Perspektief op gebed (29) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

En wat nou as??.. Vrae wat pla!

VRAAG 5: Mag ek bid vir iets wat wetenskaplik onmoontlik is?

God is natuurlik bo die skepping verhef omdat Hy die Skepper is. Daarom kan Hy enigiets in die skepping laat gebeur. God kan op enige manier ingryp. Hy is immers God!

MAAR as Skepper is Hy ook die een wat die natuurwette in die skepping ingebou het. Hy is ook die Een wat die skepping onderhou. God staan dus nie teenoor die skepping of die natuurwette nie. Die natuurwette weerspieël eintlik God se wil. Daarom is die normale manier waarop God werk deur die natuurwette. Om God te vra om teen die natuurwetenskaplike in te gaan, is eintlik om Hom te vra om teen sy eie skeppingsbeplanning in te gaan. Dat Hy dit sommer net sal doen, is hoogs onwaarskynlik. Daarvoor moet daar ‘n baie goeie rede wees.

VRAAG 6: Verskillende tipes gebede?

Daar is baie opwindende maniere om te bid, veral om saam met ander te bid. Omdat gebed ‘n gesprek met God is, kan gebed baie verskillende vorms aanneem. Hier word maar enkeles genoem.

Persoonlike gebede.

Gedissiplineerde persoonlike gebede.

Uit die beskrywing van gebed in die res van die boek is dit duidelik dat persoonlike gebed redelik omvattend kan wees. Dit kan met lof en aanbidding begin, met skuldbelydenis aangaan en in ‘n algemene gesprek van ‘vra en voorbidding uitloop.

Elke gebed hoef natuurlik nie presies so te wees nie. Soms kan daar meer op lof en aanbidding en soms meer op vra of voorbidding gekonsentreer word. Daar moet tog probeer word om gebalanseerd te bid. Om by elke geleentheid net jou lysie versoeke aan God voor te hou, sonder om ook gereeld op die lof en aanbidding van God te fokus, sou jou gebed baie verarm. Daarom is dit goed om tog een of ander kontrole oor jou eie persoonlike gebedstyl te hou.

Om gedissiplineerd en gereeld te bid is belangrik. So vloei die sake wat jy met God wil bespreek inmekaar; jy kom agter hoe God jou gebede verhoor en spesiaal met jou werk; jy kan jou sonde waarmee jy sukkel met God se hulp uitsorteer, en so aan. Om egter net af en toe te bid breek hierdie ‘gebedsritme’. Dit is onnodig om te sê dat dit jou gebed radikaal sal verarm.

‘n Groot gevaar is natuurlik ook om in die gewoonte van ‘rympiesgebede’ te verval. Dit is die soort van ‘Here wees met die sendelinge op die sendingvelde; vergewe my sonde, Amen’ gebede. Afgesien daarvan dat so ‘n gebed ‘n bietjie simboliese waarde het – jy sê darem vir die Here dat jy Hom nie vergeet het nie – is dit andersins nie veel werd nie. Die beste manier om jouself te help om uit die strik te kom, is om voor jy gaan bid eers deeglik na te dink oor wat jy met die Here wil bespreek. Gun jouself die kans om ‘stil’ te word. ‘Beplan’ jou gebed eers ‘n bietjie.

Ander persoonlike gebede.

Die vorm van ‘n mens se gebede hang natuurlik baie van die situasie af. As ‘n mens besef dat gebed ‘n gesprek met jou Vader is, besef jy ook dat gebed omtrent enigiets van ‘n enkele sinnetjie tot ‘n lang pleitrede kan wees. Jy kan maar die vrymoedigheid neem om spontaan met God te praat. Om in ‘n sinnetjie God se bystand voor ‘n eksamen of belangrike vergadering te vra, het net soveel krag as wat ‘n lang gebed sou hê. ‘n Skietgebed as jy in die nood is, weerklink ook in die hemelse troonsaal. Om langs die see op ‘n rots te sit en sommer vir die Here dankie te sê vir sy goedheid word ‘n pêrel in die skatkis van die hemel.

Daar moet geen beperking gelê word op die spontaniteit van gebed nie. As jy met die Here wil praat, praat met Hom! As jy vir Hom iets wil sê, sê dit!

Groepsgebede.

Groepsgebede bring ‘twee of drie’, selfs baie meer in die ‘Naam van die Here’ saam.

Gesamentlike gebede.

Die mees algemene gesamentlike gebede is ‘n groepie gelowiges wat saamkom en eenvoudig beurte neem om met God te praat. Die Bybel sê dat ons gebede soos wierook voor God in die hemel is (Op 5:8). Dit is vir Hom aangenaam om na sy kinders se gebede te luister. Daarom moet ‘n mens nie die effektiwiteit hiervan onderskat nie.

Tog is daar hier ook sekere gevare waarvoor ‘n mens moet oppas. Lang gebede deur ‘n enkele persoon wat allerhande ‘draaie’ loop waar die ander lede van die groep nie eers weet ‘draaie’ is nie, moet ontmoedig word. Groepsgebed moet groepsgebed bly – gelowiges moet kan saamstem met wat gebid word.

Dit bring ons by ‘n volgende gevaar, naamlik om gebed te misbruik om met ander ‘in argument te gaan’. As iemand byvoorbeeld sterk voel oor ‘n sekere politieke saak, sal hy miskien by die Here pleit om sy saak te bevoordeel. Natuurlik mag jy ook vir die politiek bid, maar groepsgebed mag nie die arena word waar mense in ‘onder onsies’ met mekaar betrokke raak nie. Iemand wat met sulke valse motiewe bid, moet weet dat God tot in sy hart sien.

Iets wat ‘n mens meer kere laat wonder is al die herhaling wat dikwels gedurende groepsgebed plaasvind. Ses persone bid en al ses bid vir dieselfde ding, net in ander woorde! Het die Here dan nie die eerste keer gehoor nie? Is groepsgebed nie veronderstel om daarop gebaseer te wees dat gelowiges, saamstem nie? As jy nou klaar oor ‘n saak saamgestem het, waarom moet jy die Here nou weer daaraan herinner? Behoorlike beplanning is ook met groepsgebed belangrik. Kom ooreen waaroor wie gaan bid en stem dan in die gebed saam. Dit sal ‘sirkelgebede’ uitskakel.

Gesinsgebede.

Die oomblikke wat ‘n gesin saam om die troon van die Here in gebed kniel, is goue oomblikke. Daar fokus die gesin op dinge wat hulle raak en kan hulle vir mekaar bid! Daar kan hulle ook voor God op ‘n ander manier betrokke raak by mekaar se sake.

Dikwels as daar konflik in die huis is, is dit moeilik om die saak ‘saam met die Here’ uit te praat. As die een party sê: ‘Die Here hou nie van wat jy doen nie’, is die ander party baie vinnig om die eerste party se sondes ook uit te ryg. In die gesin ken ons mekaar mos so goed dat ons niks kan wegsteek nie. So word die Here eintlik uit die konfliksitausie uitgesluit! In gebed kan niemand egter van God af weghardloop nie! Daar word ons met ons eie sonde maar ook met die bereidheid om die regte dinge te wil doen, gekonfronteer.

Moenie gesamentlike gebed in die gesin afskeep nie. Daar word ons soveel hegter aan mekaar en aan ons hemelse Vader gebind.

Singebede.

‘n Ander moontlikheid om saam te bid is om elkeen net in ‘n enkele sin te bid vir wat op sy of haar hart is. So kry almal geleentheid om aan die gebed deel te neem en gewoonlik word die gevaar van ‘herhaling’ uitgeskakel.

Kettinggebede.

Kettinggebede kan verskillende vorms aanneem. Dit is gebede wat presies werk soos ‘n ketting werk: die een skakel in die ander in. So word daar onophoudelik, soos ‘n ketting aanmekaar geryg is, gebid. Gewoonlik gaan dit ook oor ‘n belangrike saak waaroor gebid word. Dit is wonderlik om so saam te bid. Dit snoer werklik gelowiges eendragtig saam rondom dieselfde saak!

Kettinggebede kan plaasvind in ‘n groep wat bymekaar gekom het. Hulle kry dan in die ry af, een na die ander, ‘n kans om te bid. Hier hoef dit nie noodwendig oor dieselfde saak te gaan nie.

Kettinggebede word dikwels ook so gereël dat elke persoon ‘n spesifieke tyd kry waarop hy moet bid. Waar hy of sy ook al op daardie tydstip is, word die kettinggebed voortgesit.

Daar moet egter opgepas word om nie hierdie vorm van gebed te misbruik nie! In Mat 6:7 waarsku die Here juis teen ‘n stortvloed van woorde. Dit beteken dat mense dink hulle kan die Here deur hulle baie woorde of lang gebede manipuleer. Om die waarheid te sê, hou die Here nie baie daarvan nie. Hy soek nie woorde nie, maar opregte harte.

Simboliese gebede.

Daar word baie gebid. Voor of na etes, voor vergaderings of byeenkomste en so aan. Sommige gelowiges voel dat hierdie gebede nie altyd opreg is nie en hulle is seker in baie gevalle reg. Jy kan nie bid dat die Here ‘n vergadering moet seën en daarna word opgetree soos vyande van die Here nie.

Tog moet ons weer ‘n keer mooi nadink oor wat die gebede presies ‘doen’. Om voor die ete te bid is ‘n gewoonte en gewoonlik word dieselfde ‘rympie’ opgesê. Ons leer dit as kinders van ons ouers en hulle het dit weer van hulle ouers geleer. Dit is dus gewoonlik nie ‘n spontane gebed wat elke keer anders klink nie. ‘n Mens sou eintlik kon sê dat die ‘eintlike’ gebed nie in die woorde self lê nie, maar in die gesindheid van die persone. Deur so voor ete saam te bid, is ‘n simboliese aksie waarin ‘n mens erkenning vir die Here gee. Jy sê vir Hom dat Hy deel is van jou lewe en dat jy ook erken dat jy die kos uit sy hand ontvang. Hy is die een wat vir jou sorg. Eintlik maak dit dan nie veel saak watter woorde jy gebruik nie.

Dieselfde geld sekerlik van gebede by vergaderings. Een van die treffendste geleenthede wat ek bygewoon het,was ‘n gebed voor ‘n simfoniekonsert in Nederland. Die bidder het eenvouding gesê dat hulle die Here as Here wil erken, ook vir die talente wat Hy hulle gegee het. Dit is eintlik mos wat ‘n gelowige se lewe is.. ‘n erkenning tot eer van die Here.

Moet dus nie bang wees om ‘simboliese gebede’ te bid nie. Dit is ‘n getuienis wat jyself oor jouself voor andere lewer.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt