NEHEMIA – LOJALITEIT (2)

 “The Gospel we preach must not be just something we hear from men or read from books or even conceived through our meditation. Unless it is delivered to us by God, it can serve no spiritual utility.” ~ Watchman Nee

 

Nehemia – Lojaliteit (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #13:  Lojaliteit … Bevestig jou leierskap

 

Lojaliteit kweek lojaliteit

Lojaliteit moet verdien word.

‘n Goeie leier is lojaal – by die werk en by die huis, want vir hom is die welstand van ander belangriker as sy eie gemak en prestige. Hy is bekommerd oor hulle probleme en moeilikhede. Mense wil graag gelei word, maar hulle soek ‘n leier wat hulle beste belange op die hart dra. Maar hierdie kommer oor ander moet opreg wees. Lojaliteit kweek lojaliteit:

  • Dawid die vriend. Nadat Dawid vir Goliat doodgemaak het, bring koning Saul hom na sy paleis. Daar word hy en Jonatan boesemvriende. Saul word jaloers – hy glo dat Dawid beplan om sy troon oor te neem. Jonatan verdedig sy vriend. Saul, erg ontstoke, erken teenoor Jonatan dat hy Dawid gaan doodmaak. Jonatan waarsku vir Dawid en Dawid vlug. Net voor Dawid vlug, kom die twee vriende weer bymekaar en belowe om na mekaar se familie om te sien. Na Jonatan se dood het Dawid aan hierdie versoek voldoen – hy neem die kreupele Mefiboset in sy eie huishouding op (2 Samuel 4:4; 9:3).
  • Dawid die soldaat. Nadat Dawid gevlug het, skuil hy in ‘n grot. Hy word baie dors.  Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink (2 Samuel 23). Die probleem was dat Betlehem op daardie stadium deur die Filistyne beset was. Drie van Dawid se vriende glip deur die Filistynse kamp en bring vir Dawid water uit die put. Dawid beskou die water as te heilig om te drink: Hy het dit as offer vir die Here uitgegiet. Dawid se manne was bereid om vir hom te sterf, want hulle het geweet dat hy dit ook vir hulle sou doen.

 

Leiers en lojaliteit

Lojaliteit is ‘n noodsaaklike eienskap van leiers. Die leiers moet dit eers besit en dan aan sy spanlede oordra. Hoe lyk lojaliteit?

  • Lojaliteit teenoor God. ‘n Leier wat ander wil bemoedig om God te volg, moet eers vir God volledig volg. Gebed is ‘n primêre manier om daardie lojaliteit te wys. ‘n Leier wat nie bid nie, vertrou op sy eie wysheid. ‘n Leier wat bid, erken sy eie swakhede en verklaar homself afhanklik van God. Nehemia se lojaliteit aan God is duidelik uit sy gebedslewe.
  • Lojaliteit teenoor God se woord. Hoe bewys ons ons lojaliteit aan God? Deur gehoorsaamheid. As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer (Johannes 14:15). Nehemia het te alle tye probeer om God se opdragte uit te voer. Hy gaan geen kompromieë aan nie.
  • Lojaliteit aan die wat oor jou aangestel is. Almal moet aan iemand verantwoording doen. Nehemia was ‘n lojale werknemer van die koning. Na twaalf jaar keer hy na die koning terug – soos hy onderneem het.
  • Lojaliteit aan jou werk. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie (Kolossense 3:23). Nehemia was ‘n lojale werkenemer – die koning het hom met sy lewe vertrou.
  • Lojaliteit teenoor diegene wat vir jou werk. Die Bybel sê baie oor die verhouding tussen werkgewers en werknemers – eienaars en slawe. Werkgewers moet hulle werkers regverdig en met respek behandel. Al is julle slawe doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry. En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie (Efesiërs 6:7 – 9). Nehemia het by sy mense gestaan – of dit nou teen die gierige vooraanstaande burgers en ampsdraers was of iets anders was. Hy luister na hulle probleme.
  • Lojaal tot aan die einde. Lojaliteit berus op vertroue wat soms maar broos kan wees. Ons lojaliteit teenoor God mag nooit fluktueer nie – as ons misluk in ons lojaliteit aan God sal ons misluk as leier. Nehemia was lojaal tot die einde – aan sy mense en aan sy koning.

 

Inspireer lojaliteit.

Lojaliteit begin by die leier Jy moet lojaal aan jou ideale en die behoeftes van jou volgelinge wees. Hoe kan jy lojaliteit inspireer?

  • Wees lojaal aan jou werkgewer. Dit dien as model vir diegene wat jy lei.
  • Wees onpartydig – geen witbroodjies nie, want dit lei tot wantroue. Nehemia het nie gehuiwer om die vooraanstaande burgers en ampsdraers te beskuldig nie (5:7).
  • Wees elke dag dieselfde. Lojaliteit berus op vertroue. As jy onredelik of veranderlik in jou besluite en optrede is, sal mense jou nie vertrou nie.
  • Wees getrou. As jy sê dat jy iets gaan doen, doen dit; as jy iets belowe, moenie dit vergeet nie. ‘n Belofte wat jy vergeet, is ‘n belofte wat jy verbreek – vir jou was dit dalk nie ‘n belangrike belofte nie, maar vir ander wel.
  • Wees eerlik. As mense uitvind dat jy nie eerlik is nie, sal hulle jou nie maklik weer vertrou nie.
  • Wees beslissend. Laat julle “ja” eenvoudig “ja” wees en julle ‘nee’ ‘nee’ (Matteus 5:37). Onbeslistheid is erger as geen besluit nie. Soek antwoorde en oplossings, maar bowenal soek God se wil. As jy besluit het, wees vasberade in wat jy doen. Moenie huiwer nie.
  • Wees werklik. ‘n Ware leier erken sy tekortkominge en soek die hulp van ander.
  • Wees ‘n dienaar. Hulle het dit as ‘n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen (2:10). Hierdie bekommernis oor sy mense vind uitdrukking in sy gebede, vas en trane en sy gewilligheid om die koning se paleis te verlaat vir ‘n vervalle Jerusalem. Hy misbruik nie sy gesag as goewerneur nie – hy gebruik dit as ‘n platform om sy mense te dien. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Matteus 20:26 – 28).

 

Hoe meet jy die sukses van ‘n leier? Lojaliteit. Die grootste leiers in die geskiedenis was die wat die hoogste vlak van lojaliteit by hulle volgelinge verwek het.

 

Volgende keer kyk ons na die veertiende kenmerk van ‘n leier: integriteit