New Age-skool – Hermie van Zyl

Liesl vra

My kind is in ‘n skool wat so ‘n halwe mengsel van Hindoe en Christenskap uitleef. Ongetwyfeld glo elke onderwyser aan karma, en die basis van die skool is dié van madame Blavatsky (teosofie).

Ek is grootgemaak in die NG Kerk en het natuurlik besef ek kan my kind nie los in die skool nie. My vraag is tweevoudig: Sal mens die kind nou skuif of eers in die nuwe jaar, en sal mens bid dat niks van die snaakse idees houvas gekry het op my kind nie? Of aanvaar ek dat geen geeste houvas kan kry nie al is hy blootgestel aan dié dinge vir amper twee jaar?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller brei nie uit oor wat presies hierdie snaakse idees van die New Age-skool is waarvoor sy bang is dat dit ‘n houvas op haar kind sal kry nie (maar kyk onder verder hieroor), of hoe dit gekom het dat haar kind reeds vir twee jaar in dié skool is sonder dat sy aksie geneem het. Sou sy nou eers bewus geword het van wat presies die etos en karakter van die skool is en wat daar onderrig word? Ek reageer dus baie in die algemeen op die gegewens wat verskaf is.

Dit wil vir my voorkom dat die skool as ‘n onafhanklike (private) skool geregistreer is in terme van die Skolewet van 1996. Volgens hierdie wet kan so ‘n skool se beheerliggaam ‘n eie karakter vir die skool bepaal, mits daar aan die Nasionale Onderwysdepartement se minimum kurrikulumvoorskrifte voldoen word. So kan daar dus Moslem-, Hindoe-, Joodse en Christelike skole wees, waar die ouergemeenskap vooraf weet dat indien hulle kinders in een van dié onafhanklike skole onderrig ontvang, hulle blootgestel sal word aan die spesifieke godsdiens wat daar voorrang geniet. Soos genoem, met die eerste lees wil dit lyk asof ons vraagsteller se kind in so ‘n skool is waar dit bekend is dat dit geskoei is op die lees van New Age-insigte en -beginsels. Maar laasgenoemde kan natuurlik ook op ‘n meer subtiele wyse in ‘n openbare skool (staatskool) voorkom.

Dit is inderdaad in openbare skole moontlik om via die beheerliggaam ‘n bepaalde etos vir ‘n skool te aanvaar – byvoorbeeld Christelike waardes – en selfs Christelike byeenkomste by die skool te hou, mits dit op ‘n billike en vrywillige basis geskied en mits een godsdiens nie bo ‘n ander bevoordeel word nie (volgens die uitspraak van regter Willem van der Linde in 2017). Maar soos ek die situasie opsom, lyk dit vir my eerder dat ons in die geval van ons vraagsteller met ‘n onafhanklike skool te doen het, waar ‘n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing – dié van die New Age-beweging – baie prominent op die voorgrond is en waar ‘n mens se kind op ‘n redelik “aggressiewe” manier daaraan blootgestel word.

Dit is nie hier die plek om uitvoerig op die teosofisme van Helena Blavatsky (middel tot laat 19e eeu) en die daaruit voortvloeiende New Age-beweging van die laaste kwart van die 20e eeu, in te gaan nie. Kortliks kan net genoem word dat ons hier met ‘n denksisteem te doen het wat elemente uit verskillende godsdienste oorneem en saamroer – uit die Christendom, Hindoeïsme, Boeddhisme, Taoïsme, en nog ander aspekte van veral Oosterse herkoms. Sommige hiervan klink selfs Christelik – soos dat daar maar een God is wat alles deurdrenk met sy wysheid – maar in sy kern is die New Age ‘n selfverbeteringsgodsdiens (as jy dit ‘n godsdiens kan noem) met groot klem op kousaliteit en, vir baie aanhangers, ook reïnkarnasie. Kousaliteit is ‘n strakke sisteem van oorsaak en gevolg. Dis waar karma ‘n rol speel: wat jy nou dink en doen het ‘n bepalende invloed op jou hele lewensloop, indien nie in hierdie lewe nie, dan wel in jou volgende lewe waarin jy dan hergebore word. Dis jou karma waaraan jy nie veel kan doen nie. En dis ‘n kousaliteit wat eintlik los staan van God; Hy het nie veel met jou karma te doen nie; dis eerder ‘n soort lewenswet waaraan ons almal onderwerp is. Verder, sonde as persoonlike skuld word ook ontken; daar is dus geen behoefte aan ‘n verlosser (soos Jesus Christus) nie. Die hele doel van die mens is om deur die voortdurende emansipasie (vrymaking) van die siel jouself te verbeter tot die volmaakte verstaan van wie jy is en wat jou plek in die heelal is.

Uit hierdie paar vlugtige gedagtes behoort dit duidelik te wees dat ons vraagsteller met haar NG Kerk agtergrond nie baie gelukkig sal wees om haar kind aan hierdie denkwêreld bloot te stel nie. Indien dit vir haar belangrik is om haar kind in die Christelike leer en lewenswandel groot te maak, sou ek voorstel dat sy hom so gou as wat prakties moontlik is uit die betrokke skool haal en by ‘n skool inskryf waar daar wel ‘n oorheersende Christelike etos is. Want dit ly geen twyfel nie: die sieninge waaraan jy elke dag blootgestel word, veral deur gesagsfigure soos onderwysers, het ‘n bepalende invloed op ‘n mens se denke en lewe, spesifiek in jou vormingsjare. Daar is dus ongelukkig geen waarborge dat die kind nie al ‘n klomp New Age-sieninge sy eie gemaak het nie, miskien nie bewustelik nie, maar in die onderbewuste. Hiermee wil ek glad nie beweer dat die seun al klaar so geïndoktrineer is dat hy nou vir goed “verlore” is vir die Christelike siening van en uitkyk op die lewe nie, want ek neem aan dat die ouerhuis in sy geval ook ‘n belangrike invloed uitoefen. En dit is ook so dat in ‘n mens se latere, volwasse lewe jy in elk geval aan die diep kant van die lewe ingegooi word en jy vinnig moet leer swem. Maar dan is jou denke al redelik gevorm. En as jou wortels goed geanker is, veral as jy reeds ‘n persoonlike keuse gemaak het vir Christus, kan mens die aanslae van vreemde sieninge en leringe makliker hanteer. Jy weet wie jy is en wat jy aan die lewe en aan die waarheid van die evangelie het. Jy word dan nie so maklik deur elke wind van dwaalleer van koers af gewaai nie (Ef 4:14). Dit is immers soos Spreuke 22:6 sê: “Gee leiding aan ‘n jongmens hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie” (vgl ook Deut 6:7).

Ek vertrou dat bostaande oorsig ‘n bietjie perspektief bring vir ons vraagsteller en haar sal help om tot ‘n besluit te kom wat vir haar en haar seun die beste is.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl