Nuwe-Testamentiese teenstrydighede – Hermie van Zyl

Rudolph vra:

  1. Hier is twee verse wat op die oog af teenstrydig is met mekaar:
  • Matteus 27:32 “En toe hulle uitgaan, kry hulle ‘n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra.”
  • Johannes 19:17 “En Hy het self sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota.”

Kan u asb aandui wat is die regte vertaling/weergawe? In die Grieks staan dit presies net so. Dit is dus volgens die Grieks albei reg vertaal.

  1. Nog twee teenstrydige verse:
  • Johannes 13:36 “Simon Petrus sê vir Hom: Here, waar gaan U heen? Jesus antwoord hom: Waar Ek heengaan, kan jy My nou nie volg nie, maar later sal jy My volg.”
  • Johannes 16:5 “En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie.”

Ek verstaan dit nie. Kan u asb vir my hierdie verduidelik? Die nuwe Direkte Vertaling in Afrikaans gebruik presies dieselfde woorde in albei verse: pou hupagō. ESV, wat ook ’n meer direkte vertaling is, het dit ook so. Volgens die grondteks is die verse dus reg vertaal.

  • John 13:36 “Simon Peter said to him, ‘Lord, where are you going?’ Jesus answered him, ‘Where I am going you cannot follow me now, but you will follow afterward.”
  • John 16:5 “But now I am going to him who sent me, and none of you asks me, ‘Where are you going?’”
  1. Hier is nog twee verse wat op die oog af mekaar weerspreek:
  • Handelinge 9:7 “En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie.”
  • Handelinge 22:9 “En dié wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.”

Kan u asb sê wat die regte vertaling is? Dit lyk of die verse albei reg vertaal is uit die grondteks.

Antwoord

Pof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller maak baie skerpsinnige waarnemings en stel uiters relevante vrae. Om reg te laat geskied aan die vrae, sal ek die voorbeelde van die sogenaamde teenstrydighede een vir een bespreek. Maar laat ek eers twee algemene opmerkings maak:

  1. Dit gaan hier nie oor vertalingsprobleme nie – dat daar dalk nie reg vertaal is uit die grondteks nie. Die teenstrydighede vloei dus nie voort uit moontlike verkeerde vertalings nie. Al die vertalings van hierdie verse is korrek vanuit die grondtaal, Grieks, gedoen. (Slegs in die 3e geval hierbo genoem, kan daar dalk ‘n alternatiewe vertaling voorgestel word, maar kyk later onder hieroor.)
  2. Teenstrydighede kom talryk in die Bybel voor. Die voorbeelde wat die vraagsteller noem, is maar net die puntjie van die ysberg. Teenstrydighede moet egter nie verstaan word in terme van historiese onakkuraatheid of, nog erger, doelbewuste misleiding nie, of, dat dit as bewys gesien moet word van die onbetroubaarheid van die Bybel en dat dit daarom nie die Woord van God kan wees nie. By laasgenoemde argument is die versweë aanname gewoonlik: God kan Homself nie weerspreek nie, daarom kan daar nie teenstrydighede in die Bybel wees nie. Nee, daar kom inderdaad teenstrydighede in die Bybel voor, en ten minste twee faktore is hiervoor verantwoordelik:

(a) Die Bybel het oor ‘n periode van omtrent ‘n duisend jaar ontstaan wat die Ou Testament betref en omtrent vyftig jaar wat die Nuwe Testament betref. Die boeke het dus nie in ‘n kort tydjie ontstaan waar outeurs mekaar vinnig oor en weer kon raadpleeg om moontlike teenstrydighede of weersprekings uit te skakel nie. Dit is ook nie eens duidelik of van die Bybelskrywers altyd van mekaar se geskrifte bewus was nie.

