Poligamie – Hermie van Zyl

Vraag

Dawid was ’n groot Bybelse figuur en Godsman, soveel so dat Jesus uit sy nageslag gebore is. Waarom het hy en Salomo so baie vroue gehad ten spyte van die feit dat God vir Adam net Eva gegee het as vrou, en vir Noag en sy seuns elk net een vrou in die ark toegelaat het? Waar kom die reg vandaan om meer as een sielsverbintenis te mag hê?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag sny die hele aangeleentheid aan van veelwywery of poligamie in die Bybel; dit is waar een man gelyktydig met meer as een vrou getroud is. Die gegewens hieroor kom hoofsaaklik uit die Ou Testament (OT), hoewel die Nuwe Testament (NT) ’n belangrike bydrae lewer in die beoordeling hiervan.

Ons moet onderskei tussen die voorkoms van poligamie en die beoordeling hiervan. Eersgenoemde is net beskrywend van aard; dit beskryf bloot hoe die verskynsel van poligamie in die OT voorkom. Laasgenoemde is meer normerend van aard; dit sê hoe ons die gegewens moet beoordeel: Is dit aanvaarbaar; spreek die Bybel ’n oordeel oor die verskynsel uit na een of ander kant toe? In ons antwoord hier onder sal ons die twee aspekte kombineer, met meer klem op laasgenoemde.

Ons moet begryp dat poligamie algemeen in die ou nabye Ooste voorgekom het, soos vandag nog in sekere Afrika-gemeenskappe. Ons moet dus nie verbaas wees as die verskynsel ook in oud-Israel opduik nie. Net soos die afgodediens van die omringende volke oorgespoel het na Israel, het veelwywery dit ook gedoen. Die Israeliete was kinders van hulle tyd. Wat in jou bure se omgewing aangaan, kom kort voor lank ook by jou voor. Dit was destyds so, dis vandag ook so, veral waar die wêreld vandag ’n klein wêrelddorpie geword het. Mense kyk by mekaar af en neem mekaar se gewoontes oor, reg of verkeerd.

Die eerste wat ons van poligamie in die OT lees, is by Kain se nageslag. Lameg, die vyfde geslag na Kain, het twee vroue geneem (Gen 4:19). Hy was klaarblyklik ’n geweldenaar (Gen 4:23-24) en sy nageslag het waarskynlik in die groot vloed omgekom, en daarmee ook Kain se geslagslyn. Sommige verklaarders meen dat die Bybel daarmee wil aandui dat poligamie deel van die verdorwenheid van die mens was wat God so diep gegrief het dat Hy daarmee wou wegdoen met die sondvloed (Gen 6:6-7).

Die volgende wat ons van veelwywery lees, is by die aartsvader Abraham. Dié het twee vroue gehad, Sara en Ketura. Dis egter nie duidelik of Abraham eers met Ketura getroud is ná Sara se dood nie. Met die eerste oogopslag wil dit so lyk, want die beskrywing in Gen 25:1-6 volg ná die dood van Sara. Maar nou is daar in hierdie gedeelte ook sprake van ses kinders wat Abraham by Ketura verwek het, en dat hy nog byvroue ook gehad het. Dít kan weer op ’n vroeër tyd in Abraham se lewe dui, toe Sara nog geleef het. (Die geskiedskrywing in Genesis verloop nie altyd streng kronologies nie.) En dan is daar natuurlik die ongelukkige geskiedenis van Abraham se verbintenis met Sara (= Sarai) se slavin, Hagar, op Sara se aandrang (Gen 16). Dié loop daarop uit dat Sara vir Hagar wegjaag nadat daar onmin tussen hulle ontstaan het. Hagar is egter reeds swanger met Ismael en keer terug na Abraham se huishouding. Maar die prentjie wat deur die Bybel geteken word, is dat hierdie poligamiese verbintenisse van Abraham, hoewel dit nie uitdruklik veroordeel word nie, nie goeie gevolge gehad het nie. Byvoorbeeld, Ismael is uit Hagar gebore, en hy was in kompetisie met Isak, die seun van die belofte. Ismael se nageslag was by tye ook in konflik met Israel.

En dit is min of meer die trant wat mens ook by die ander gevalle van poligamie in die OT aantref (sonder om op almal in te gaan). Poligamie word nie pertinent veroordeel of verbied nie. Daar is selfs wetgewing wat problematiese gevalle probeer reguleer, byvoorbeeld waar die minder geliefde vrou se kinders moontlik benadeel kan word teenoor die meer geliefde een s’n (vgl Deut 21:15-17). Maar die blote feit dat so ’n reëling getref moes word, illustreer die probleem met poligamie, naamlik dat dit ’n resep is vir onmin, jaloesie en familietwiste. Afgesien van wat tussen Sara en Hagar gebeur het, is daar ook nog die geval van Hanna (die latere moeder van Samuel) en Peninna, die twee vroue van Elkana, waar die onvrugbare Hanna verag is deur die vrugbare Peninna (1 Sam 1:6). Omgekeerd het dit ook gebeur dat die onvrugbare vrou jaloers is op die vrugbare een, soos met Ragel en Lea, die vroue van Jakob (Gen 30:1). Die hele stryd van Jakob se vroue wat oorhoops lê met mekaar word treffend beskryf in Gen 30.

Wat in bogenoemde gevalle veral aanleiding gegee het tot poligamie was, enersyds, die onvrugbaarheid van een vrou en, andersyds, die begeerte by die man om baie kinders te hê. Want meer vroue en baie kinders help dat daar meer werkkragte in die huishouding is, wat lei tot groter welvaart en finansiële sekuriteit vir die man. Dit was dus dikwels gewoon ekonomiese faktore wat poligamie bevorder het.

’n Ietwat ander situasie is die poligamie wat ons by die konings aantref, veral by Dawid en Salomo. Hier word poligamie tot die oortreffende trap gevoer, met Dawid wat aanvanklik sewe vroue gehad het en toe nog meer byvroue geneem het (2 Sam 5:13). Dit alles téén die uitdruklike verbod van Deut 17:17 dat die koning nie “baie vroue” mag hê nie (dit word nie gespesifiseer hoeveel “baie” is nie), sodat hy nie aan die Here ontrou word nie. En dan praat mens nie eens van Salomo met sy sewe honderd vrouens en drie honderd byvroue nie (1 Kon 11:3). Kennelik gaan dit hier nie meer oor normale huwelike nie, maar oor koninklike harems waar mag, aansien en die sluit van politieke ooreenkomste tussen vorste en konings op die voorgrond is. En ons weet wat die uiteinde van Salomo was: Hy is deur sy vrouens verlei om ander gode te dien, waarop die toorn van die Here teen hom ontvlam het (1 Kon 11:4-9).

Poligamie was egter nie die gewone gang van sake in Israel nie. Die normale was dat mans slegs een vrou gehad het. Hulle kon in elk geval nie meer bekostig nie. En uit die manier waarop die OT die probleme en hartseer beskryf waarmee poligamie gepaard gegaan het, is dit duidelik dat dit nie die Godgewilde weg was nie. Hierby moet ook nog gevoeg word dat die monogame huwelik telkens as die aangewese weg voorgehou word. Die wysheidsgeskrifte (bv Prediker en Spreuke), waar baie alledaagse kwessies aangesny word, praat byvoorbeeld glad nie eens oor poligamie nie. Inteendeel, die talle plekke waar oor die vrou in die gesin gepraat word, is dit binne die konteks van die monogame huwelik (bv Spr 5:15-19; Pred 9:9). En die lof waarmee die ideale vrou van Spr 31:10-31 besing word, kan slegs binne die monogame huwelik verstaan word. Laasgenoemde word ook as uitgangspunt geneem deur die profete wanneer Israel as die enigste vrou voorgestel word wat God as sy bruid gekies het (bv Hos 2:1-4; Jer 2:2). En daardie pragtige liefdesliedere van Hooglied wat die liefde tussen man en vrou besing, maak slegs sin binne die konteks van die monogame verhouding.

Teen hierdie agtergrond is dit geen wonder nie dat wanneer Jesus oor die wese en bedoeling van die huwelik handel, binne die konteks van die debat oor egskeiding (Matt 19:4-6), Hy teruggryp na die skeppingsverhaal van Genesis, waar dit oor die skepping van een man en een vrou handel wat as vennote in die huwelik vir mekaar gegee word om mekaar in liefde en trou te dien en te ondersteun (Gen 1:27). Die monogame huwelik word ook deur Paulus in Ef 5:21-33 gebruik om die verhouding tussen Christus en sy kerk uit te beeld – Christus as die hemelse bruidegom wat alles vir sy bruid, die kerk, opoffer. Verder moet ook nog genoem word dat in ’n poligame huwelik die minderwaardige posisie van die vrou as volslae onderhorige en selfs net nog ’n besitting van die man, veel opvallender is as in ’n monogame huwelik. Dit is uiteindelik slegs in ’n monogame verhouding waar die gelyke posisie van man en vrou die beste na vore kom, soos wat in Gal 3:28 veronderstel word. Man en vrou is gelyke vennote en sielsgenote van mekaar, en die monogame huwelik bied die beste konteks vir hierdie gelykheid om te ontwikkel.

Om op te som: Hoewel daar ’n tyd in die Godsvolk se lewe was waar poligamie voorgekom het, soos beskryf in die OT, moet dit as ’n afbuiging en verwording van die wil van God verstaan word. Dit was ’n tyd waar die volk meer volgens die voorbeeld van die omringende nasies geleef het as volgens die wil van God, en ook die slegte gevolge daarvan moes dra. Die bedoeling van God was altyd dat die huwelik as ’n verhouding tussen een man en een vrou gesien sal word. Hierdie verhouding word ook veronderstel in die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” Díe gebod is slegs goed verstaanbaar teen die agtergrond van die monogame huwelik. En waar die mens hierdie gebod verontagsaam, word die wese van die huwelik aangetas en ontstaan daar noodwendig allerlei probleme. Nogtans is dit treffend hoe die Here selfs waar sy wil oortree word, telkens genadig optree en maatreëls instel om ’n situasie wat streng gesproke teen sy wil is, te beredder. Wat weer eens wys dat ons ’n genadige God dien.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl