Ongesuurde brood in antieke Israel

Ongesuurde brood in antieke Israel – Coen Slabber

Vraag:

Susan Barnard vra:

Ek wil graag ‘n brood resep hê wat hulle in die Bybel se tyd gebruik het vir ongesuurde brood. Kan julle my dalk help asseblief.

Antwoord:

Coen Slabber antwoord:

Die stapelvoedsel van die ou Israeliete was brood. Dit was so ‘n belangrike deel van elke maaltyd dat die Hebreeuse woord vir brood ook na voedsel in die algemeen kan verwys. Om die belang van brood verder te beklemtoon, het Bybelse Hebreeus ten minste twaalf verskillende woorde vir brood. Brood is by feitlik elke maaltyd geëet en het in tussen 50 en 70% van die gewone mense se kalorie inname  voorsien.

 

Die Israeliete het veral koring, gars en soms sorghum verbou. Dit is gewoonlik in die vorm van ‘n platbrood of roosterkoeke gemaak. Fyn gemaalde meel was ‘n luukse wat net die rykes kon bekostig. Gars was die gewildste graansoort in die antieke Midde-Ooste. Gars word vroeër as koring ryp en is ook meer bestand teen droogtetoestande. Ons lees dat Jesus die seuntjie se vyf garsbroodjies vermeerder het om 5 000 mans en hulle gesinne te voed (Johannes 6:9 – 13).

 

Die hele proses van brood maak, is begin deur die graan te dors. Die primitiefste manier was om die are met die hand uit te vryf – iets wat Jesus se dissipels gedoen het (Lukas 6:1). Later is die gerwe met stokke geslaan of osse is oor die gerwe gejaag om die korrels van die kaf te skei.

 

Daarna is die graangewas gemaal.’n Harde klip is gebruik om die koring op die meulsteen te maal. Later is ‘n stamper en vysel gebruik.  Hier is ‘n voorbeeld van so ‘n meulsteen.

 

 brood

 

Hierdie was ‘n moeilike en tydrowende proses. Elke huis het sy eie graan gestoor. Dit word bereken dat omtrent drie uur elke dag nodig was om genoeg meel vir ‘n gesin van vyf  te maal. Na die meel verkry is, is dit met water gemeng en geknie in ‘n groot bak. Gewoonlik is suurdeeg gebruik. Die suurdeeg is verkry deur  ‘n klein deeltjie van die deeg wat vir die vorige baksel gebruik is, te hou.

 

Hierdie deeg is op verskillende maniere gebak. Aanvanklik is die deeg direk op warm klippe geplaas. Later is ‘n bakpan of bakplaat gemaak van klei of yster gebruik (Levitikus 7:9).

 

Die eindresultaat van al hierdie metodes was dun brode. Daarom die gebruik om brood te breek en nie te sny nie. Hierdie brood is ook gebruik om in souse te doop. Soms is die brood in ‘n wynsous gedoop (Rut 2:14); soms is dit in olyfolie gedoop.  Brood is soms verryk deur  boontjies, lensies, sorghum en spelt by te voeg (Esegiël 4:9).

 

Wat dan nou van ongesuurde brood? Ons lees van die gebruik van ongesuurde brood by die instelling van die paasfees (Eksodus 12). Reeds op die eerste dag van die fees moes alle suurdeeg uit die huis verwyder word. Vir sewe dae lank kon net ongesuurde brood geëet word. Hierdie was ‘n opdrag van God en indien iemand dit nie gehoorsaam nie, moes hy van Israel afgesny word. Die eet van ongesuurde brood hang dikwels saam met Joodse godsdiensfeeste.

 

Hoekom ongesuurde brood? In die Bybel word suurdeeg gewoonlik met die bose verbind. Die gisting wat plaasvind simboliseer verrotting of ontbinding. Jesus waarsku sy dissipels: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs (Matteus 16:6). Paulus gebruik ook die beeld van suurdeeg in ‘n negatiewe betekenis: Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? Verwyder dan die ou suurdeeg dat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees … Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid (1 Korintiërs 5:6 – 8). Daar is egter ‘n uitsondering op hierdie reël. Jesus vertel ‘n gelykenis en sê dat die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was (Matteus 13:33).

 

Ongelukkig kon ek geen resep kry nie.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber