Perspektief op gebed (6) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Kom ons word stil…

Die uitdrukking wat ons soms gebruik om te sê ons wil bid is treffend: ‘Kom ons word stil’. As ons mooi daaroor nadink is dit eintlik so ‘n bietjie snaaks. Gebed is mos juis ‘n gesprek met God. In ’n gesprek wil ’n mens mos nie stilbly nie. Hoe rym dit?

Met hierdie woorde sê jy iets oor wat met jou gebeur as jy op jou knieë gaan. Om te bid vra van jou om jouself gereed te maak, voor te berei vir ‘n ontmoeting met God. En daarom moet jy die ratte van jou besige lewe eers so ‘n bietjie rem. Die besige lewe met sy stress het nogal die geneigtheid om die bril van jou lewe toe te wasem. Die gejaag van oomblik tot oomblik, plek tot plek om die of daai afspraak te hou maak dat jy later net jou eie belange raaksien. Al waaraan jy dink is die volgende ding wat jy moet doen. So kan jy ook nie regtig ‘n rustige gesprek met God voer nie.

Dink maar net hoe frusterend is ‘n gesprek met iemand wat by die kamer ingewaai kom met die houding dat hy baie haastig is. Dit lyk heeltyd as hy met jou wil praat of hy eintlik iets anders wil doen. Hy wil ook nie regtig gesels nie. Hy spring so van een kort opmerking na die volgende. Elke nou en dan kyk hy op sy horlosie. In ‘n sekere sin beledig hy jou, gee hy jou die idee dat ander dinge belangriker is as jy. ‘n Mens voel sommer om vir so ‘n persoon te sê dat hy liewer maar die gesprek moet los as hy dit nie ordentlik wil doen nie. En met gebed is dit nie anders nie.

Om regtig te bid beteken om stil te gaan staan en die wasem van die besige lewe van jou lewensbril af te vee. Dan sal jy God duideliker kan sien. Maar jy sal ook jouself duideliker sien! Hierdie voorreg moet jy jouself gun! Bederf jouself ! Moenie op jou knieë gaan soos ‘n atleet wat eintlik net wag vir die oomblik wat hy moet opspring en verder hardloop nie. Laat gebed liewer die plek wees waarheen jy hardloop om in die arms van die Here regtig te gaan ‘stil word’. Gebed vra inderdaad rustigheid en is nie lief vir haas nie. Gebed vra dat jy jouself  ten minste ‘n kans moet gun vir innerlike openheid en kalmte. Daarmee saam sal die vreugde van gebed vir jou ook meer word.

Gee jouself ’n kans.

Ons lees in die Bybel dat die Here Jesus Homself die kans gegun het om ‘stil’ te word. Hy het na ‘n geskikte plek gegaan en daar alleen met sy Vader gepraat (Mat. 14:23). Daaruit kan ons nogal goeie lesse leer vir ons daaglikse ‘stiltetyd’ met God. Gee jouself daardie kans om in ‘stilte’ met God te gesels. (Dit gaan nie hier om skietgebede of kort gesprekke wat jy soms met God voer nie).

  • Gebed vra van ons om TYD te maak. As jy nou regtig die laaste bietjie vreugde uit jou gebedslewe wil tap, maak dan asof gebed soos ‘n vinnige stop in die kuipe vir ‘n renjaer is. As jy jouself nie tyd gun vir die gesprek met God nie, sal jy gou agterkom dat jy nie veel vir God te sê gehad het nie… en dat Hy ook nie veel vir jou kon sê nie.
  • Gebed vra ook dat jy jou PLEK reg kies. Jesus het na ‘n stil plek gegaan. Dit help nie om jou wit gordyne met oliehande te probeer was nie. Kry vir jou daarom ‘n plek wat by die stilte van gebed pas en waar daar nie allerlei dinge is wat jou aandag aftrek nie. Dit is natuurlik nie te sê dat ‘n mens nie ‘n skietgebed of ‘n ander kort gebed in die geroesemoes van die alledaagse lewe kan bid nie. Hier gaan dit om jou daaglikse ‘stiltetyd’ met God.
  • Gebed vra ook die regte GESINDHEID. Jy moet wíl bid. Jy moet jouself wíl oopstel vir die gesprek met God. Dit klink snaaks om so te sê, maar daar is ‘n gevaarlike vyand wat soos ‘n wurm die hele binneste van jou gebedslewe kan wegvreet sodat net die skil nog oorbly: en dit is VORMGEBED. Vormgebed vreet juis aan ons gesindheid. As ons nie elke keer onsself instel op die ontmoeting met God nie, word ons gebede later net gewoonte. Ons wíl dan nie meer bid nie, maar ons voel ons móét. Dan gaan dit nie meer om die gesprek nie, maar om die gewoonte. Die skil is dan nog daar, maar die hart is uit.