(b) Die Bybel het op ‘n gewoon menslike manier ontstaan. ‘n Skrywer of skrywers besluit om gebeure op skrif te stel, daar word van mondelinge of skriftelike bronne gebruik gemaak, en daar word vanuit ‘n bepaalde perspektief en met ‘n bepaalde doel voor oë geskryf. Al hierdie wisselende faktore veroorsaak dat dieselfde gebeure nie altyd presies op dieselfde manier weergegee word nie. By die Evangelies, byvoorbeeld, is dit by uitstek waar. Hoewel daar wat die eerste drie Evangelies betref (Matteus, Markus, Lukas) heel waarskynlik van mekaar gebruik gemaak is, hoewel elkeen ook sy eie materiaal ingevoer het, het elke Evangelis die verhaal met ‘n eie oogmerk weergegee. Die verhaal word dus so geskryf dat daardie oogmerk gedien word. Die breë ooreenkomste is dus wel daar, maar die detail verskil dikwels. Daar is ook nog skryfstyle wat verskil. Matteus het bv dikwels die materiaal wat hy by Markus oorgeneem het, verkort om meer spasie te skep vir die onderrigmateriaal van Jesus. Hierdie tegnieke het soms “teenstrydighede” tot gevolg.

Die laaste ding wat mens dus moet probeer doen, is om geskrifte, soos bv die Evangelies, teen mekaar af te speel. Dit gaan glad nie oor wie reg en wie verkeerd nie. Dis ‘n verkeerde benadering. Elke Evangelie het ‘n unieke bydrae gelewer om die veelkantigheid van die goeie nuus omtrent Christus mee te deel. Daarom moet mens eerder vra watter teologiese boodskap die skrywer met sy besondere weergawe omtrent Jesus wou oordra. Dit is juis die verskille en sogenaamde teenstrydighede wat ons die unieke beklemtoning en boodskap van die betrokke Evangelie laat ontdek. As elke Evangelie die verhaal van Jesus presies op dieselfde manier vertel het, was daar in elk geval geen noodsaak vir die opname van vier Evangelies in die Bybel nie. Maar nou het die kerk van die vroegste tye af ons juis die guns gedoen om vier verskillende Evangelies “probleemloos” langs mekaar in te sluit. Hierdie feit moet ons ernstig neem om die ryke veelkleurigheid van die boodskap omtrent Christus te ontdek.

Ons let nou op die spesifieke voorbeelde wat die vraagsteller uitlig. (Ek gebruik dieselfde nommering as in die vrae van die vraagsteller hierbo).

  1. Die kwessie waaroor dit hier gaan, is waarom Johannes meld dat Jesus sy kruis alleen gedra het terwyl Matteus (so ook Markus en Lukas) sê dat Simon van Sirene Jesus gehelp dra het aan die kruis.

Daar is ‘n verskeidenheid van maniere waarop die kwessie sinvol beantwoord kan word. Mens kan by die Sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas) begin en sê dat Markus eerste die tradisie rakende Simon van Sirene ingesluit het (Markus word allerweë as die eerste Evangelie beskou) om veral die tema van navolgingskap op ‘n amper letterlike manier oor te dra. Die feit dat Simon van Sirene se seuns, Aleksander en Rufus, deur Markus by die naam genoem word (15:21), dui daarop dat hulle bekend was in die gemeente in Rome aan wie Markus sy Evangelie gerig het. Die gemeente word dus daaraan herinner dat Simon as ‘t ware die eerste kruisdraer van Jesus geword het (heel moontlik teen sy wil), later waarskynlik ‘n gelowige geword het en dat sy seuns die kruis dra-tradisie voortgesit het. Die ander Evangelies (Matteus en Lukas) het Markus hierin gevolg en die gebeure rondom Simon van Sirene ook ingesluit, gewoon omdat dit ‘n betroubare tradisie was, sonder dat hulle noodwendig ‘n teologiese punt daarvan wou maak.

Maar waarom sou Johannes hierdie toneel weggelaat het? ‘n Mens sou natuurlik Johannes en die Sinoptici se weergawes histories kon probeer harmonieer deur te sê dat hulle nie werklik verskil nie omdat Jesus wel aanvanklik sy kruis self gedra het (Johannes) en dat Simon eers later op die toneel verskyn het (Sinoptici), en dat Johannes laasgenoemde wel as algemene kennis by sy lesers veronderstel wat bekend was met die Sinoptici se weergawes, en dan verkies om dit nie te noem nie.

Maar historiese harmoniëring is nooit ‘n goeie opsie nie, want dit rus altyd op veronderstellings wat mens nie uit die teks kan waarmaak nie. Daarom is kenners eerder geneig om die weglating by Johannes teologies te verklaar uit die manier waarop Johannes sy verhaal vertel. Dan is mens op vaster grond. So wys kenners daarop dat as Johannes se weergawe van die kruisgebeure met dié van die Sinoptici vergelyk word, daar ‘n hele paar insidente rondom die kruisgebeure is wat Johannes weglaat en byvoeg, waarmee Johannes sy besondere teologiese klem wou tuisbring. Die verklaring wat die beste sin maak van hierdie weglating van Simon is dat dit inpas by Johannes se tekening van Jesus dat Hy Self sy kruis opneem en in volle beheer is van sy lotsbestemming, soos sy Vader bepaal het. So sê Jesus dat Hy self sy lewe aflê en dat niemand dit van Hom neem nie (10:18). Jesus wys ook dat Hy weerstand kon bied as Hy wou en sy vyande sou kon oorrompel (18:6), maar dat Hy verkies om die beker te drink wat die Vader Hom gee (18:11). Hy staan ook onbevrees voor Annas (18:20-23) en Pilatus (19:9-11). So gaan Jesus nou na Golgota sonder enige menslike hulp; Hy neem letterlik Self sy kruis op.

Daar is ook ‘n ander moontlikheid om Simon se weglating te interpreteer binne Johannes se Evangelie, en dit is om dit in verband te bring met die Isak-verhaal – Isak wat die hout gedra het vir sy eie offer (Gen 22:6). Veral in Joodse kringe was dit ‘n gewilde tema, en Johannes kon hierdie tema oorgeneem het om die besondere aard van Jesus se kruisiging as offerande te beklemtoon. Dit pas ook in by Johannes se tydsraamwerk rondom die kruisiging. Hy is die enigste Evangelie wat Jesus se kruisiging laat plaasvind op dieselfde uur dat die paaslam in die tempel geoffer is vir die sonde van die volk. (Die detail hiervan verg ‘n lang bespreking wat nie hier gedoen kan word nie.) So gesien dra Jesus dus Self die “brandhout” (kruis) vir sy eie offer aan die kruis. Natuurlik, anders as Isak, word Jesus werklik geoffer.

Daar kan dus goeie sin gemaak word van die weglating van Simon in terme van wat ons weet oor die algemene teologiese tendense in die Johannesevangelie.

  1. Hier het ons ‘n geval waar die teenstrydigheid nie tussen verskillende Evangelies voorkom nie, maar binne dieselfde Evangelie, te wete die Johannesevangelie. Die kwessie waaroor dit gaan, is dat volgens Joh 13:36 Petrus vra: “Here, waar gaan U heen?” terwyl volgens Joh 16:5 Jesus die dissipels “verwyt” dat nie een van die dissipels Hom vra waar Hy heengaan nie. Dit lyk of die twee verse mekaar weerspreek: Hoe kan Jesus sê dat niemand Hom vra nie (16:5), terwyl in 13:36 ten minste Petrus Hom dié vraag gevra het.

Dit is nie so ‘n maklike vraag om te beantwoord nie, en uitleggers het al op verskillende maniere die oënskynlike teenstrydigheid probeer oplos. Daar is hoofsaaklik twee maniere om die probleem te benader:

  • Vroeër het uitleggers probeer om die probleem op te los deur voor te stel dat Johannes sy bronne hier nie baie goed hanteer het nie. Dit is bekend dat die Evangelies ‘n lang ontwikkelingsgeskiedenis deurgemaak het tot die finale gestalte waarin ons dit tans voor ons het. Spesifiek wat die Johannesevangelie betref word aanvaar dat dit verskillende resensies of revisies ondergaan het. En meer spesifiek wat die afskeidsrede van Jesus betref (Joh 13:1-17:26) word aanvaar dat Johannes hierdie materiaal uit oorspronklik losstaande blokke uitsprake van Jesus saamgestel het en dit nie noodwendig kronologies gerangskik het nie. Daarom het sommige uitleggers voorgestel dat Joh 16 vóór Joh 13:31-38 geplaas moet word, wat dan die logiese probleem van die vrae sou oplos: Jesus se opmerking oor die dissipels wat Hom nie vra waarheen Hy gaan nie (16:5), kom dan eerste, en dan “reageer” Petrus (13:36) en later Tomas (14:5) met hulle vrae oor waarheen Hy gaan. Hierdie soort voorstelle skep egter weer nuwe logiese probleme (waarop ons nie nou kan ingaan nie), en verder kan mens ook vra: sou die skrywer(s) wat verantwoordelik was vir die finale samestelling van die Johannesevangelie nie ook bewus gewees het van die “logiese teenstrydighede”, soos bv tussen 13:36 en 16:5 nie? Daar moes dus ‘n goeie rede gewees het waarom die samestelling wel gedoen is soos dit tans voor ons lê. Wat ons by die volgende benadering uitbring.
  • Meer resente benaderings tot die oplossing van die teenstrydigheid tussen 13:36 en 16:5 is om te let op die “logiese” ontwikkeling van temas binne die ontvouing van die verhaal in die afskeidsrede van Jesus in 13:1-17:26. So is daar al gewys op die parallelle tussen 13:31-14:31, enersyds, en 16:4-33, andersyds. Beide ontwikkel byvoorbeeld die tema van Jesus se vertrek of weggaan: hulle begin albei met Jesus se vertrek wat aanstaande is en brei dan daarop uit, elke gedeelte op sy eie manier, maar wat tog parallel met mekaar verloop. Terselfdertyd hou dit ook die gang van die verhaal in gedagte. Wanneer Petrus in 13:36 vir Jesus vra waarheen Hy gaan, dan verwys dit terug na Jesus se opmerkings in 13:33 dat Hy nog net ‘n klein rukkie by hulle is, en dat hulle Hom nie nou kan volg nie. Hierdie gedagte van Jesus se weggaan kom ook reeds vroeër in die Evangelie voor: 7:33,36; 8:21-22. Die tema van Jesus se weggaan is dus breër ingebed in die boodskap van Johannes, maar hier in die afskeidsrede word dit net in groter besonderhede uitgewerk. Jesus sê nou spesifiek dat Hy na sy Vader gaan om vir hulle plek gereed te maak (14:2) en dat Hy die Weg is daarheen (14:4,6). Bykomend word die tema van die dissipels se ontsteltenis oor Jesus se weggaan ook nou prominent (14:1). Hulle moet egter nie ontsteld wees nie, sê Jesus, want Hy kom weer na hulle toe in die Persoon van die Heilige Gees wat hulle sal troos en bystaan (14:16-20). Die gedagte van ontsteltenis oor Jesus se weggaan en die vertroosting van die Heilige Gees word in die “parallelle” hoofstuk 16 nog breër uitgebou. Jesus sê dat die Heilige Gees hulle in die volle waarheid sal lei (16:13) en dat Hy (Jesus) dan deur die Gees weer by hulle sal wees en dat hulle droefheid dan in vreugde sal verander (16:22-23).

Dit is binne hierdie tematiese verhaalgang dat die teenstrydigheid tussen 13:36 en 16:5 verstaan moet word. Dit kom daarop neer dat die dissipels se vorige (nuuskierige) vrae oor waarheen Jesus gaan (13:36; 14:5) nog in ‘n mate deur onkunde gekenmerk is. Maar intussen het hulle meer ingelig geraak, en daarmee saam het hulle ontsteltenis oor sy weggaan ook toegeneem, veral oor wat dan met hulle gaan gebeur in die lig van die teenstand teen Jesus, wat ook op hulle kan afskuur (vgl 15:18-25). As Jesus dus nou weer praat oor sy weggaan in 16:5, het hulle vrae oor sy weggaan verstom; hulle weet nou waarheen Hy gaan, maar veral ook watter implikasies dit vir hulle inhou. Dis asof hulle nie verder vrae wil vra oor sy weggaan nie; dis te pynlik om daaroor te dink en te vra. Nogtans antwoord Jesus op die vrae wat hulle nie meer wil vra nie, en gaan Hy dieper in op hulle vrese en ontsteltenis, maar ook op die vreugde wat sy koms in die Heilige Gees sal bring.

Dis verder interessant om te let op die tydsaspek van die werkwoord in 16:5. Jesus sê nie: “… en tog het niemand van julle vir My gevra: ‘Waar gaan U heen?’ nie”, want dit sou inderdaad die logiese teenstrydigheid tussen 16:5 en 13:36 verhoog het, maar Hy sê: “… en tog vra niemand van julle vir My … nie.” Die teenwoordige tyd van die “vra” verminder die logiese teenstrydigheid. Dit fokus naamlik meer op die huidige rede vir hulle stilswye, waarom hulle Hom nou nie vra waarheen Hy gaan nie, naamlik hulle ontsteltenis en droefheid. Hierdie grammatikale verskynsel dui nie net op die sensitiewe manier waarop die skrywer die verhaal saamgestel het nie (dis amper asof hy bewus was van die moontlike teenstrydigheid in die lig van die vorige vrae van die dissipels), maar terselfdertyd fokus dit die leser se aandag op die rede waarom die dissipels nie nou vir Jesus vra waarheen Hy gaan nie: hulle is te bang om te vra; hulle wil nie herinner word aan sy weggaan en die ontsteltenis wat dit by hulle veroorsaak nie. En dis presies die saak waarop Jesus ingaan in sy verdere gesprek met hulle in Joh 16.

