Perspektief op gebed (22) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

God verhoor nog gebede.

Hoe verhoor God gebede? Dit is seker die moeilikste vraag om te beantwoord as ‘n mens oor gebed begin praat. Die groot gevaar is dat mense tou opgooi met gebed as hulle gebede nie dadelik na hulle goeddunke beantwoord word nie. Daarom is dit belangrik om te vra: Verhoor God gebede. Indien wel, Hoe?

Deel 1: God verhoor gebede

Oor ‘n paar dinge hoef ‘n mens nie eers te argumenteer nie:

* God verhoor gebede. Dit het Dawid self bevestig in een van sy psalms:

Ek roep U aan,

want U sal my antwoord,

my God!

(Ps 17:6)

Ons kan dus met verwagting na God gaan. Hy sál ons antwoord, nie noodwendig altyd direk of dadelik nie, maar Hy sál antwoord (vgl. Jer 33:2-3; Mat 7:7-11; Luk 11:9-13). Hoe Hy ons sal antwoord en of ons altyd sy antwoord dadelik sal herken, is natuurlik ‘n ander vraag.

* God is nie ‘n lekkergoedmasjien wat maar net meganies gebede beantwoord nie. Dit gaan om ‘n verhouding tussen die bidder en die lewende God wat ‘n dinamiese werklikheid is. God het ‘n plan met die gelowige se lewe wat nie altyd vir die gelowige duidelik is nie. Soms neem God die mens op ‘n pad wat vir hom of haar nie duidelik is nie. God weet egter waarheen die pad lei. Daarvoor moet ons Hom maar net vertrou. Die antwoord op gebed werk nie bloot meganies nie.

* God verhoor gebede wat volgens sy wil is. Dink net: sou dit reg van God gewees het om gebede te verhoor wat nie volgens sy wil is nie? Sou Hy Homself dan nie geboikot en so ontrou aan Homself gewees het nie? Natuurlik.  Nee, God verhoor gebede volgens sy wil. Die gelowige moet dus aanvaar dat alles vir hom of haar uiteindelik ten goede sal meewerk. Dit is immers wat God vir die gelowige wil hê en wat Hy beloof.

Here, ek wil graag weet wat U wil!

God antwoord gebede volgens sy wil. Hierdie antwoord is nie altyd wat ons vra nie. Boonop kan dit soms ‘n tydjie neem voordat dit vir ons lyk of God ons antwoord. Hoe weet ek as ek ‘n belangrike besluit moet neem, dat dit wat ek gaan doen God se wil is?

Omdat God nie soos ‘n robot meganies op ons gebede antwoord nie en ook met ‘n spesifieke plan vir ons lewens werk, kan daar nie ‘n resep gegee word nie.

Neem nou maar vir Paulus self. In 2 Kor 12:7-9 vertel hy dat hy ‘n groot probleem gehad het wat hom baie gepla het. Dit was die doring in die vlees. Hy het die Here gebid om die doring weg te neem, want volgens hom was dit soos die ‘boodskapper van satan wat hom met vuiste slaan’. Daaruit kan ons aflei dat Paulus gevoel het hy sy werk vir die Here soveel beter sou kon doen as hierdie struikelblok uit die weg geruim is. Dit lyk tog duidelik na ‘n gebed ‘volgens die wil van die Here’.

Paulus het gebid, maar ‘niks’ gehoor nie. Toe bid hy weer, maar weer is alles stil! ‘n Derde maal bid hy en wag… maar die hemelse faksmasjiene is stil en die telefone lui nie. Dit moes sekerlik vir Paulus snaaks gewees het.

Toe luister hy weer ‘n keer mooi. Wat ‘n ontdekking maak hy toe nie! God het hom al lankal geantwoord. God het die eerste maal al vir hom gesê: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is’ (2 Kor 12:9). Paulus moes uit die antwoord iets oor homself en God leer. Hy wat Paulus is, het begin hoogmoedig word (2 Kor 12:7). Hy het begin dink dat hy die groot onmisbare apostel is. Hierdie doring in die vlees het sy spoed ‘n bietjie gebreek. As hy net daarvan ontslae kon raak, het hy gedink, sou die ‘sendingveld’ nie weet wat hulle getref het nie!

