Die Bybel gee nie een standaard raamwerk nie.

 

Jesus didn’t call the best leaders he could find. Jesus called the best followers he could find, and most often these were the least and the little – Leonard Sweet

 

Die Bybel gee nie een standaard raamwerk nie.

In Galasiërs 1:8 veroordeel Paulus almal wat ‘n ander evangelie verkondig as die evangelie wat hy verkondig. In 1 Korintiërs 15:11 wys hy daarop dat die evangelie wat hy verkondig dieselfde is as dié wat Petrus, Johannes en die ander verkondig. Dit beteken daar moes tog konsensus oor die inhoud van die evangelie gewees het. Tog beskrywe die skrywers van die Bybel die evangelie op betekenisvol verskillende maniere. As die sinoptici oor die evangelie skryf, gebruik hulle die konsep van “die Koninkryk.´ In Johannes se evangelie is hierdie konsep feitlik afwesig – hy gebruik eerder die konsep die ewige lewe.  Vergelyk ons die gedeeltes sien ons dat om God se koninkryk in te gaan en om die ewige lewe te ontvang feitlik dieselfde ding is.

 

Maar die ewige lewe en die koninkryk is nie sinonieme nie. Die sinoptici gebruik dikwels die koninkryk, want hulle oriëntasie is die toekoms. Die twee terme dra verskillende aspekte van God se verlossing oor. Dit lyk of Johannes die individu en die innerlike aspekte van in die koninkryk wees, beklemtoon. Hy wys daarop dat die koninkryk nie ‘n wêreldse, sosiopolitieke orde is nie (18:36). As die sinoptici van die koninkryk praat, is daar ‘n meer eksterne en korporatiewe klem. Hulle beskryf die sosiale en gedragsveranderinge wat die evangelie teweeg bring. Die koninkryk van God het ‘n korporatiewe vorm en dit het belangrike implikasies vir hoe ons leef. Johannes en die sinoptici beskryf aanvullende aspekte van die evangelie wat beide die individuele en korporatiewe dimensies van ons verlossing beklemtoon.

 

Kyk ons na Paulus kry ons weer ‘n ander beklemtoning. Hy fokus veral op die konsep van vryspraak. Daar is geen teenstrydighede tussen die verskillende skrywes nie. Die hart van die teologie van al die skrywers is verlossing deur plaasvervanging.

 

 

 

 

 

 




Die Here verlos Israel deur sy dienaar Kores (44:24-28) – Francois Malan

Die volgende hoofstukke skilder die Here se werk in die politiek van Kores, sy oproep tot Israel en deur sy nuwe skepping word woestyne vrugbare grond. Israel word bevry deur die Here se welwillende dienaar Kores (44:24-45:13)

Die vorige gedeeltes (hoofstukke 40-44:23) se fokus was op die Here se mag, getrouheid en onvergelykbaarheid, sodat die ballinge hulle God kon sien (40:9 Kyk! julle God!). Hy was deur die Babiloniese ideologie uitgeskakel as ‘n faktor in die wêreld. Daarom was die fokus op die werklikheid en lewende teenwoordigheid van die Here in die verlossing van Israel en die omverwerping van Babel.

Hier kom nou ‘n nuwe fokus in die ballingskap-poësie, nl. op die menslike agent van die Here, die oorwinnaar wat die Here uit die Ooste laat opstaan het (41:2), die man uit die noorde wat die regeerders soos klei trap (41:25), wie se naam nog nie genoem is nie. Kores word vir die eerste maal by die naam genoem in 44:28. Israel se teenstand teen hierdie heiden wat die Here as sy dienaar aanstel, word in 45:9-11 deur die Here streng veroordeel. Die heerskappy van die Here word hier ten nouste met die verloop van die geskiedenis van die nasies verbind.

44:24-28 Die grootheid en sekerheid van die Here as Israel se Losser, wat vir Kores aanstel

44:24  Die profeet haal die Here aan as Israel se Losser (41:14), wat besig is om aan Israel te vorm van die moederskoot af – sedert die ontstaan van hulle as sy volk (44:2) ook met die jarelange ballingskap vorm Hy aan  hulle om sy beeld te vertoon (Gen 1:27), soos Jesus, die beeld van God is (2 Kor 4:4; Kol 1:15; Joh 14:9), deur waarlik dienskneg te wees (Mark 10:45; 8:34).

Die Here stel Homself voor as ‘Ek is die Here (Jahweh, die persoonlike aktief teenwoordige, die Ek is, van Gen 3:14) die Maker van  alles: wat alleen die hemele oopgespan het, wat die aarde uit my eie en op my eie uitgeprei het  (42:5 as Skepper).

