Paulus se evangelie vir diegene wat opgevoed is

image_pdfimage_print

“The way to do a great deal is to keep on doing a little. The way to do nothing at all is to be continually resolving that you will do everything.” C. H. Spurgeon

 

Paulus se evangelie vir diegene wat opgevoed is

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Hier sien ons waar die evangelie van Jesus die Messias en die intellektuele en sosiale elite van Atene mekaar ontmoet. Hierdie heidene het min of geen kennis van wat die Jode geglo het nie. Hulle weet ook niks van die evangelie van Jesus Christus nie. Ons moenie te haastig wees om sommer in ‘n bespreking wat oor inhoud gaan, betrokke te raak nie.

Luister eers versigtig; vra ondersoekende vrae; moenie elke keer onderbreek as jy verskil nie. Paulus begin deur te sê: Ateners, ek sien dat julle in baie opsigte baie godsdienstig is. Ons kan ongelowiges prys vir hulle belangstelling in geestelike dinge.

Paulus is verontwaardig en hartseer oor hulle afgodsdiens. Hy hou egter die geestelike gesprek aan die gang deur hulle nie summier te veroordeel en sleg te sê nie. Paulus se toespraak is primêr teologies – hy fokus op die identiteit en aard van die een ware God eerder as op Jesus Christus, soos in meeste van sy ander toesprake. Hy verwys slegs indirek na Jesus as die Messias (17:31). Dit is Paulus se teologie – wie God is en hoe Hy in die geskiedenis gewerk het – wat hom met die Ateners laat bots het.

Paulus het nooit dit wat die Jode geglo het, verwerp nie. Hy het dit wel in ‘n nuwe raamwerk geplaas na sy ontmoeting met Jesus op die pad na Damaskus.

  • Een ware God. Die baie afgode sou Paulus ontstel het, want die Jode, en Christene, het geglo dat daar net een God is. Dit was fundamenteel in hulle geloof – ononderhandelbaar. Paulus het goed besef dat hierdie waarheid beslis nie deur sy gehoor aanvaar sou word nie. Daarom moet hy oor die een ware God praat. Ons kan nie vandag aanvaar dat as iemand van God/god praat dat hy bedoel wat ‘n Christene verstaan nie. As ons dus van God praat, moet ons soos Paulus dit verder omskrywe. Ons moet dus weet wie en wat God is. Ons moet eers alle karikature van God verwerp om plek te maak vir die ware God – ons moet eers die onkruid verwyder voor ons blomme plant. Paulus sê dit is onredelik om te dink dat jy God in ‘n beeld of tempel kan vasvang. Hierdie God praat van bekering, want eendag gaan Hy die wêreld oordeel. Die aanspraak dat daar net een God is, word vandag afgemaak as onverdraagsaamheid.
  • Paulus was jaloers op God. Ons lees dat hy baie verontwaardig geword het toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. God se jaloesie in ‘n algemene tema in die Skrif. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My (Eksodus 20:5).
  • God die Skepper van alle dinge. Hy het nie alleen alles gemaak nie, maar is steeds aktief aan die werk in sy skepping. Hy is die Skepper en Onderhouer van alles.
  • God die regter van die wêreld. As Skepper van alles het Hy gesag oor alles. Hy hou alle mense aanspreeklik vir hulle verhouding met Hom en ander mense. Die Grieke het geglo dat die lewe een voortgaande proses sonder doel of einde is. Paulus verwerp die idee – die Ateners is verantwoordelik vir hulle optrede en moet bekeer word.
  • Natuurlike openbaring. Die Jode het geglo dat die natuur van God se bestaan getuig. Die stem van die natuur word orals gehoor en herinner ons daaraan dat daar ‘n God wat goed en magtig is, is. Hierdie natuurlike openbaring is dikwels die eerste stap om mense so ver te kry om te erken dat daar ‘n God is.
  • Soek God. God het uit een mens al die nasies gemaak; Hy bepaal hoe lank hulle leef en waar hulle sal leef; Hy skep grense vir hulle. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind (17:27). Alle mense soek God.
  • Jesus Christus en die evangelie. Paulus sê hier dat God vir Jesus Christus uit die dood laat opstaan het.

Paulus begin die pad na Jesus Christus met ‘n algemene aanbieding van God. Dit was ‘n noodsaaklike stap voor Paulus by Jesus Christus kon uitkom. Paulus begin waar sy gehoor is en gebruik konsepte en terminologie waarmee hulle bekend was. Eers daarna gaan hy verder en vertel van die evangelie van Jesus Christus.

Volgende keer gaan ons na die kuns van oorreding kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...