Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (3)

image_pdfimage_print

 

 “The main end of our lives is to serve God in the serving of men in the works of our callings.” William Perkins

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (3)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Uit Jesus se ontmoeting met Marta kry ons ‘n kykie in sy Godheid en mag – Jesus is God. Dit verduidelik nie alles wat Hy is nie, want die volgende oomblik sien Hy vir Maria en Jesus huil. ‘n Mens verwag tog nie dat as Jesus werklik God was Hy emosies sou ondervind nie. Wat ons hier sien is Jesus as God en Jesus as mens. Ten spyte van sy aanspraak dat Hy die opstanding en lewe is, reageer Hy op menslike wyse toe Hy Maria se hartseer sien.

 

Beteken dit dat Jesus 50% God en 50% mens is? Nee, Hy is 100% God en 100% mens. Daar is geen ander godsdiens wat so ‘n aanspraak maak nie. Ook ons sukkel om dit te glo. Jesus gee vir Marta wat ons sou noem die bediening van die waarheid, want dit was wat sy op daardie oomblik nodig gehad het. Hy sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Moenie wanhoop nie. Ek is hier en Ek is die opstanding en die lewe.” Vir Maria gee Hy die bediening van trane, want dit is wat sy die meeste nodig gehad het. Jesus is mens genoeg om haar hartseer met haar te deel.

Almal van ons het op verskillende tye in ons lewe een van hierdie bedienings nodig. Nie een van ons het die temperament of geduld of insig om aan al die mense die bediening te gee wat hulle op daardie spesifieke oomblik nodig het nie. Party van ons se gawe is om ander te vertroos; party van ons se gawe is om ander te onderrig. Jesus kan beide doen en weet ook wanneer ek wat nodig het.

Jesus word daarom as die Leeu, maar ook die Lam beskryf. Hy kan deur die swakste onder ons genader word. Teenoor die korruptes en magtiges is Hy vreesloos. Hy is teer, maar nie swak nie; Hy is streng sonder om skerp te wees; Hy is nederig, maar nie sonder vertroue nie; Hy is magtig, maar nie onsensitief nie. Jesus Christus is God wat mens geword het.

Daar bly nog een vraag oor: Hoekom het Jesus mens geword? Daarna gaan ons volgende keer kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...