Israel het nie verwag die Here gaan hulle verlos deur die leërs van die Perse wat Babel ingeneem het nie, maar het gehoop die Here sal uit hulle die nuwe heersers van ‘n koninkryk maak. Die Here verlos hulle egter op sy eie wyse, juis om van hulle sy dienaars te maak. Hy heers oor die ganse skepping, en kan gebruik wie Hy wil om sy wil uit te voer.

44:25 Die Babiloniërs het ‘n ryke verskeidenheid van waarsê-kunste gehad (vgl. 47:9-10; 12-13) soos om te kyk na die toestand van die offerskaap se lewer (hepatikon), die vlug van voëls, ens. (Die Here) wat toekomsvoorspellers aan die kaak stel (letterlik: wat die tekens van die leuenaars/liggaamsdele tot niet maak) – die voorspellers word uitgewys as leuenversinners.

En die waarsêers maak Hy belaglik/bewys Hy as dwaas – die teendeel van wat hulle voorspel, gebeur.

Die wyses laat Hy agtertoe omdraai /weerlê – want Hy lei die geskiedenis soos Hy wil en nie volgens hulle voorspellings, wat nie uitkom soos hulle dit uitgestippel het nie.

En hulle kennis maak Hy tot dwaasheid  (sakal; vgl. 1 Kor 1:25) – Die Babiloniërs het baie studie en arbeid gewy aan toekomsvoorspelling, met uitgebreide tabelle en handboeke waarin alle denkbare verskynsels opgeteken is met hulle betekenis vir die toekoms (vgl. Dan 1:20; 2:2; 5:7). Die Here maak dit alles tot dwaasheid (vgl. Manasse se afgodediens in 2 Kon 21:1-6 waaraan die Here hulle oorgee om daarmee in Babel voort te gaan).

44:26 Daarenteen vervul die Here die woord van sy dienaar en voer die raadgewing van sy boodskappers uit, die goeie tyding wat sy profete in 40:1-9 uitgeroep het, want dit kom van Hom af.  Hy het gesê Jerusalem sal weer bewoon word, die stede van Juda weer opgebou word, want Hy gaan self hulle bouvalle weer opbou.

44:27 Soos die Here sy volk op droë grond deur die Rietsee en die Jordaan gelei het, so sal Hy hulle o.a. deur die groot waters van die Eufraatrivier  en sy kanale veilig terug lei na die land wat Hy beloof het aan Abraham, Isak en Jakob. Geen ander leër kon die kanaal water om die stad Babel drooglê nie, maar Kores het dit gedoen en in die nag van 11 Oktober 539 v.C. die stad Babel ingeneem (Dan 5:30).

44:28 Dit alles gaan die Here deur sy dienaar Kores doen, die dienaar van die Here wat die Here se wil gaan uitvoer (42:1-4), die oorwinnaar wat Hy uit die ooste laat opstaan het (41:2), die man uit die noorde wat regeerders soos klei gaan trap (41:25), wat die Here om Israel se ontwil teen Babel gestuur het (43:14). Hier hoor ons vir die eerste keer Kores se naam (in Persies Koeroesj; in Latyn Cyrus, in Grieks Kuros; in Hebreeus Koresj). Die Here wat Homself in 44:24 bekendgestel het, en al die dinge gaan doen wat in 44:25-27 gesê is. het Kores as Heerser oor die volke aangestel (45:1) om sy wil uit te voer (letterlik: al my vreugde te vervul – aan hom dra die Here dit op om Jerusalem en die tempel weer op te bou (vgl. vir die uitvoering daarvan in Esra 1:1-11). Die onderwerping van Babel en die hele uitgestrekte ryk van Babel tot in Egipte is die losprys wat die Here betaal vir sy dienaar Israel se terugkeer en herstel. Dit behels egter ‘n hele herrangskikking van die hele bekende wêreld ter wille van Israel se terugkeer.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Wat/Wie sal dinge regstel in ons gebroke wêreld?

 

Are you too bad to receive grace? How could you be too bad to receive what is for the bad? – David Powlison

 

Wat/Wie sal dinge regstel in ons gebroke wêreld?

Christus. Christus stel dinge reg deur sy menswording. God het meer vir ons gedoen as om net inligting oor te dra. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14). God het na die wêreld gekyk en sy verlorenheid gesien en Hy het die mense bejammer. Daaom skryf Hy Homself in die geskiedenis van die mens in – as die hoofkarakter. Die seun van God kom in die wêreld as ‘n mens – Jesus Christus.

