Perspektief op gebed (9) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Here, U wil ek loof.

Here, aan U alleen die lof.

Aanbidding dwing jou in verwonderdering op jou knieë voor God. Daar erken jy God vir Wie Hy is. Maar dit is maar die eerste treë in groot avontuur van gebed.

Die saad van aanbidding ontkiem in die blom van lofprysing. Dit is twee sye van dieselfde munt.

‘n  Mens sou kon sê dat aanbidding veral fokus op Wie God is en dat lofprysing klem lê op wat God vir ons gedoen het en nog doen. Die onderskeid is natuurlik nie waterdig nie. As jy besef Wie God is, sal jy ook noodwendig aan alles dink wat Hy vir jou doen en natuurlik omgekeerd.

‘Goeie woorde uit die diepte van die hart…’

Kom ons loof en prys die Here! Maar wat beteken dit?

Die Griekse woord wat veral vir ‘lof’ gebruik word, kan so omskryf word: ‘om goeie woorde te praat’. Maar lof is nog veel meer. Dit is om goeie woorde te wil praat, te moet praat. Om die Here dus te loof en te prys beteken om in ‘n  rykdom van goeie woorde met en van Hom te praat. Dit is egter nie woorde wat op die punt van die tong ontstaan nie. Dit is woorde wat uit die diepte van die hart kom.

Kom ons luister na iemand wat die Here loof…

Ek wil U lof verkondig, my God en Koning,

ek wil U naam altyd loof.

Die Here help almal op wat geval het,

Hy ondersteun die wat bedruk is.

Die Here is regverdig in al sy handelinge,

getrou in alles wat Hy doen.

Die Here is naby almal wat Hom aanroep.

Laat al wat leef sy heilige naam vir altyd prys!

(Dele uit Ps. 145)

Die brandpunt…

Waarom is lof dan nou juis so belangrik? Wat beteken dit vir God? Om regtig die wese van lof te verstaan moet ons teruggaan na die tyd van Jesus.

In die tyd van die Bybel was die samelewing in baie duidelike ‘klasse’ ingedeel. Die meeste mense was maar arm en het min mag gehad. Hulle het tot die onderste vlakke van die samelewing behoort. Hierdie mense is dikwels onderdruk en uitgebuit deur die rykeres. Daarom was hulle afhanklik van belangriker persone in die samelewing om hulle te help. Dit was dus destyds gebruiklik om by die groep of familie van so ‘n  belangrike persoon aan te sluit. Jy moes lojaal wees teenoor hom, terwyl hy jou weer beskerm en gehelp het. Nou was dit ook gebruiklik om aan hierdie weldoener jou dank en afhanklikheid te ‘bewys’. Dit het jy gedoen deur die persoon se belangrikheid en status te erken. Daarin het lof ‘n belangrike rol gespeel. As jy dus in die teenwoordigheid van so ‘n belangrike persoon is, het jy baie ‘goeie woorde’ vir en oor hom. Veral as daar ander by is, vertel jy hardop wat hierdie ‘heer’ van jou alles doen en kan doen. Hoe meer jy kan sê, hoe ‘belangriker’ word jou ‘heer’ natuurlik in die oë van die omstaanders en hoe groter word sy status en eer! Jou lof is dus daarop gemik om met jou woorde die grootheid van jou weldoener so goed moontlik voor te stel. Jou weldoener word die brandpunt waarop jy jou woorde laat saamtrek.

So moet Bybelse lof ook verstaan word. Die brandpunt van lof is die Drieënige God en Hy alleen. Lof wil die grootheid van God beskryf. Dit wil aan elke omstaander vertel hoe belangrik, ja, onbeskryflik God is. Tegelyk wil dit ook vertel hoe gelukkig jy self is om so ‘n  God te hê. Deur te vertel wat Hy aan en vir jou doen, word die eer van God net groter en groter. Daarom kan lof nie van die punt van die tong af kom nie. Dit  moet uit die hart kom, want

* lof vertel van daardie intieme ontmoetings tussen jou en God;

* dit vertel van die oomblikke toe jy verslae was en jy juis toe sy vertroostende teenwoordigheid ervaar het;

* dit vertel van die oomblikke toe jy besig was om te sink maar juis toe God se verlossende hand kon voel;

* dit vertel van die oomblikke van benoudheid, van alleenheid, van vreugde, van vertwyfeling… en God was dáár!

* dit vertel van Golgota…

Lof is dus baie meer as net ‘n  gevoel. Lof ontluik uit die diepgewortelde bewustheid van God wat intens in jou lewe betrokke is. Dit is die oortuiging dat God LEWE omdat jy dit in jou lewe kan sien en ervaar. Daarom  is lof iets wat uit jou vloei soos ‘n  fontein wat onkeerbaar opbruis. Jy kan dit nie keer nie, omdat dit wil vertel van God wat jou lewe vasgryp. En juis daarom wil jy loof , wil jy hierdie God grootmaak, wil jy hierdie God eer en prys. God is die brandpunt waarop jy jou woorde van eer en lof uitstort.

God maak dit vir ons maklik om Hom te loof.

Lof  is dus aan die dade van die een wat lof ontvang vas soos ‘n  skoen aan sy sool. Om te sê iemand is sterk is maklik. Enigiemand kan dit sê. Maar as daardie persoon regtig ‘sterk dinge’ doen is dit ‘n  perd van ‘n  ander kleur. Dan kan jy praat van ondervinding. As hierdie sterk persoon vir jou sê dat hy  hierdie of daardie groot daad gaan doen, kan jy hom maar glo. Hy kán mos! Groot dade is dus die sool wat die ‘skoen’ van lof oral saamdra waar dit gaan.

Met lof vir God is dit net so. Natuurlik kan ons God loof vir Wie Hy is. Maar dit is as ons na sy dade vir ons kyk dat die stroom van lof onkeerbaar begin vloei. Daarom verbaas dit nie dat ‘lof’ in die Bybel gewoonlik met die groot dade van God saamgaan nie. God gee ons rede om Hom te loof. Hy maak dit vir ons maklik om Hom te loof, want Hy doen soveel vir ons.

 Dit beteken natuurlik dat lof nie regtig ‘lof’ kan wees los van jou eie lewe, jou ervaring, jou pad saam met die Here nie! Lof wil juis eer bring vir wat Hy in jou lewe gedoen het en nog doen! Daarom vra ‘lof’ diep nadenke van jou oor jou verhouding met Hom.

Om dit prakties te stel: As jy regtig die vreugde van lof in jou gebedslewe wil ervaar moet jy vooraf eers vra waaroor jy God wil loof. Wat het Hy vir jou gedoen sodat jy die ‘lysie’ van sy groot dade wat eer aan Hom bring kan aanvul. Hy het sy Seun vir jou gegee, jou gered; maar nou is Hy ook elke dag by jou… besig met jou.. goed vir jou. Daarvoor kan jy Hom eer en loof.

Kom ons loof die Here

Skryf drie dinge neer wat die Here vir jou gedoen het. Loof Hom daarvoor deur aan Hom al die erkenning daarvoor te gee wat Hy verdien.

 

*……………………………………………………………………………………………………..

*……………………………………………………………………………………………………..

*……………………………………………………………………………………………………..

Skrywer:  Prof Jan van der Watt