1

Paulus se evangelie – Francois Malan

Jan vra:

1Kor 15: 3 en 4 sê: Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is volgens die Skrifte;

Rom 2: 16 sê: in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.

11 Tim 2: 8 Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dood opgewek is, volgens my evangelie.

In 11 Petrus 3: 15 en 16 : En ag die lankmoedighied van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.

As Paulus dan van “volgens my evangelie” praat hoe sal mens te wete kom wat die inhoud van sy besondere evangelie is as dit sou verskil van wat die ander apostels soos Petrus, soos Johannes soos Jakobus van skryf?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

  1. Petrus verskil nie van Paulus nie!

Hy sê self Paulus is ’n geliefde broeder’ – mede-apostel – ‘wat met die wysheid wat (deur die Here) aan hom gegee is, aan julle geskryf het’ (indien 2 Petrus, soos 1 Petrus, aan die gemeentes in Klein-Asië, huidige Turkye, geskryf is, sou dit kon verwys na Paulus se briewe aan die Efesiërs en Kolossense, wat in Klein-Asië geleë was). ‘Hy spreek daarin oor dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan’ (nie vir Petrus nie, maar vir die ongeleerde en onvaste mense is dit swaar om te verstaan),  ‘netsoos die ander geskrifte’ (waarskynlik van die Ou Testamentiese geskrifte wat die Bybel van die eerste gemeentes was, nog voor die verskillende boeke in die Nuwe Testament beskikbaar was, en kan ook na Paulus se ander briewe soos 1&2 Korintiërs  55 n.C. en Romeine 55-56 n.C. verwys – in die Ou Testamentiese geskrifte en in Paulus se ander briewe is daar dinge wat vir ongeleerde en onvaste mense swaar is om te verstaan).

Paulus se briewe was die eerste geskrifte van die Nuwe Testament, geskryf tussen die jare 50 n.C. aan die Galasiërs en 1&2 Tessalonisense, tot 63 n.C. vir 2 Timoteus. Daarna is die eerste Evangelie eers geskryf, nl. Markus, wat  iewers tussen 60-65 n.C. geskryf is. Matteus  ná 70 n.C. en Lukas rondom 70 n.C., maak gebruik van Markus as een van hulle bronne. Die Johannes-Evangelie, wat ’n lang ontstaansgeskiedenis gehad het, is eers teen 80 n.C. klaar geskryf; die Johannese Briewe teen ongeveer 85 n.C. en Openbaring rondom 95 n.C.  2 Petrus se datum is onseker, maar is moontlik geskryf kort voor of kort ná  Petrus se dood in 64 n.C., moontlik vanuit Rome waar Paulus aan die begin van 64 n.C. doodgemaak is.

Met die opmerking: ‘wat met die wysheid wat aan hom gegee is’ erken Petrus dat die Here Paulus gebruik het om die betekenis van Jesus se kruisdood,  opstanding en hemelvaart vanuit sy kennis van die Ou Testament en sy ontmoeting met die verheerlikte Jesus op die Damaskuspad vir die kerk verduidelik het en die fondament vir ons geloof gelê het, naamlik Jesus Christus (1 Kor 3:10-11). Met die opmerking dat Paulus ‘ons geliefde broeder’ is, erken Petrus dat Paulus reg was om hom openlik teen te staan oor sy huigelary toe hy in 47 n.C. in Antiogië eers saam met die gelowiges uit die heidendom geëet het en toe die ander Jode kom, hom onttrek het (soos in Galasiërs 2:11-18 beskryf is).

Volgens 2 Petrus dryf die oningeligde en onvaste mense die spot met die gelowiges omdat die wederkoms nog nie plaasgevind het nie (3:3-4), en Petrus verduidelik dat die Here nog wag met die dag van die oordeel omdat Hy geduldig is en nie wil hê dat iemand verlore gaan nie; Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer (3:8-9). Gelowiges moet die Here se geduld met ons beskou as ’n geleentheid om gered te word (3:14-15). Oor die wederkoms van Christus en die wederkoms se uitstel het Paulus aan hulle en in al sy briewe geskryf (vgl. bv 1 Kor 15; 1 Tes 4:13-5:11; 2 Tes 1:3-2:12). In 2 Tes 2:1-2 waarsku Paulus ook dat gelowiges nie so verward moet raak of van stryk gebring word deur mense wat sy woorde verdraai asof die wederkoms al klaar plaasgevind het nie.

