Perspektief op gebed (20) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Op die skoot van God aan die gesels.

Bid vir…

Daar is ‘n paar dinge waarvoor die Here sê ons spesifiek kan bid. Hier is ‘n paar. Daar is natuurlik baie ander ook.

* Bid vir ‘n padkaart vir jou lewe.

In Jak 1:2 sê Jakobus dat ons bly moet wees as dinge verkeerd loop. Juis in hierdie dinge wat so met ons verkeerd loop, leer ons die nabyheid van die Here soveel beter ken. Dit versterk ons geloof. Maar nou gebeur dinge in jou lewe wat alles deurmekaar krap. Jy is nie meer seker wat die regte ding is om te doen nie. Dikwels is die enkele probleem of krisis self so moeilik dat jy nie lig aan die einde van die tonnel sien nie.

In so ‘n geval, sê die Here, moet jy op die ‘beheerkamer’ inskakel.

As een van julle wysheid kortkom,

moet hy dit van God bid,

en Hy sal dit aan Hom gee,

want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

(Jak 1:5)

Die wysheid waarvan hier gepraat word, is lewenswysheid. Hoe lei ek my lewe op die regte manier soos wat God wil? Hoe hanteer ek die versoekings wat my so van koers slaan? Wat moet ek doen om God tevrede te stel? As jou lewe deurmekaar begin raak en jy nie meer weet hoe vorentoe nie, as jou probleme vir jou te groot begin raak… dan is dit die regte tyd: skakel in op die goddelike beheerkamer: vra vir God vir ‘wysheid’… en wag vir sy antwoord.

Maar in Jak 1:6 waarsku Jakobus dan dat ‘n mens gelowig moet bid en nie moet twyfel nie. Dit help nie jy vra vir God leiding en jy wil nie sy antwoord aanvaar nie. Dit help ook nie veel as jy twyfel of God aan jou ‘n antwoord gaan  gee nie. In alle geval, al twyfelende sal jy nooit God se antwoord behoorlik kan hoor nie. Jou lewe sal dan regtig wees soos ‘n brander wat nie weet of dit kom of gaan nie (Jak 1:6-8).

As jy koers verloor het of besig is om koers te verloor, bid God om sy padkaart vir jou lewe weer vir jou mooi uit te stippel. Vra Hom vir wysheid om jou lewe te leef soos Hy dit bedoel het. God staan gereed vir hierdie gebed.

* Here, U versorg my, ek weet.

Gee ons vandag ons daaglikse brood’  (Mat 6:11) is ‘n vraag met ‘n belydenis aan. Met hierdie gebed sê ek vir God dat ek van Hom afhanklik is. Hy hoef ook nie vir my ‘n stoor vol brood te gee nie. Ek weet Hy sal môre weer daar wees om my te versorg. Ek is immers sy kind. Hy het belang by my en ek by Hom. Daarom wil God by ons alledaagse sake betrokke wees. Deur ons gebed moet ons Hom dan inderdaad ook ‘betrokke maak’, al is dit ook net deur ons afhanklikheid van Hom te erken. So het Jesus ons self leer bid.

* Here, ek verstaan nie??

Daar kom tye in ‘n mens se lewe wanneer al jou antwoorde in groot vraagtekens verander. Dit kan gebeur by die oop graf van ‘n jong kind wat in ‘n fratsongeluk dood is of wanneer ‘n seun in die fleur van sy lewe kanker opdoen. Wat sê ‘n mens dan? Hoe verklaar jy dit?

In hierdie oomblikke van vertwyfeling, vasgevang in allerhande vraagtekens, wil die Here jou nie alleen laat nie. Hy wil nie hê dat jy in sulke oomblikke sonder Hom moet wees of voel nie. Hy wil graag dat jy juis dan met Hom moet praat. Al sê jy net vir Hom dat jy nie verstaan nie, kan jy dit maar sê.

Ek is hulpeloos en arm,

maar die Here dink aan my.

U is my hulp en redder;

my God, moet tog nie talm nie.

(Ps 40:18)

* Here, ek het nie woorde nie.

Paulus praat ook van ‘n situasie waar die gelowige se woorde opdroog. In Rom 8:26 sê hy:

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by:

ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,

maar die Gees self pleit vir ons

met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.

Hierdie verwysing kom voor in ‘n konteks wat van die heerlikheid van God en die toekoms praat. Dit druk onder andere ‘n situasie uit waarin die mens so oorweldig word deur God dat jou woorde wegraak. Jou lippe raak stil voor die glorie van God. Dit is dan dat die Gees van God ons hartsgevoelens voortdra na die troon van God.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt