1

NEHEMIA – VISIE (1)

The Bible is alive; it speaks to me. It has feet; it runs after me. It has hands; it lays hold of me! —Martin Luther

 

Nehemia – Visie (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #11: Visie … gee rigting aan jou leierskap

Stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou (Nehemia 2:5).

Toe Nehemia sien die mure is herbou, wou hy feesvier. Die onmoontlike is bereik; teen alle verwagting in het die mense gewerk en opgeoffer. Wat moet Nehemia nou doen? Aftree?

Of sou hy afgeblaas gevoel het soos ‘n soldaat wat geen oorloë meer het om te baklei nie. Hy kon voel dat hy alles bereik het wat hy wou – niks meer uitdagings nie. Swaksiende leiers kyk niks verder as hulle huidige probleem nie. As dit opgelos is, voel hulle verlore tot hulle weer ‘n nuwe projek en ‘n nuwe doelwit kry.

 

Vir Nehemia was die herbou van die muur slegs die begin. Sy doel was om die stad te herbou, die Joodse kultuur weer lewenskragtig te maak en om die volk weer trots te maak.

 

Fokus op die toekoms

Ons moet voortdurend verfyn, verbeter, luister en leer. Min dinge is belangriker om van jou ‘n beter leier te maak as visie. Goeie leiers beplan vir die toekoms. Hulle sien iets beter daar buite; hulle sien wat ander nie kan sien nie; hulle antisipeer. Die toekoms mag vaag wees, maar dit keer nie hierdie leiers om met afwagting na die toekoms te kyk nie.

 

Dink aan Josua en Kaleb. Van Sinai na die beloofde land was ongeveer 250 kilometers Terwyl die volk daar op die grens van die beloofde land wag, stuur Moses twaalf verkenners – een uit elke stam – om die beloofde land te verken. Kruis en dwars vir 40 dae lank kyk hulle. Hulle kom terug en moet nou verslag doen. Tien verkenners gee ‘n negatiewe verslag – die land was vrugbaar, maar die mense was sterk. Sommige van hulle was selfs reuse (Numeri 13).

 

Kaleb en Josua dien egter ‘n minderheidsverslag in: Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan dit doen (13:30). Die mense is bang. Toe sê Josua: As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie (14:8 – 9). Tien sien net mislukking; twee sien God se toekoms.

Die mense aanvaar die meerderheidsverslag en vir 40 jaar swerf die volk in die woestyn rond. Die geslag sou nooit God se seëning van ‘n eie land ervaar nie.

 

Bevorder ons geloof of bevorder ons vrees? Veroorsaak jy twyfel of gee jy rigting? Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ‘n volk (Spreuke 29:18).

 

Maar wat is ‘n visie? Volgende keer kyk ons na die kenmerke van ‘n visie.