Maar God wou vir Paulus iets anders sê. Hy praat juis met hom deur die doring. Dit laat Paulus besef waar sy krag vandaan kom. Dit is die Here wat die ‘sendingveld’ sal tref, nie Paulus nie. Paulus is maar net God se instrument. Dit was Paulus se antwoord op sy gebed. As Paulus ‘n bietjie terugstaan en God se krag die geleentheid gee om te werk, DAN geskied God se wil!

As ‘n mens mooi na hierdie gebeurtenis kyk, kan ‘n mens duidelik sien dat God se wil tog uiteindelik geseëvier het. Paulus kon maar ‘n stukkie van God se plan sien. Hy het daarom gedink God moet op ‘n sekere manier optree. God kyk egter wyer; Hy sien meer raak. Daarom het Hy anders geantwoord as wat  Paulus verwag het. Na wat vir hom na ‘n ‘nee’ gelyk het, was juis God se ‘ja’. So het Paulus die grense van gebed al biddend leer ken.  God het hom stelselmatig gelei tot ‘n antwoord, maar ook tot insig in die antwoord wat God vir Hom gegee het.

God leer jou.

Uit hierdie gebeure met Paulus kan ons ‘n paar dinge leer oor die manier waarop God gebede verhoor.

*  Dikwels verander jou situasie nie, al mag jy vurig daarvoor bid. Die Here verander jou liewer. Deur jou so te slyp, vorm Hy jou om hierdie en baie ander situasies soveel beter te hanteer. Hy maak jou meer bruikbaar in sy koninkryk. God kan dus soms op verrassende maniere antwoord waar jy dit soms nie verwag nie.

* Dit veronderstel ‘n tweede saak, naamlik ‘n gewilligheid om die leiding van God te aanvaar; nie soos jy dit noodwendig wil hê nie, maar soos God dit gee. Jy moet dit regtig bedoel as jy sê: ‘Laat U wil (in my) geskied’. Dit beteken om in oorgawe God se leiding en antwoorde op gebed te aanvaar. Die gevoel wat ons soms kry dat God nie gebede beantwoord nie, het dikwels meer daarmee te doen dat ons nie God se leiding onvoorwaardelik wil aanvaar nie, as wat dit daarmee te doen het dat God ‘nie antwoord nie’. My gesindheid moet reg wees. Ek moet soekend en tastend op God se wil in gebed wag.

Maar waarom moet ons dit onvoorwaardelik aanvaar? Omdat dit GOD se wil is! Juis daarom moet ek bereid wees dat my ernstigste probleme in die genade van God tot rus kom. Ek moet sy liefde toelaat om my vrese te omvou. Ek moet my wil in sy wil ‘begrawe’, sodat Hy sy doel volledig in my kan bereik. In vertroue moet ek kan sê: ‘Ek weet my saak is in die Here se hande en dit is vir my genoeg!’ Met so ‘n gesindheid van aanvaarding sal jy soveel makliker God se antwoorde kan hoor, omdat jy bereid is om te luister.

Die bedding waarin die saad van verhoorde gebede groei is dus ‘n ‘gelowige wag’ op die Here. Daaruit put ‘n mens krag! Soos Jesaja sê:

Die wat op die Here wag kry nuwe krag.

Hulle vlieg met arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en word nie afgemat nie.

(Jes 40:31)

* Die ‘grense’ van gebed is God self en daarom is die maniere waarop ons gebed beantwoord kan word, onbeperk. Vir die mens verskaf dit miskien moeilikheid omdat hy nie God in duidelike blokkies kan indeel nie. Maar dit skep die ruimte vir die almag van God om sy volle loop te neem. Gebed het immers nie krag omdat dit gebed is nie, maar omdat God dáár is. Gebed gee ons toegang tot sy krag! Daarom kan God antwoorde gee waar ons dit nie verwag of aan gedink het nie.

* Wie dit besef sal ook besef dat die verhoring van gebed nie ‘n reg is nie, maar ‘n voorreg.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...