons weet dat die Heilige Gees in hom of haar werk. Die duiwel laat ‘n mens ook neerval (vgl. Markus 9:18,20,25).

 

Skrywer: Prof Francois Malan