Ouer mans

 

Take a saint, and put him into any condition, and he knows how to rejoice in the Lord. —Walter Cradock

 

Ouer mans

In Titus 2:1 – 6 praat Paulus oor alledaagse geloof. Let daarop dat hierdie ons reaksie op die evangelie is – nie ‘n manier om aanvaar te word nie. As gevolg van dit wat God vir ons gedoen het, sal ons lewens anders lyk.

 

Paulus begin by die ouer mans: Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees,  eerbaar, verstandig, gesond en vas in die geloof, liefde en volharding. Paulus verwys hier spesifiek na die versoekings vir diegene wat al reeds ‘n ent langs die lewenspad geloop het. Baie van die opdragte word later vir die ander ouderdomsgroepe herhaal, maar een kry ons net hier: volharding. Volharding is nie natuurlik vir mense nie, veral nie vir ouer mense nie. Ouer mans plaas hulle enjin in neutraal. Hulle het hulle geld gemaak; hulle is moeg; hulle voel dat hulle genoeg gedoen het; hulle kan nou aan hulleself dink – hulle stokperdjies, hulle belange. Hulle ignoreer diens aan ander.

 

Geen wonder ouer mans word knorrig en sinies nie. Hoekom word hulle so knorrig? Hulle fokus net op hulleself. Daarom sê Paulus: volhard. Al die ander opdragte wat hy aan die ouer mans gee, kan in die lig hiervan gelees word. Wees nugter en eerbaar – moenie net aan jou eie begeertes dink nie. Plaas hulle na die behoeftes van die kerk en die volgende geslag. Dit wat jy in die lewe bereik het behoort nie ‘n hoop geld te wees nie, maar om te sien dat die koninkryk van God groei selfs al is jy lankal nie meer daar nie. Moenie jou laaste jare gee aan gholf of visvang nie, maar vir God se koninkryk.

 

Vas in die geloof – moenie sinies word nie, moenie ophou glo nie al lyk dit vir jou of die wêreld agteruitgaan. God se beloftes vir die wêreld geld steeds; Hy het ‘n plan vir hierdie wêreld en Hy sal dit deurvoer.

 

Wees nugter –  moenie jou aan alkohol oorgee nie. Daar is nog ‘n belofte wat vir jou voorlê. Daarom moenie optree asof jou beste dae agter jou lê nie. Al lê jy vasgekluister in ‘n bed kan jy nog steeds bid vir God se koninkryk.

 

God se beloftes het nie ‘n vervaldatum nie – bly glo aan hulle. Kyk maar weer na die voorbeeld van Kaleb. Hy was al ouer as 80 jaar toe hy die bergwêreld ingeneem en dit syne gemaak het. Ons het nog meer rede as Kaleb om te volhard. Hy het gesien hoe God die Israeliete deur die Rietsee gelei het, maar ons weet dat God vir Jesus uit die dood opgewek het.

 

Ouer mans: die kerke het julle nodig. Julle moet nog dien; julle moet as mentors vir jonger mense optree – die kerke het die wysheid en ondervinding wat God aan ons gegee het nodig.

 

Julle moet sterk klaarmaak; eindig die reis met volharding.

“It is not the going out of port, but the coming in, that determines the success of a voyage.”

Henry Ward Beecher

[Ek kan hierdie blog skryf, want ek is self ‘n ouer man.]