  1. Die teenstrydigheid waaroor dit hier gaan, is dat in Hand 9:7 staan dat Paulus se reisgenote na Damaskus die stem gehoor het wat met Paulus praat, terwyl Hand 22:9 (waar die gebeure herhaal word) sê dat hulle nie die stem gehoor het nie. Hoe moet ons hierdie diskrepansie verklaar?

Daar is nie ‘n eenvoudige, voor die hand liggende verklaring vir hierdie teenstrydigheid nie. Die beste wat ons kan doen, is om die verskillende oplossings wat al in die verlede deur uitleggers aan die hand gedoen is, te noem, met moontlike aanduidings van in watter rigting die antwoord gesoek moet word.

Paulus se bekering op die Damaskuspad word drie keer in Handelinge vertel (9:3-9; 22:6-11; 26:12-18). Dit op sigself is ‘n aanduiding van die prominensie wat die skrywer aan dié gebeure verleen. Op sy minste wil die skrywer beklemtoon dat Paulus se roeping nie van mense kom nie, maar van Jesus Self. Paulus self lê in sy Galasiërbrief baie klem hierop (Gal 1:11-12).

Die teenstrydigheid tussen Hand 9:7 en 22:9 is ook nie die enigste verskil tussen die drie bekeringsberigte nie. Daar is talle verskille wat mens kan uitwys, waarvan ek net die volgende nog noem: In Hand 9 is die verteller-outeur van die boek Handelinge aan die woord (die gebeure word in die derde persoon weergegee), terwyl in Hand 22 en 26 ‘n karakter in Handelinge, Paulus self, aan die woord is (dit word naamlik in die eerste persoon vertel); Hand 26 is ‘n taamlik opsommende berig vergeleke met die ander twee: hier word meer uitgebrei op die inhoud van wat die stem (Jesus) aan Paulus meegedeel het, veral ten opsigte van sy sendingtaak; Hand 9 en 22 praat net van Paulus wat op die grond neergeval het, terwyl Hand 26 sê almal het op die grond geval. En so kan mens voortgaan om die verskille uit te wys. Dis maar net om te sê dat die verskille nie noodwendig as teenstrydighede teenoor mekaar staan nie, maar voortvloei uit die verskillende kontekste waarin dieselfde gebeure oorvertel word, en vanuit hierdie kontekste verstaan en verklaar moet word. Elke konteks belig ander aspekte van die gebeure. So neem Hand 22 die karakter aan van ‘n verdediging, waar Paulus homself voor sy mede-Jode in die tempel in Jerusalem verdedig, terwyl Hand 26 weer die toneel is waar Paulus sy sending onder die Jode voor koning Agrippa verdedig. Die uitleg moet dus eerder fokus op hoe dieselfde gebeure telkens aangepas word om die doel van daardie konteks te dien. Dít sal beter uitlegkundige resultate lewer as om bloot oplossings vir teenstrydighede te probeer vind.

Hoe ook al, dit bly steeds ‘n interessante diskrepansie dat die een berig sê dat die omstanders die stem gehoor het (Hand 9), terwyl die ander een sê dat hulle niks gehoor het nie (Hand 22). Die volgende oplossings is al aan die hand gedoen:

