Ons word oud – Die laaste rondte

 As I grow to understand life less and less, I learn to love it more and more. ”— Jules Renard

Ons word oud – Die laaste rondte

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

Die Bybelse verwagting en beloftes van rypheid, groei en diens aan ander wat voortgaan soos ons met God ouer word, is die beeld van die laaste rondte waarmee ons die wedloop moet afsluit. As ons liggaamlike kragte dit toelaat,  moet ons steeds die laaste rondte van ons Christelike lewe  hardloop – so vinnig as wat ons kan.

Live each day as if thy last!  Hoe ouer ons word hoe meer kom ons onder die indruk van hierdie wysheid. Ons moet dit ter harte neem. Uit hierdie gesegde is drie dinge duidelik:

 

  • Leef vir God een dag op ‘n slag.

Maak nie saak watter langtermyn planne ons het nie ons moet die gewoonte aanleer om elke dag se dinge vooraf te bepaal. Om God te verheerlik, moet ons voortdurende doel wees. Daarom moet ons nog ‘n gewoonte aanleer: aan die einde van elke dag  moet ons voor God vasstel hoe ver ons met ons plan gevorder het. Ook hoekom en hoe ons  ons plan moes aanpas om by veranderende omstandighede en nuwe insigte aan te pas. Dit is belangrik dat ons dit doen soos ons die einde van ons lewens nader en daarmee saam die vooruitsig om aan God verslag te doen.

  • Leef in die huidige

Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Leef ons elke dag asof ons weet Jesus Christus is by ons teenwoordig? Die belang van Christus se teenwoordigheid word belangriker soos ons ouer word.  Om te droom en nostalgies te wees, is ongelukkige gewoontes. Dit lei net tot ontevredenheid en onrealisme. Soos alle slegte gewoontes versterk hulle hulle greep op ons. Met God se hulp moet ons hierdie gewoontes verbreek. Dit word al hoe meer noodsaaklik hoe ouer ons word. Om elke oomblik vasberade vorentoe te kyk, word toenemend ‘n groter faktor vir ons innerlike geestelike gesondheid.

  • Leef sodat jy gereed is om te gaan as Christus jou kom haal

In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is (Johannes 14:2 – 3). Hierdie belofte van Jesus aan sy elf getroue dissipels is ‘n belofte vir al sy getroue dissipels van alle tye. Die ondervinding van dood verskil van die een persoon na die ander. Party van ons is by ons volle bewussyn; party sterf in ‘n koma of terwyl hulle slaap; party sterf skielik in ‘n ongeluk. Ons weet nie hoe ons gaan sterf nie en daarom moet ons te alle tye daarvoor gereed wees.

Wat behels dit? Meer as net om ‘n testament op te stel of om opdragte vir jou begrafnis te gee, ens. Die belangrikste is Jesus Christus wat ons sal kom haal om ons van hierdie wêreld na die volgende een te neem. Op een of ander stadium gaan Hy ook ons regter wees. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Korintiërs 5:10). Om nou deur geloof in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te kom, is dringend. Dit verdryf alle vrees vir ons toekoms. Die vooruitsig om met Hom oor te gaan na ‘n wêreld waar ons Hom voortdurend sal sien soos Hy is en om voortdurend by Hom te wees, is nou ‘n aantreklike vooruitsig – nie iets wat ons bang moet maak nie.

In die volgende blog gaan ons kyk na die verkeerde pad wat die wêreld vir ou mense aanbeveel.