Perspektief op gebed (17) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Jy speel in God se span!

Dit is nou alles goed en wel, maar hoe weet ek dan nou wat God se wil is? Dit is nie altyd ‘n maklike vraag om te beantwoord nie. Dikwels moet ons lank worsel om regtig ‘n antwoord hierop te kry.

Tog sal dit ons help om net weer na te dink oor wat gebed presies is en wat daar gebeur as jy sekere dinge van God vra.

In die Bybel word ons kinders van God genoem. Ons is dus deel van die familie van God.  God word nie verniet ‘ons Vader’ genoem nie (Mat 6:9). Ons rol in die familie van God is dus dieselfde as dié van ‘n kind in ‘n antieke familie in Jesus se tyd. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het. het die families anders gewerk as wat ons families vandag werk.

Hoe help dit ons om die wil van God beter te verstaan? Destyds was die mense mos groepsmense. Alles wat jy gedoen het was daarop gemik om jou groep te bevoordeel. Die Vader was weer die hoof en die verteenwoordiger van die gesin. Korrekte optrede is deur die vader bepaal. Wat jy wou hê en ook gevra het, sou dan tot voordeel van die groep en in ooreenstemming met die wil van die vader moes wees. Om dus te bid beteken om voortdurend te vra hoe God jou in sy familie wil gebruik.

Soos ‘n lid van ‘n rugbyspan, is jy lid van die familie van God. In die oë van God speel jy die spel van die lewe saam met Hom en jou mede-gelowiges. Jy staan nie alleen nie! Jy het ‘n rol om te speel en dit kan jy nie los van die res van die ‘span’ speel nie. Dáár waar God jou wil hê in die lewe, hoe Hy wil hê jy moet speel, daar lê die sin van jou lewe, sê die Bybel. Ons speel in God se span in die wêreld. Daarom moet ons God se belange verteenwoordig. God se belange en ons belange is vervleg.

Gebed doen meer aan jou as aan God?!

As ‘n mens gebed teen hierdie agtergrond sien, kan ons heelwat dinge beter verstaan. Om die waarheid te sê, ons sal by die hart uitkom van wat dit beteken om God iets in jou gebede te vra.

As lede van God se span, sy familie, moet ons die belange van God se ‘span’ op die hart dra. Ons sal mos nie wil hê dinge moet gebeur wat God se ‘span’ benadeel nie. God wil dit ook nie hê nie. In die opsig loop sy wil en my wil op dieselfde spoor. Dit is juis wat God bedoel met: ‘Bid volgens my wil’. Ons belange moet so met God se belange ‘een’ wees, dat ons eintlik vir God niks anders sal wil vra as wat Hy buitendien vir sy familie sou wou gee nie. Dit is dan dinge wat buitendien volgens sy ‘wil’ is en daarom kan ons seker wees dat dit ‘goed’ is.

So gesien doen gebede dus meer aan jou as aan God! In jou versoeke aan God moet jy konstant onthou wie jy is! Jy is ‘n kind in God se familie. Jy bid dus nie bloot om jou eie sak vol te maak nie. Jy is deel van God se ‘span’ wat speel en God wil hê dat jy so goed as moontlik moet saamspeel. Dit beteken om jou hele lewe deur die stroom van God se teenwoordigheid en wil te laat meesleur. Elke ding wat jy vra moet ‘n versugting wees om meer en meer van God in  jou lewe gestalte te gee. Sy wil moet jou wil word en bly!

 

Ek en ‘n lekkergoedmasjien?

Een ding is dus seker: gebed is nie soos ‘n lekkergoedmasjien nie. Ek kies nie maar net wat ek wil hê, gooi my geld in, vat die lekkergoed en loop nie. In gebed praat ons nie met ‘n masjien wat  maar net op ons versoeke reageer nie. Ons praat met die lewende God. Dit verander dus die manier waarop ons vra.

Beywer julle allereers vir die koninkryk van God

en vir die wil van God,

dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

(Mat 6:33)

Veronderstel jy het ‘n probleem waaroor jy voel jy wil bid. As jy dan voor God gaan staan, is daar eintlik drie belangrike ‘pole’ wat ‘n rol speel. Dit is natuurlik God, jy en die saak waaroor jy wil praat.

Al drie hierdie ‘pole’ het ‘n invloed. Natuurlik moet jy die saak voor God stel, MAAR  nie asof jy Hom net ‘inlig’ nie. Onthou, in gebed erken jy dat God ook by hierdie saak betrokke is. Sy belange moet ook in hierdie saak gedien word. Om die waarheid te sê, dit is belangriker dat Hy tevrede is met die uitkoms van die saak as wat jy is. Om dus iets in gebed na God toe te neem beteken om God se betrokkenheid en belange onlosmaaklik daarmee te vervleg. En nou kom jou siening ook nog by. God wil hê dat jy aan Hom vertel hoe jy oor die saak voel.

So is gebed: God, jy en jou saak. En wat jy probeer kry, is nie lekkergoed uit ‘n masjien nie, maar ‘n soeke na wat vir die koninkryk die belangrikste is. God het jou deel van sy koninkryk, sy familie, gemaak. Daarom is elke saak van jou God se saak. Hy is daarby betrokke. Nou moet jy só leef en só bid… ook in die oplossing van jou probleme. Nooit kan ‘n saak van jou meer ‘net ‘n saak’ bly nie!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt