Om God oral te kan sien – selfs in “onheilige” plekke

Om God oral te kan sien – selfs in “onheilige” plekke – Kobus Kok

Is dit waar dat God ons slegs in stiltetyd ontmoet en nie in die wind, storms, aardbewings ens. nie? Met ander woorde nie in ons daaglikse lewensstryd nie.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

In 1 Konings 19:11 en verder lees ons inderdaad dat God vir Elia ontmoet – nie in die aardbeweging en die donderweer en die vuur nie, maar in die stilte. In daardie tyd het mense God se teenwoordigheid veral verwag in die teofaniese verskynings, met ander woorde die donderweer en die aardbewegings. Selfs die heidene het gedink as die blitse slaan dan praat die gode of dan is hulle baie kwaad. Hier in 1 Konings sien ons egter die mooi gedeelte dat God nie in die donderweer met Elia gepraat het nie. Elia het seker gedink dat God nooit met hom gaan praat nie. En toe kom daar skielik ‘n reuse wind, en in die Hebreeus word die woord roag gebruik vir wind en vir God se gees. Net toe spits Elia sy ore want sekerlik sal God nou met hom praat. Maar steeds was God nie in die wind soos mense van daardie tyd dit sou verwag het nie.

Daarna was daar ‘n skielike stilte. Arme Elia het seker gedink God gaan nooit met hom praat nie. Maar toe hoor hy in die mees onverwagte stilte die stem van God.

In die geweldige besige tyd waarin ons leef raak ons min stil. Ons moet egter onthou dat God meer as dikwels nie bo ons selfoon en bo die radio en die televisie met ons praat nie. Stilte is baie belangrik omdat dit ons help om te kan fokus – veral in die buitengewone besige tyd waarin ons leef.

Natuurlik praat God ook in alledaagse dinge op dikwels op ʼn manier waarop ons dit die minste verwag. Die wat naby aan God leef ervaar hom immers heeltyd en sien iets van God oral waar hulle gaan. In die boemelaar langs die pad hoor mens God, in die natuur- daar in die wildtuin- sien mens God. Soms ervaar mens God in die middel van die besige verkeer in die middestad – daar tussen duisende mense wat soos miere rondskarrel kan mens God ervaar – die God wat almal wat daar loop en wat rondom ons beweeg ken en wat in ‘n verhouding met ons wil staan. In ‘n nagklub kan ons God hoor en ervaar, want God is ook daar. Dit is juis die punt van die Nuwe Testament. Die Jode het gemeen dat God net op sekere plekke teenwoordig is en dat hy nie daar is waar goddelose en onrein mense is nie. In Lukas 15:1vv lees ons dat Jesus egter meer as dikwels God se teenwoordigheid daar gebring het waar mense gedink het dit nie gevind kan word nie, soos tussen die tollenaars en die sondaars. In die Nuwe Testament word onheilige ruimtes skielik heilige ruimtes met die potensiaal dat God se heerlikheid en lig daar te voorskyn kan kom. Sommige kerkleiers soos Ervin McManus van Amerika hou hulle kerk in nagklubs omdat hulle juis wil sê dat God oral is en dat kerk oral is waar gelowiges in die naam van Jesus bymekaar kom – en dat God se stem oral kan tuiskom, nie net in tradisionele kerke nie.

God is dus nie net in stilte nie, God is letterlik sigbaar in alles omdat Hy die skepper van alles is. Niks wat bestaan, het sonder hom bestaan nie – dit is dalk in die verkeerde hande, maar dit skree eintlik uit om deur die lig omskep te word. God is dus oral, ook in die konteks van ons alledaagse lewensstryd – die vraag is net of ons ore oop is om Sy stem te hoor en ons oë oop is om te sien wat Hy ons wil wys… Persoonlik dink ek tog dat stilte kosbaar is omdat dit ons op ʼn besondere wyse help om net op Hom te fokus.

Outeur: Dr Kobus Kok