Paulus se gesindheid

image_pdfimage_print

“Ask, could my gifts, education, career, or experience be used to spread the gospel where it’s needed most?” – David Platt

Paulus se gesindheid

Paulus begin Filippense 1:12 – 18 met: Ek wil hê julle moet weet, broers. Hy is ‘n gevangene met boeie vasgeketting aan ‘n Romeinse soldaat. Ons sou verwag dat hy nou sy lesers gaan vertel van sy haglike persoonlike omstandighede, maar hy fokus eerder op dit wat werklik van belang is – die verspreiding van die evangelie. Uit hierdie verse leer ons onder andere drie dinge van Paulus se gesindheid.

  • Hy modelleer die gesindheid wat hy graag in sy lesers wil sien – nederigheid

Ons stories gaan so dikwels oor onsself – wat ons doen, hoe swaar ons kry … Paulus se storie gaan oor God. Hy maak homself klein in sy storie en Jesus se evangelie word groot. Hy besef Jesus Christus en sy evangelie het ons volle aandag nodig.

  • Hy sien God aan die werk in sy omstandighede

Ons vergeet dikwels dat lyding ‘n spesifieke plek in God se verlossingsplan het. Paulus vergelyk dit selfs met ‘n bevalling: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook (Romeine 8:22 – 23). As ons besef dat gelowiges nie van lyding vrygestel is nie, sien ons ons eie omstandighede anders. Paulus kon nie vrylik rondbeweeg en die evangelie op die markplein verkondig nie. Dit beteken nie dat hy sy roeping as apostel nie kan uitvoer nie. Al wat hy doen, is om die manier waarop hy sy take as apostel verrig by sy omstandighede aan te pas.

  • Vind vreugde in alles

Paulus het nie ‘n rigiede verwagting oor hoe die Here hom gaan gebruik nie. Wat vir hom belangrik is, is nie sy eie sukses nie, maar die uitbreiding van die koninkryk van God. Hy is gelukkig as ander ook die evangelie verkondig: In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. Paulus is bly al word sy bediening en sy persoon deur ander aangeval.

Hier is drie belangrike lesse oor die gesindheid wat van gelowiges verwag word.

image_pdfimage_print

You may also like...