Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:3-4) – Francois Malan

image_pdfimage_print

2:3 ‘deur nie iets uit selfsug of ydelheid (te doen) nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;’

Eenheid in die gemeente is onmoontlik as elkeen net vir homself lewe. Daarom beklemtoon Paulus in verse 3-4 sekere
optredes en houdings wat prysgegee moet word, sowel as dié wat moet voortgaan en ontwikkel in die gemeente. Die
eerste strofe het nie ’n werkwoord nie, en moet bygedink word.

‘selfsug’ (eritheía selfsugtige ambisie, of wedywering soos sommige in Rome, Fil 1:15) Dit is ’n gegriefdheid gebore
uit jaloesie wat wedywer impliseer. Teenoor ’n mede-mens mag ek nie selfsugtig of jaloers wees nie – Galasiërs 6:2 is
dubbelsinnig: ‘dra mekaar se laste’ – nie selfsugtig wees nie. Die woorde kan ook beteken: verdra mekaar se
voortreflikhede, deur nie jaloers op mekaar wees nie.

Ydelheid’ (kenodoksía leë roem/trots of selfsugtige ambisie). Ek moet myself nie goed voordoen terwyl ek dit nie is nie
– in Romeine 3:12 haal Paulus Psalm 14:1-3 en Ps 53:2-4 aan: ‘Daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie.’
Ek moenie dink my idee of opinie is altyd reg, terwyl dit moontlik verkeerd of oningelig kan wees nie. Die gelowige
weet hy is deur Jesus geregverdig voor God maar bly sondaar, tegelyk regverdig en sondaar, ‘simul justus et peccator’
soos Martin Luther Romeine 7:21-25 opgesom het.

‘nederigheid’ (tapeinofronsunê nederige houding, sonder arrogansie); ‘ag’ (hêgeomai) beskou, om ’n opinie te hê oor
mekaar; ’hoër’ (huperéchō) beter wees, van oortreffende of besondere waarde; die ander beskou as hoër as ek self.

Die een ding (Fil 1:27) waarop die gemeente moet konsentreer is nederigheid teenoor mekaar omdat hulle uit God se
genade lewe. Dit is waarin die gemeente moet vorder (1:25) en wat dit noodsaaklik maak dat Paulus nog in die lewe
moet bly (1:24). Die nederigheid wat Christus kom toon het, beteken dat jy die ander wat ook uit God se genade lewe,
hoër ag as jouself.

Wanneer jy na jou medemens kyk moet jy aan die een ding dink, aan God se genade waaruit jy en hulle lewe. Dit is God
se genade aan iemand waarvoor ons respek moet hê. Daardie respek vir God se werking in die ander gelowiges, is die
fondament van die gemeente. Paulus plaas my mede-broer en -suster as my meerdere, nie omdat hy of sy beter
kwaliteite het as ek nie, maar omdat God se genade uit hom tot my spreek. God het uit sy genade van my ’n broer of
suster van sy Seun gemaak. Deur die genade van God ontmoet ek Christus in my mede-broer en suster. Omdat Christus
in hulle woon, word ek geroep om hulle hoër te ag as myself en hulle in nederigheid en met vreugde te dien. Omdat
Christus in my woon, weet ek ook van my nietigheid en absolute afhanklikheid van God en sy genade. So kan ek as
afhanklike van God se genade die ander hoër ag as myself omdat ek Christus in hom/haar met dankbaarheid in liefde
dien (vgl. Matt 25:40: ‘Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers of susters van My gedoen het, het julle vir
My gedoen).

2:4 ‘deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.’

By die jaloerse selfsug en die ydelheid om jouself goed voor te doen (2:3) word ’n derde afbreker van gemeenskap in
die gemeente van Filippi genoem wat afgelê moet word: die selfsugtige eiebelang wat die belange van die ander uitsluit;
‘elkeen se eie belange’ letterlik: ‘die dinge van elkeen van julleself;’ ‘omsien’ skopéō, beteken ‘om aan te hou om fyn te
kyk en aandag te gee aan.’…

In Fil 2:21 sê Paulus van die meeste van sy medewerkers: Almal soek net hulle eie belang, nie díé van Jesus Christus
nie. Die belange van die ander is juis die belange van Christus wat ook in die ander woon. Vir die Korinthiërs wat gesê
het ‘alles is geoorloof’ en vleis geëet het wat aan die afgode geoffer is, wat die swakkes in die geloof laat struikel het,
het Paulus ook gesê: ‘Niemand moet sy eie belang soek nie, maar dié van ander’ (1 Kor 10:24). In 1 Kor 13:5 het
Paulus gesê: ‘die liefde jaag nie eiebelang na nie.’ Die najaag van eiebelang staan teenoor die wese van God van wie
hulle sê dat hulle Hom dien – 1 Johannes 4:7-8 sê: Geliefdes laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God en elkeen
wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.

‘maar ook na die belange van elkeen van die ander’ – die Griekse woord kai kan ‘en’ of ‘ook,’ beteken, soos meeste
vertalings, ook die 2020 vertaling, dit beskou. Dit impliseer dat jy ook na jou eie belange fyn moet omsien. Maar die
woord kai kan ook ’n saak beklemtoon, veral as dit ’n onverwagte verrassing aandui – ‘maar inderdaad na die belange
van elkeen van die ander. Die voorbeeld wat Paulus in hierdie paragraaf vir die Filippense voorhou om na te volg, is van
Jesus wat Homself geheel en al prysgegee het ter wille van ons sondaars, sonder om aan Homself te dink (Fil 2:5-8). Dit
moet die ingesteldheid van jou lewe wees teenoor ander mense en veral in die gemeente. Jesus het vir die skare en sy
dissipels gesê: ‘As iemand agter My wil aankom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy
lewe wil red , sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My en van die evangelie verloor, sal dit red’ (Mark
8:34-35; Matt 16:24-25; Luk 9:23-24).

Die paragraaf het begin met ’n verwysing na die bemoediging van Christus, die aanmoediging van die liefde, die
gemeenskap deur die Gees, die innige toegeneentheid en barmhartighede as die redes om na die belange van die ander
om te sien, en so die eenheid van die gemeente uit te lewe tot die eer van God ons Vader wat vir ons liefhet.

image_pdfimage_print

You may also like...