Oorlog in die hemel … ellende op aarde

“The beginning and the end of all Christian leadership is to give your life for others.” – Henri Nouwen

Oorlog in die hemel … ellende op aarde

God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie (Jakobus 1:13). Die Satan kan nie vir God verlei nie – al probeer Hy ook hoe hard. Dit is in God se mag om die Satan enige tyd te vernietig. Die totale vernietiging van Satan word voorspel in die Bybel: Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profete ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid (Openbaring 20:10).

 

God laat die Satan se opstand vir ‘n beperkte tyd toe. Hoekom? Die presiese redes weet ons nie. God waarsku ons egter dat die stryd teen die Satan ernstig is. Openbaring 12 beskryf ‘n oorlog in die hemel. Migael en sy engele (God se engele) veg teen die Satan en sy engele. God se engele wen die oorlog. Die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi (Openbaring 12:9). Beteken dit die einde van die oorlog? Beslis nie. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het (Openbaring 12:12).

 

Wat kan ons hieruit aflei? Daar was ‘n groot oorlog in die hemel; die Satan het hierdie oorlog verloor en is uit die hemel gegooi; die Satan is nou op aarde en dit beteken ellende vir die mense, want die aarde is nou die slagveld.