NEHEMIA – PROBLEEMOPLOSSING (2)

If truth were told, most of us spend longer each day on personal cleanliness than on practical godliness. —Alistair Begg

  

Nehemia –  Probleemoplossing (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #9: Probleemoplossing … verfyn jou leierskap

Interne struweling: die oplossing.

Toe Nehemia die klagtes van hierdie drie groepe mense hoor, was hy hewig ontsteld (5:6). Hy lê die skuld op die vooraanstaande burgers en ampsdraers. Hulle buit die armes uit deur buitensporige rente op die lenings te hef. Jode mag nie rente gehef het op lenings aan ander Jode nie. Geen wonder Nehemia was ontsteld nie. Hierdie interne stryd bedreig die herbou van die muur.

 

 

Nehemia definieer versigtig die probleem (5:1 – 5).

Nehemia moes eers luister na die klagtes van die mense. Probleme kom dikwels op die mees ongeleë tye – soos hier die geval is. Nehemia is besig met ‘n groot bouprojek. Hy maak tyd om te luister, want sy prioriteit was mense eerste en die projek tweede. Los hy die probleem, mag dit tot ‘n opstand lei of ten minste die bouprojek vertraag. Die probleem is nie hongersnood nie – dit was slegs die simptoom van ‘n groter probleem. Die kernprobleem was geld en gierigheid. Die rykes buit die armes uit; dit lei tot klagtes en frustrasie. Dit is interessant in hoe baie probleme geld ‘n rol speel.

 

Nehemia hanteer die probleem openlik (5:6 – 7)

Baie leiers probeer probleme vermy – hulle ignoreer dit of hulle herdefinieer dit. Intussen hoop hulle die probleem verdwyn. Jy moet probleme konfronteer en oplos – soos Nehemia doen. Hy storm nie sommer in nie – hy oorweeg eers alles. Eers daarna tree hy op: hy pak die skuld op die vooraanstaande burgers en ampsdraers: Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!

 

Nehemia bespreek die probleem ten volle (5:6 – 10)

Hy oorweeg die probleem volgens God se woord. Daarna belê hy ‘n groot volksvergadering om die probleem met sy mense te bespreek. Hy daag die vooraanstaande burgers uit om God se wet en standaarde te handhaaf. Hulle moes ook die wingerde, lande, olyfboorde en huise wat hulle so onregmatig bekom het, teruggee. Hy moedig hulle aan om reg te doen: Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede.

 

Nehemia los die probleem suksesvol op (5:11 – 13)

Nehemia stel die voorbeeld: hulle moes ook aan die mense geld en koring leen. Maar laat ons tog die uitbuiting staak. Goeie leierskap begin bo. Jy kan nie vir ander vra om iets te doen wat jy nie bereid is om self te doen nie. Deur ‘n voorbeeld te stel, bemoedig jy ander om dieselfde te doen.

 

Volgende keer kyk ons na verkeerde maniere om probleme te probeer oplos.