 

Die tweede manier waarop Jesus dinge regstel is deur sy plaasvervanging. As gevolg van die mens se skuld en veroordeling kan God nie sommer ons sonde ignoreer nie. God kan nie vergewe sonder koste nie. Jesus Christus het ‘n volmaakte lewe geleef – die enigste mens wat dit ooit kon doen. Aan die einde van sy lewe verdien Hy seën en aanvaarding. Aan die einde van ons lewens  verdien ons verwerping en veroordeling, want almal van ons leef in sonde. Toe die tyd aanbreek, het Jesus in ons plek aan die kruis verwerping en veroordeling – wat ons verdien – ontvang. As ons in Hom glo kan ons die seën en aanvaarding wat Hy verdien, ontvang.

 

Die derde manier waarop Jesus dinge regstel is die uiteindelike herstel van alles wat met die wêreld verkeerd geloop het. Die eerste keer toe Jesus na die wêreld gekom het, het Hy in swakheid gekom en vir ons sondes gely. Die tweede keer wat Hy kom, sal Hy die wêreld oordeel. Hy maak ‘n finale einde aan lyding, boosheid, agteruitgang en dood. Sy finale doel is die hernuwing en herstel van ons siele en liggame.

 

 




Die evangelie het hoofstukke

 

While others are congratulating themselves, I have to sit humbly at the foot of the cross and marvel that I’m saved at all. –C.H. Spurgeon

 

Die evangelie het hoofstukke

Die Bybel is goeie nuus. Eenvoudig. Maar goeie nuus van wat? Hoekom is dit goeie nuus? As ons hierdie vrae vra, sien ons die rykdom en ingewikkeldheid van die evangelie.

 

Wat is die evangelie? Daar is twee basiese maniere om dit te antwoord.

  1. Hoe kom ek in die regte verhouding met God. Eintlik antwoord ons hier die vraag: Wat moet ek doen om gered te word? Hierdie is ‘n boodskap oor individue. Die raamwerk vir hierdie antwoord is: Wie is God; wat is sonde; wie is Christus; wat het Hy gedoen; wat is geloof?
  2. Dra die goeie nuus van wat God in die geskiedenis deur die verlossing deur Jesus, sal bereik, oor. Eintlik antwoord ons hier die vraag: Watter hoop is daar vir die wêreld? Die raamwerk vir hierdie antwoord is: Waar kom die wêreld vandaan; wat het met die wêreld verkeerd gegaan; wat moet gebeur vir die wêreld om herstel te word? Dit is ‘n boodskap oor die wêreld. Dit gaan dus oor skepping, sondeval, verlossing en herstel.

 

Daar is nie ‘n enkele regte manier om die evangelie aan te bied nie. Beide benaderings moet gebruik word. Die Bybelse verhaal van kosmiese verlossing is ‘n belangrike agtergrond om die individu te help om sy verhouding met God te herstel. Daarom is dit beter om die twee stories inmekaar te weef. Ons kry dus ‘n verhaal met hoofstukke  eerder as net ‘n lys voorstelle.

 

Hoe dra ons die evangelie aan iemand oor? Vertel ‘n storie met hoofstukke. In die Bybel is die evangelie ‘n verklaring wat Jesus Christus gedoen het om ons te red. Hoofstuk 1 (God en die skepping), 2 (die sondeval en sonde) en 4 (geloof) is streng gesproke nie die evangelie nie. Hulle is die proloog en die epiloog. Die goeie nuus het drie basiese elemente:

  • Die identiteit van Jesus Christus as die Seun van God en die Messias
  • Die dood van Jesus vir sonde en vryspraak
  • Die vestiging van die heerskappy en die nuwe skepping.

 

Sonde het twee aaklige gevolge:

  • Ons kan in God glo of nie glo nie, maar ons maak Hom nie ons grootste hoop, goed en liefde nie. Ons probeer beheer oor ons lewens behou deur vir ander dinge te leef – geld, beroep, gesin, roem, seks, mag, gemak, sosiale en politieke sake, ens. Die gevolg is altyd ‘n verlies aan beheer – ‘n vorm van slawerny. Almal moet vir iets lewe en as dit nie God is nie, word ons gedryf deur die ding wat dit is – hy verslind ons lewendig.
  • Ons ly nie net as gevolg van sonde nie, ons is skuldig. Om ‘n goeie lewe te leef, maar dan die verhouding met Hom wat ons gemaak het en aan wie ons alles skuld te verwaarloos, is verkeerd.