2 Petrus 3:16 sê oningeligte/onkundige en onstandvastige mense (wat kort-kort van gedagte verander) ‘verdraai’ met ’n verkeerde uitleg om by hulle begeertes te pas, die dinge wat Paulus geskryf het (3:3). Hulle twyfel aan die wederkoms en hulle sedelike bandeloosheid, wat hulle met hulle verkeerde uitleg goedpraat, lei tot hulle ondergang/verderf. Daarteenoor sê Petrus die gelowiges hulle daarvoor moet beywer om vlekkeloos en onberispelik en in vrede te lewe (3:14) en nie toe te gee aan hulle eie begeertes en wetteloos begin lewe nie. (3:17).  Hierin verskil Petrus se evangelie niks van Paulus s’n met sy vermanings in die lig van die wederkoms nie (bv. 1 Kor 15:32-34,58; 1 Tes 5:6-10; 2 Tes 1:11 se vermanings wat verbind word aan die verwagting van die wederkoms).

 

  1. Paulus se evangelie

Die uitdrukking ‘my evangelie’ in Rom 2:16 word gebruik in verband met die oordeel, wat Jode gereken het dat hulle veilig is omdat hulle die wet het en die nie-Jode nie, maar Paulus se evangelie is vir almal bedoel, Jode en heidene, wat in Jesus glo as hulle verlosser, en daarvolgens lewe;  2 Tim 2:8 gaan oor Paulus se evangelie oor Jesus se menswording en opwekking uit die dood, wat deur sommige geloën word.  Rom 16:25 gaan oor God se mag om ons te laat vasstaan volgens die evangelie van Jesus Christus wat Paulus verkondig; 1 Tim 1:8,11 sê dat die wet goed is wanneer iemand dit op die regte manier gebruik. Dit stem ooreen met die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige  God, wat aan Paulus toevertrou is.

Rom 1:1-4 begin met Paulus wat afgesonder is vir die evangelie van God, wat reeds tevore deur sy profete in die heilige Skrifte beloof is aangaande sy Seun wat deur sy opstanding uit die dood aangewys is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here, deur wie ek die genade van my apostelskap ontvang het…’

Die kern van Paulus se evangelie is, dat die evangelie die krag van God is tot verlossing vir elkeen wat glo, vir die Jood eerste, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat God se geregtigheid geheel en al op geloof (in Jesus Christus) berus, soos daar geskryf staan in Hab 2:4: Wie op grond van geloof geregverdig word, sal leef – geregverdig beteken dat die verhouding met God reggemaak is deurdat Jesus Christus, self God, die straf en smet van die sonde van die hele wêreld aan die kruis gedra het. Daarmee stem al die Nuwe Testamentiese skrywers saam, vgl. 2 Petr 1:1: Petrus skryf aan dié wat dieselfde kosbare  geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van ons God en die Verlosser, Jesus Christus.

Jakobus beklemtoon dade as regstelling van ’n lewenshouding wat nalaat om Christenskap in ons daaglikse optrede konkreet te maak – vgl. Jak 2:1 boefen julle geloof in ons Jesus Christus, die Here van heerlikheid …’ So is daar in elke brief van Paulis aanwysings oor hoe ons met dade ons Christenskap moet uitleef, vgl. Rom 12-15; feitlik elke hoofstuk in 1 Korintiërs het ’n opdrag om jou geloof met dade uit te leef; Gal 5-6; Ef 4-6, ens.

Feitlik in elke hoofstuk in die Johannes-Evangelie word beklemtoon dat Jesus God is en mens, vgl. 1:1-3: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was van die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie,’  1:14: En die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Dit teenoor die Jode wat nie Jesus se godheid wil aanvaar nie, en die Grieke nie sy mensheid nie. Die stryd word al dringender in die drie Johannes briewe aangespreek. vgl 1 Jn 2:18-26; 2 Jn 7-11; 3 Jn 9-10. So het Paulus reeds in 1 Kor 8:6 verklaar: Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus deur wie alles is en ons deur Hom.

Elkeen van die boeke van die Nuwe Testament dra dieselfde boodskap van verlossing deur Jesus Christus, elkeen met sy eie benadering, en omstandighede.  Elkeen moet spesifieke probleme van hulle tyd aanspreek, veral valse leringe wat ontstaan waarmee die geloof in Christus aangeval en verdraai word.

Skrywer:  Prof Francois Malan