1

Ons eie Areopagus

 

“…when there’s something in the Word of God that I don’t like, the problem is not with the Word of God, it’s with me.” — R.C. Sproul

 

Ons eie Areopagus

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Watter lesse kan ons uit Paulus se toespraak leer? Hoe kan ons ons eie Ateners bereik? Ons kan ook filosofiese en wetenskaplike hulpbronne gebruik wat uit God se algemene openbaring voortspruit. Daar is egter ‘n paar ander oorwegings gebou op Paulus se benadering.

  • Onderskei tussen persone en geloof

Toe Paulus al die afgodsbeelde in Atene sien, was hy baie verontwaardig. Hy val nie sommer weg deur die Ateners te kritiseer nie. Hy was afgemete, vol respek en innemend. Sy hele toespraak was respekvol al het hy die filosowe gekritiseer. Paulus kon tussen persone gemaak na die beeld van God en dit wat hulle geglo het, onderskei. Baie mense glo as jy nie dit wat hulle glo aanvaar nie, aanvaar jy hulle ook nie. Ons moet leer om welwillend saam te stem en te verskil. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly (Efesiërs 4:15).

  • Hoe beskryf ons God

Op die Areopagus was daar gereeld advokate wat die saak van spesifieke gode gestel het. Paulus bied nie ‘n nuwe God aan nie. Hy gebruik die “onbekende god” en bou daarop uit. Ons moet ook leer om oor die “onbekende God” in ons hedendaagse kultuur te praat. Baie mense is tot ‘n mindere of meerdere mate aan die Christelike geloof blootgestel. Maar hulle is doodtevrede met ‘n godsdiens wat geen persoonlike aansprake op hulle maak nie. Ons kan iets van hierdie God bevestig in die lig van die heelal wat Hy gemaak het. Die boosheid in die wêreld herinner ons dat alles nie reg is nie en dat ons bystand van buite nodig het om dit reg te stel. In Atene wys Paulus na Christus as God se agent in hierdie wêreld om die orde te herstel; om vergifnis aan te bied as ons berou het; om hoop te gee selfs anderkant die graf.

  • Tekens van oortreffing/Transendensie

Paulus leer ons om alle tekens of indikatore van transendensie te gebruik. Hy praat van mense wat rondtas om God te vind. Intellektuele en teologiese argumente is belangrik, maar ook sekere praktiese oorwegings soos diep menslike behoeftes en verlangens: die soeke na sekuriteit en betekenis, die vrees vir die dood, die verlange na geregtigheid, ens. Hierdie eienskappe van ons lewe laat ons na iets meer verlang – iets wat geen aardse ding kan bevredig nie.

  • Evangelisasie en apologetiek as ‘n proses

Ons dink dikwels aan evangelisasie as ‘n gebeurtenis. Daarom gebruik ons dikwels ‘n een-grootte-pas-almal. Dit skep dikwels hindernisse in plaas van brûe bou. Ons moet baie versigtig dink oor die toegangspunte vir die evangelie. Dit kan ons net doen as ons ons gehoor beter verstaan. Kyk net hoe verskil Paulus se toesprake aan Jode en dié aan heidene. Dikwels word ‘n hele reeks van klein treetjies benodig. ‘n Kort gesprek of preek is nie genoeg om ongeloof te verdryf nie. Waar ons begin, hang af van waar die persoon is.

Afgesien van die proses moet Christene geloofwaardigheid en vertroue bou. Paulus het begin deur eers rond te loop en te luister om sy feite bymekaar te kry. Dit is noodsaaklik om die boodskap wat jy wil oordra in konteks te plaas. Gelowiges moet ‘n veilige plek vir skeptici en ongelowiges wat die waarheid ontken, wees. Geloofwaardigheid is die gevolg van goeie waarneming en luister. Christene praat dikwels te gou en luister maar sleg. Ons is gereed met ons antwoorde voor ons weet wat die persoon se spesifieke vraag is. As ons goed luister verdien ons die voorreg om na geluister te word. Om goed te luister beteken nie dat ons op elke punt moet antwoord nie.

  • Daag die afgode van ons dag uit

Paulus was bewus van die Jode se sterk afkeer van afgode en heidense invloede. Paulus was nie bang om die Ateners se afgode en vals teologie uit te daag nie. Om na Jesus Christus se opstanding te verwys, het hy besef hy gaan geen simpatie kry nie. Hy het nie gehuiwer om die tekortkominge van hulle gode uit te wys nie. Hy bevestig ook dat Jesus Christus en nie die keiser God se agent op aarde is nie. Afgodery is as ons van God se goeie gawes God se plaasvervangers maak. Vandag se afgode sluit in seksuele vryheid, politiek, geld, tegnologie, verhoudings waarop ons al ons hoop plaas, ens.

  • Jesus: Die hoogtepunt van die geskiedenis en die vervulling van ons hoogste ideale

Paulus sluit sy toespraak af deur na Jesus te verwys as God se agent in die wêreld. Hy beklemtoon dag die historiese, opgestane Jesus die hoogtepunt van God se openbaring aan die mens is.

Paulus se toespraak in Atene is ‘n ryk hulpbron wanneer ons met hedendaagse Ateners praat. Pauks se toespraak se kern is die evangelie; hy plaas die toespraak in die konteks van die Ateners.