ONS ATENE

 

“None are more unjust in their judgments of others than those who have a high opinion of themselves.” C. H. Spurgeon

 

Ons Atene

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Paulus was toegerus om die goeie nuus aan die Ateners te bring. Maar hoe lyk ons eie Atene? Ons moet ons eie omgewing verstaan om die goeie nuus aangaande Jesus doeltreffend te verkondig. Ons het ons eie filosofie-skole. Die Christelike geloof het die Westerse kultuur beïnvloed; Christene was op die voorpunt om boeke te bewaar en opvoeding te bevorder. Vandag sit ons egter met ‘n dilemma: Westerse Christene is toenemend ongeletterd ten opsigte van die Bybel. Ons leef in ‘n gemeenskap waarin ons amusing ourselves to death (Neil Postman). Ons is so vasgevang in vermaak en tegnologie dat diep denke geleidelik wegkwynhet.

Daarom moet ons Paulus se toespraak in Atene bestudeer as ‘n model vir Christene. Ons moet bewus wees van die leidende idees wat ons kultuur vorm sodat ons hulle met die mag en waarheid van die evangelie kan betrek. Paulus was nie onkundig oor die dominante idees van sy tyd nie – ons moet ook nie wees nie. Paulus bevorder robuuste, volwasse denke.

 

Baie Christene is suspisieus oor filosofie en ander akademiese dissiplines as sou hulle teen God se genade en die werking van sy Gees wees. Paulus het die filosofiese en kulturele hulpbronne doeltreffend gebruik om brûe vir die evangelie te bou. Hoe kan ons vandag dieselfde doen?

Paulus was geen vreemdeling vir filosofie nie – Soïsisme het immers in Paulus se tuisdorp – Tarsus – ontstaan. Daarom kon Paulus in Atene beide die sterk- en swakpunte van Stoïsisme en Epikurisme blootlê. Paulus gebruik filosofiese instrumente waar dit ook al moontlik is, maar alles binne ‘n soliede Bybelse raamwerk.

Om die Bybel as ‘n gesagvolle heilige boek in die openbaar aan te haal, kan vandag teenproduktief wees. Mense aanvaar net nie meer die gesag van die Bybel nie – hoekom die Bybel en nie die Koran of die Boek van Mormon nie? God het Homself spesifiek deur die Bybel en Jesus Christus geopenbaar, maar Hy het Homself ook in die algemeen geopenbaar.

Ons moet, soos Paulus, Bybelse waarhede ook indirek bevestig – deur van filosofiese, wetenskaplike, geskiedkundige en kulturele insigte wat die evangelie versterk, gebruik te maak.

Volgende keer gaan ons na Paulus se toesprake in Handelinge kyk.