Paulus se toesprake in Handelinge – hoe verskil hulle

“A Jesus who never wept could never wipe away my tears.” C. H. Spurgeon

Paulus se toesprake in Handelinge

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Handelinge bevat baie toesprake. Natuurlik is dit slegs Lukas se opsomming van die oorspronklike toesprake. Die toesprake in Handelinge gee aan ons die kern van wat Petrus, Stefanus en Paulus gesê het. Dit beteken nie die toesprake is nie geskiedkundig betroubaar nie.

 

Die toesprake in Handelinge het ‘n verskeidenheid gehore en doelwitte. Petrus se toesprake in Handelinge 2 en 3 en Paulus se toespraak in Handelinge 13 word aan Jode gerig – hulle wil Jode daartoe lei om Jesus van Nasaret as die ware Messias te aanvaar. Stefanus se toespraak voor die Joodse Raad is eintlik ‘n profetiese teregwysing. Petrus se toespraak in Handelinge 10 is gerig aan ‘n heidense gehoor. Petrus se toesprake op pinksterdag is vol aanhalings uit die Ou Testament, terwyl sy toespraak by Kornelius se huis geen aanhalings uit die Ou Testament het nie. Dit weerspieël wel sekere Bybelse temas.

Paulus se eerste opgetekende toespraak in Hoofstuk 13 is vol aanhalings. In Listra waar die gehoor geen kennis van die Skrif gehad het, kry ons geen aanhalings uit die Skrif nie. In sy toespraak in Atene verwys Paulus na heelwat Bybelse temas, maar hy haal geen vers direk aan nie. Die toesprake waarin verse aangehaal word. is gerig aan Jode. Toesprake gerig aan heidene, haal nie verse uit die Skrif aan nie alhoewel hulle Bybelse temas reflekteer.