NEHEMIA – GEBED (3)

No man, for any considerable period, can wear one face to himself and another to the multitude, without finally getting bewildered as to which may be true. -Nathaniel Hawthorne, skrywer (1804-1864)

 

Nehemia – Gebed (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #2: Gebed … bemagtig jou leierskap

 

Die waarde van gebed in die lewe van ‘n leier

 

Ons geleenthede om te bid gebeur nie in ‘n lugleegte nie. Hulle word gewoonlik deur onlangse gebeure gepresipiteer. Dit is belangrik om te bid terwyl die las nog in jou hart brand. Toe Nehemia van die probleme hoor, bid hy onmiddellik. As gebed nie ons natuurlike en gereelde reaksie is nie, stoot ons dit op die agtergrond. Ons stel uit – daar is altyd ander “dringende” gebeure wat ons aandag nodig het.

 

‘n Werklikheidskontrole: Jy moet besluit hoe belangrik gebed in jou lewe is. Dit is ‘n besluit wat jy moet neem en ‘n dissipline wat jy moet ontwikkel. As jy wil hê God moet jou as leier gebruik, moet jy ‘n man van gebed wees. Jy kan nie bekostig om nie te bid nie. Daarvoor is die las van leierskap te groot. Jy kan nie al die verantwoordelikhede alleen dra nie – veral nie as God beskikbaar en gewillig is om te help nie. Jy kan lei sonder God, maar jy sal nooit ‘n groot leier wees nie.

Kyk na hierdie beginsels van Nehemia se gebedslewe:

  • Bid vir die behoeftes van ander. Nehemia was terdeë bewus van die behoeftes van sy mense. Daarom bid hy en soek ‘n manier om hulle te help.
  • Bid met ‘n oop gemoed. Terwyl Nehemia gebid het, sien hy dat God se doel hom betrek. God kan moontlik sy doel vir jou in gebed openbaar.
  • Bid met ‘n gewillige hart. Nehemia aanvaar in gehoorsaamheid God se leiding om hom te gebruik as deel van die oplossing. Hy los sy werk. Miskien verwag God van ons dat ons sekere van ons aktiwiteite opsy moet skuif sodat ons sy plan kan uitvoer.
  • Bid vir die visie. Nehemia kon nie God se doel – die herbou van die muur – alleen vermag nie. Vir meeste van ons projekte geld dieselfde. Bid dat God ander ook van die visie sal oortuig.
  • Bid volhardend. Moenie ophou as dit lyk asof God nie hoor nie. Nehemia het vir vier maande gebid voor hy ‘n duidelike reaksie van God gekry het. Toe hy later voor teenstand te staan kom, bid hy weer totdat die muur voltooi is.
  • Bid vir jou eie optrede. Nehemia bid en vra vergifnis van sy sonde.
  • Bid vir rigting. Nehemia bid by elke stap langs die pad – hy wil seker maak dit is volgens God se wil. Elke keer na hy gebid het, tree hy op.
  • Bid en tree dan op. Gebed vervang nie optrede nie. Daar moet ‘n balans tussen gebed en optrede, tussen geloof in God en om God te volg, bid vir God se wil en doen van God se wil wees.  Moenie uitstel om dit wat reg is te doen nie – al is dit om te bid. Soms mag dit lank duur voor God ons gebede beantwoord, maar as die antwoord kom, beweeg vorentoe met geloof en kyk hoe God die deure oopmaak.

 

Gebed is seker een van die belangrikste kenmerke van ‘n groot leier. Bid sonder ophou.