Paulus en evangelisasie (2)

 

Fault-finding is the easiest of all tasks – J. C. Ryle

Paulus en evangelisasie (2)

Watter raamwerk gebruik Paulus? Daar is drie waarnemings vooraf:

Ons lees Paulus se toespraak in drie minute, maar toesprake voor die Areopagus was beslis nie kort nie. Hierdie is ‘n erg gekondenseerde verslag van wat Paulus gesê het. Paulus het waarskynlik op elke punt in hierdie verslag verder uitgebrei.

 

Daar is heelwat ooreenkomste tussen hierdie verslag en Paulus se brief aan die Romeine.

Die woorde wat Paulus hier gebruik is baie interessant – dinge wat ons in die Stoïsynse kringe sou verwag. Maar in elke geval pas hy hulle aan sodat hulle die boodskap wat hy wou oordra, oordra.

Kom ons kyk na die raamwerk wat Paulus gebruik:

Een: Hy begin by God wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het (17:24). Dit beteken dat die Skepper anders as die skepsels is. Dit impliseer ook dat die mens aanspreeklik is – ons skuld ons Skepper alles. Om onsself in die middelpunt van die skepping te plaas, is die kern van alle sonde. Om dinge wat gemaak is in plaas van die Skepper te aanbid, is die kern van afgodery.

Twee: Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie (17:24). Die oppermag van God staan uit teen die gode aan wie ‘n spesifieke domein gekoppel is (byvoorbeeld Neptunus oor die see). Die God van die Bybel is oppermagtig oor alles. Daarom kan ons Hom nie tot ‘n gebied beperk nie – nie eers tot ‘n tempel nie. God kan nie tot tempels ingeperk word nie. Hy is groter as dit.

Drie: Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie (17:25). Hy het ons nie nodig nie; Hy is totaal onafhanklik van die skepping; Hy het ons nie nodig vir sy bestaan nie.

Vierde: Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee (17:25). Dit stroop ons van ons sogenaamde onafhanklikheid.

Vyfde:  Uit een mens het Hy al die nasies gemaak (17:26). As die sonde en dood deur een mens in die mensdom gekom het sodat die beslissende optrede van ‘n ander Man nodig was om dit om te keer, was dit belangrik dat Paulus sy antropologie moes regkry.

Ses:  God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind (17:27). Iewers het iets verkeerd geloop.

Sewe: Hy is nie ver van enigeen van ons af nie (17:27). Paulus sal nie toelaat dat mense dink dat God onverskillig is nie – dat Hy nie omgee nie. Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (17:28).

Ag: Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding (17:29). Afgodery is verwerplik.

Nege: Hy kom na vore met ‘n sekere siening van tyd. Paulus vestig hier ‘n liniêre raamwerk: die skepping is op ‘n vaste punt: Want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het (17:31).

Hierdie is die raamwerk wat Paulus gevestig het.

Volgende keer gee ons aandag aan die ononderhandelbare evangelie wat Paulus verkondig het.