  • Sommige verklaarders probeer die teenstrydigheid oplos deur voor te stel dat die stem wat Paulus se reisgenote in Hand 9:7 gehoor het Paulus s’n was. So gesien klop dit dan met wat in Hand 22:9 staan dat die omstanders nie die stem gehoor het van Hom wat met Paulus gepraat het Dit is egter ‘n baie onwaarskynlike oplossing, omdat dit nie verklaar waarom die omstanders dan so sprakeloos was nie. As dit net Paulus se stem was wat hulle gehoor het, en hulle niemand anders gesien het nie, dan het daar tog niks ongewoon gebeur nie. Waaroor was hulle dan so sprakeloos? Die sprakeloosheid van die omstanders kan net verklaar word as hulle ‘n ander stem as Paulus s’n gehoor het, maar nie die persoon gesien het wat met Paulus praat nie. Oplossing (a) skep dus weer nuwe probleme.
  • ‘n Ander oplossing wat aan die hand gedoen word, en wat inderdaad ernstige oorweging kan geniet, spruit voort uit die literêre genre van hoe in destydse literatuur oor Goddelike verskynings aan mense berig is. Literêre ondersoeke het aangetoon dat daar drie tegnieke is wat skrywers in sulke verskyningsberigte gebruik het om aan te toon dat omstanders nie betrokke was by ‘n Goddelike verskyning nie: (1) mense sien nie ‘n lig of hoor nie ‘n stem nie; (2) mense sien nie ‘n lig nie; (3) mense hoor nie ‘n stem nie. Hiervolgens sou mens dan kon sê dat die skrywer in Hand 9:7 tegniek 2 gebruik, en in Hand 22:9 tegniek 3. Hoewel dit dan lyk asof daar ‘n teenstrydigheid is tussen Hand 9:7 en 22:9, is dit in terme van hoe Godsverskynings aan mense destyds vertel is, nie so nie. Mens moet jou dus nie blindstaar teen die oënskynlike teenstrydigheid tussen Hand 9:7 en 22:9 nie, maar eerder oog kry vir die punt wat die skrywer probeer maak. Hy gebruik naamlik verskillende literêre tegnieke om dieselfde ding te sê – dat die Godsverskyning nie vir die medereisigers bedoel was nie, maar slegs vir Paulus. Dit is egter ‘n vraag of daar so ‘n sterk onderskeid tussen Paulus en sy medereisigers getref moet word, aangesien baie uitleggers daarop wys dat die Handelinge-skrywer die omstanders juis as getuies van die Godsverskyning aan Paulus laat optree; hulle teenwoordigheid en waarnemings verhoog die geloofwaardigheid van die gebeure. Mens sou dus kon sê: Hoewel die omstanders tegnies uitgesluit was by die inhoud van die Godsverskyning aan Paulus – soos oplossing (b) aan die hand doen – was hulle nietemin getuies van die feit van die gebeure. Hulle kan instaan daarvoor dat Paulus ‘n besondere ontmoeting met Iemand gehad het. Ten minste kan hulle daarvan getuig dat hy agterna nie kon sien nie, wat ‘n aanduiding is van Paulus se buitengewone ervaring.
  • Nog ‘n oplossing wat veel voor te sê het, is die volgende: Hoewel beide berigte praat van hoor/nie hoor nie, wys sommige verklaarders daarop dat die Griekse werkwoord akouō wat hier gebruik word, in twee betekenisse aangewend kan word: hoor en verstaan. Dit is duidelik dat die 1983-Afrikaanse Vertaling hierdie roete gevolg het. Laasgenoemde vertaal in 9:7 dat die mense die stem gehoor het, maar in 22:9 word dieselfde werkwoord nie met gehoor vertaal nie, maar met verstaan: hulle het nie die stem verstaan van Hom wat met Paulus gepraat het nie. So word die teenstrydigheid eintlik “wegvertaal”, want Hand 22:9 veronderstel dan dat die mense wel die stem gehoor het (soos 9:7 sê), maar nie verstaan het wat dit beteken nie. By ‘n meer letterlike vertaling, soos die nuwe Afrikaanse Direkte Vertaling (ADV) (2014), word beide keer egter met gehoor vertaal, wat dan die teenstrydigheid kontinueer. Wat hierdie oplossing (dat akouō in Hand 9 en 22 verskillend vertaal moet word, onderskeidelik met hoor en verstaan) aantreklik maak, is dat akouō elders in die NT inderdaad in die betekenis van verstaan aangewend word, byvoorbeeld Markus 4:33 en 1 Kor 14:2. Selfs die ADV vertaal akouō in laasgenoemde gevalle met verstaan.

Oplossing (b) en (c) dien hulle aan as sterk moontlikhede, maar dis moeilik om tussen hulle te kies. Ten minste kan ons hieruit aflei dat mens eerder oog moet kry vir die eintlike punt van die drie herhalende vertellings van Paulus se bekering en jou nie moet blindstaar teen die sogenaamde teenstrydighede nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl