Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene (1)

 

“The man who desires to know, knows more than the man who knows everything already.” ~ Joodse Spreekwoord

Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene  (1)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae.

Die vraag wat ons uit hierdie twee ontmoetings gaan antwoord, is: Wat is verkeerd met die wêreld soos dit tans is? Voordat ons voorstelle kan maak oor hoe om die wêreld ‘n beter plek te maak, moet ons eers vasstel wat verkeerd is – diagnose voor voorskrif. In Johannes 3 ontmoet ons vir Nikodemus – ‘n lid van die binnekring, leier in die samelewing en die kerk; in  Johannes 4 ontmoet ons die Samaritaanse vrou – ‘n uitgeworpene, ‘n sosiale en morele buitestander.

 

Oppervlakkig gesien is hulle totaal verskillend; die omstandighede verskil ook. Johannes plaas die ontmoetings naby aan mekaar so asof hy wil hê ons moet die twee saam oorweeg. As dit so is, is die vraag: so verskillend as wat hulle is, wat het hulle in gemeen? As hierdie twee mense iets in gemeen het, het ons almal iets in gemeen.

Ons kan nie oor hierdie twee ontmoetings praat sonder om oor sonde te praat nie. Maar mense hou nie van hierdie woord nie. Ongelukkig het Christene dikwels hierdie woord gebruik om mense wat nie Christene is nie, weg te stoot. Ons het op ons troontjie gaan sit en almal “laer” as ons gekritiseer. Die Bybelse siening van sonde is egter meer radikaal en meer verreikend. Luister net na Paulus: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). Sodra ons sonde as ‘n wapen teen ander gebruik, het ons ‘n probleem. Dit is dan juis die punt van hierdie twee ontmoetings.

Ons gaan begin by die uitgeworpene: die Samaritaanse vrou in Johannes 4.