Stel jouself in.

Om eers ‘n rukkie ‘stil te word’ voor jy met God begin gesels is belangrik. Dit is jou geleentheid van voorbereiding en beplanning vir jou gesprek met God. Dit is jou tydjie wat jy voor die gebed neem om jouself ‘in te stel’. Dan hoef jy nie te praat nie; jy hoef nie met allehande dinge besig te wees nie. Jy kan maar net ‘stil’ word. Jy kan jou oë toemaak sodat dit net jy, jy alleen is.

Dit is nogal iets waarmee ons in ons gejaagde lewe swaarkry: ons kan nie tot stilstand kom nie. Vir ons is tyd geld; daar moet dinge gedoen word, daar is programme op TV wat gekyk moet word, daar is goed wat in die huis gedoen moet word, daar is… daar is… en so is daar altyd maar nog net meer en meer om te doen. Selde gun jy vir jouself die tyd om net JY en JOUSELF te wees.

Kom on oefen.

Kom ons probeer iets:

 

SIT SOWAT DRIE MINUTE DOODSTIL. MAAK JOU Oë TOE EN PROBEER NET ‘ONTSPAN’. MOENIE AAN IETS SPESIFIEKS DINK NIE, MAAR AS JOU GEDAGTES AAN DIE LOOP GAAN, LAAT DIT ‘LOOP’ WAAR EN SOOS DIT WIL. 

 

Beskryf nou wat jy ervaar het en wat gebeur het:

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

Verskillende dinge kan natuurlik met ‘n mens gebeur as jy so stil sit. Dit kan wees dat na ‘n besige dag jou gedagtes net nie tot ruste kom nie. Hulle spring en maal rond. Dit mag ook wees dat jou gedagtes by een ding vassteek en soos ‘n berg voor jou kom lê. Of jy kan so moeg wees dat jy sommer net aan niks dink nie. Jy voel net hoe die slaap soos ‘n swart kombers oor jou getrek word.

Maar wat hier gebeur moet nie onderskat word nie. As jou gedagtes so maal en spring moet jy weet dit is JOU gedagtes daardie. Dit is die dinge wat vir jou belangrik is. As ‘n mens ‘n bietjie ontspan het dit dikwels die gevolg dat jy so ‘n bietjie helderder dink. Hierdie dinge wat so by jou opkom moet jy neerskryf, want dit is dinge wat jy met God kan en moet bespreek. Dit is veral belangrik as jou gedagtes net by een saak vassteek. Dit beteken dat daardie saak vir jou op daardie oomblik baie belangrik is. Daaroor moet jy praat!

Om so stil te word, berei jou nie alleen voor vir jou gesprek met jou Vader nie, maar rig jou al op die sake waaroor jy eintlik met God moet praat.

Om ‘stil te word’ is die voorportaal van gebed.

‘n Kasteel het gewoonlik ‘n voorportaal waar ‘n mens ontvang word. Daar kan jy jou jas uittrek, jou hare kam en gereed maak vir die ontmoeting met die koning in die kasteel. Daar wag jy op die koning. Om ‘stil te word’, of kom ons sê: ‘Om jouself eers weer so ‘n bietjie te vind’,  is die voorportaal van gebed. Daar kyk jy vir jouself in die spieël. Daar word jy bewus daarvan dat jy nou in die ‘kasteel’ van God se teenwoordigheid instap. Daar kom gedagtes by jou op wat jy graag met die koning sal wil bespreek. Daar kan jy op die Here ‘wag’.

Moenie sommer in gebed injaag nie. Gun jouself die tyd om ‘stil’ te word en op die Here te wag.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...