NEHEMIA – INTEGRITEIT (1)

 “If Jesus preached the same message ministers preach today, He would have never been crucified.” ~ Leonard Ravenhill

.

Nehemia – Integriteit (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #14:  Integriteit … bekragtig jou leierskap

Van die dag af dat ek aangestel is as goewerneur in Juda … twaalf jaar lank, het ek en my medeamptenare nie aanspraak gemaak op die goewerneurstoelae nie … Nogtans het ek nie die goewerneurstoelae geëis nie, want die werk was alreeds ‘n swaar las op hierdie volk (5:14, 18).

 

Maar die vooraanstaande burgers se optrede het radikaal van dié van Nehemia s’n verskil: Sekere mense en hulle vrouens het ‘n ernstige klag teen hulle Judese volksgenote ingebring (5:1). Hierdie ryk mense het die armes uitgebuit deur buitensporige rente te vra.

 

Kouzes en Posner bevind dat daar veral drie kenmerke is wat volgelinge in hulle leiers soek. Integriteit staan bo aan die lys gevolg deur bekwaamheid en leierskap. Integriteit beteken betroubaar, waar en mense met oortuigings; dit beteken ‘n vasklou aan ‘n streng morele en etiese kode. Jy kan ‘n persoon met integriteit vertrou – hy sal die regte dinge vir die regte redes doen al kyk niemand nie.

 

Aard van integriteit

Wat doen integriteit?

  • Die dwing morele oortuigings af. So ‘n persoon kies eerlikheid eerder as bedrog, regverdigheid eerder as ongeregtigheid en ‘n gewilligheid om reëls en regulasies na te kom – al ignoreer ander dit.
  • Integriteit beskerm homself. Integriteit besef dat hy hard vir sy standaarde moes veg en dat een onbesonne daad dit kan vernietig. Een verkeerde optrede vernietig jare se vertroue. Daarom moet ‘n leier hom doelbewus met aanspreeklikheid omring, want selfs die beste leier het swakpunte.
  • Integriteit skep ‘n waardesisteem. Alles word meer relatief. Die situasie bepaal ons etiek. Mense met integriteit het ‘n stel waardes wat vas, onbeweegbaar is. Iets is of reg of verkeerd. Leiers moet God se standaarde navolg. Daarom moet leiers ‘n werkomgewing skep wat op regverdige en morele etiese standaarde berus.
  • Integriteit help jou met die moeilike besluite. Integriteit vereis moed; dit kies die hoë morele grond. Dit verstaan die gevolge van die verkeerde besluite. Daarom dink dit goed na voor ‘n besluit geneem word. Kompromieë is maklik – jy val maar net in by ‘n lae standaard.
  • Integriteit weerstaan trots. Een van die gevare van leierskap is trots. Al die aandag mag beteken dat jy meer van jouself dink as wat geregverdig is. Trots is selfsugtig; integriteit is onselfsugtig. Die Here het ‘n afsku van ‘n verwaande mens; dit staan vas: so ‘n mens sal nie ongestraf bly nie (Spreuke 16:5).
  • Integriteit trek mense na ‘n hoër standaard. Mense funksioneer beter as hulle deel is van iets wat in vasgestelde reëls geanker is. Hulle weet altyd waar hulle staan. Integriteit trek mense na so ‘n struktuur; dit bevorder ‘n hoër vlak van gedrag. ‘n Leier met integriteit dien as model.

 

Volgende keer kyk ons vir oulaas na integriteit.