NEHEMIA – GEBED (2)

Christian love is never theoretical or abstract; it is always practical. —Alexander Strauch

 

Nehemia – Gebed (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #2: Gebed … bemagtig jou leierskap

Hoekom is gebed belangrik in die lewe van ‘n leier?

 

  • Gebed wys dat jy van God afhanklik is.
  • Gebed skakel trots en selftevredenheid uit.
  • Gebed dwing jou om verder as jouself en jou eie vermoëns en tekortkominge te kyk.
  • Gebed laat jou wag – jy kan nie bid en vorentoe beweeg terselfdertyd nie.
  • Gebed verskerp jou visie. Meeste besluite gaan met ‘n mate van onsekerheid gepaard. Gebed maak alles duideliker.
  • Jy kan nie bid en jouself bekommer terselfdertyd nie. Knees don’t knock when you kneel on them
  • Gebed versterk geloof. Gebed wys dat jy God vertrou; dit spoor jou aan tot nog meer vertroue in Hom.

 

Die krag van een leier se gebed

Die leiers in die Bybel betrek God by hulle persoonlike lewe en by die besluite wat hulle neem. Hulle besef dat net God se toetrede  ‘n ramp kan verhoed. ‘n Baie goeie voorbeeld is Koning Hiskia (2 Konings 18:9 – 19:37). ‘n Groot Assiriese leër val die kleine Juda binne. Jerusalem word omsingel. Dit is duidelik dat Hiskia nooit die Assiriërs sou oorwin nie – sy leër was te swak om sy mense te beskerm. Wat doen hy? Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei. Toe het hy tot die groot Here gebid: “Here, God van Israel, U wat oor die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak. Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op … Here, onse God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.” (19: 16 – 19). Wat was die gevolg van Hiskia se gebed? 185 000  Assiriese soldate sterf in hulle slaap. Die Assiriese koning trek terug.

 

 ‘n Lewe van gebed

Nehemia het pas ontstellende nuus gehoor. Na al die jare lê die muur steeds om en die mense kry swaar. Die verslag was so ontstellend  dat hy gaan sit het, gehuil het en dae lank getreur het (1:4). Wie sê dat ‘n leier geen emosie mag wys nie? Die vraag is of hierdie hartseer jou verlam of neem jy die eerste tree: Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid. Draai ons onmiddellik na God vir vertroosting? Om sy wil uit te vind? Om beter te verstaan wat in jou lewe aangaan? Om God se leiding te soek vir die besluite wat jy moet neem? Dwarsdeur die boek lees ons van Nehemia wat bid. Dit was hoe hy probleme hanteer het.