Pornografie – Vraag

Pornografie – Vraag – Jan van der Watt

Chris vra:

Ek wil weet wat behels pornografie. As n mens op ‘n  dateline gesels en kaal fotos word rondgestuur is dit pornografie of as n mens seks praat(dirty talk) kan dit ook beskou word as  pornografie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Wanneer is iets Pornografie?

Pornografie het te doen met die misbruik van seks op sekere wyses. Om die vraag te beantwoord moet ons dus eers so bietjie kyk wat die Bybel sê oor seksualiteit.

a) Opvattings oor seksualiteit is sterk sosiaal en kultureel bepaald. Mense in Europa trek anders aan as mense in die middel van Afrika of Suid-Amerika wat tradisioneel nog sonder bostukke of net met deurtrekkers rondloop. Toe ek 50 jaar gelede die eerste maal op die strand in Durban geloop het, het al die vroue swemklere gedra wat ‘n mens laat dink het aan mummies wat toegedraai is. Vandag lyk dit soms of daar materiaal skaarste is. In al die gevalle word daar gevoel dat daar nie noodwendig verkeerd opgetree word nie. So skuif en verskil opvattings oor wat seksueel aanvaarbaar is en wat nie. Daarom sal sommige mense anders oordeel as ander oor waar die grense lê en wat toelaatbaar is en wat nie.

b)  Kom ‘n mens nader aan die Bybel, dan kry ‘n mens ‘n behoudende standpunt. In die Ou Testament word seksualiteit primêr gesien as iets wat vir voortplanting bedoel is. Die man is gewoonlik as die draer van die karaktertrekke van die familie of stam gesien. By wyse van voorbeeld: die vrou was soos die saailand waarin die plantjie geplant word en groei. Sy dra nie tot die karakter van die plantjie by nie, die man wel. As ‘n stam of familie egter suiwer wil bly, mag daar nie vreemde plantjies in die saailand geplant word nie, want dan verander die aard en karakter van die stam en dit wil niemand hê nie. Daarom was daar baie spesifieke reëls dat vreemde mans nie met die vroue van ‘n stam moes meng nie. Dieselfde het gegeld vir die gesin. ‘n Ander man mag nie met ‘n getroude vrou saam wees nie, want dit stel die karakter van die hele gesin in gevaar en tas so die eer van die huweliksmaat ook aan.

c) Die Christendom staan in die tradisie van die Ou Testament en die Jodendom waar die beoefening van seks volgens streng riglyne beperk is. Natuurlik het die Christene in plekke soos Korinte of in Turkye in die gemeentes van Petrus met die heidene in dieselfde dorpe saamgeleef. Die heidene het in die meeste gevalle seks heeltemal anders gesien. Onder hulle was daar ‘n groot groep ‘vrymense’, met ander woorde, nie slawe nie. Ten einde hulle vryheid te bewys het hulle gesê dat jy jou deur niks aan bande moes laat lê nie. Daarom het hulle wilde partytjies gehou  waar hulle hulle vryheid ten volle beoefen het, beide ten opsigte van drank en seks (gewoonlik met vroue wat nie getroud was nie). Dit is ook meestal waarna die woord ‘porneia’ in die Nuwe Testament verwys. Dan was daar ook sogenaamde tempelprostitute wat vir die gode gewerk het en al hulle geld vir die tempel gegee het. Om seks met hulle te hê is gesien as om die godin aan wie die prostituut verbonde was te eer.

Die Christen het dus tussen in sulke losbandinge situasies geleef. Natuurlik het die vry opvattings van die heidene nie met hulle konserwatiewe Joodse opvattings gestrook  nie. Hulle het eenvoudig besluit om nie daaraan mee te doen nie. Dit is duidelik uit byvoorbeeld 1 Petrus 4:1-6 – lees die volgende: ‘3In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. 4Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle’. Kyk net: die heidene vind dit vreemd dat die gelowiges nie meer aan hulle wilde partytjie deelneem nie, want vir hulle was dit normaal! En nou die belangrike punt: die kuise opvattings oor seks het dus die Christene van die losbandige heidene onderskei. Dit het langsamerhand die manier geword waarop jy die Christene sigbaar van die heidene kon onderskei. Die Christene was kuis en was baie behoudend as dit by seks kom, soos die Ou Testament ook geleer het. In die vroeë geskiedenis van die Kerk, met die kerkvaders, het die konserwatiewe opvattings oor seks deel van die kerk se opvattings gebly en in baie gevalle is daar geglo dat seks die basis van alle sonde is. Van die kerkvaders het dan ook gedink dat mens glad nie seks moet beoefen nie.

Die konserwatiewe siening is vandag nog deel van ons Christelike en Westerse samelewing.

d) Die argument het egter met die loop van tyd verder ontwikkel. Sake soos die respek vir ander persone, die persoonlike eer van mense, en nog ander sake het deel van die gesprek geword. Om iemand anders se liggaam sonder toestemming te neem het ’n taboe in ons kulturele opset gebly. Tog is die diskussie heftig. Doen mens iemand skade aan deur na sy of haar foto te kyk, sou  sommige vra, veral in die lig van die gedagte dat sommige argumente teen pornografie berus op die argument dat dit die model in die foto oneer aandoen. Dit maak die debat moeilik – daar is nooit net een sy van die saak in die debat nie.

e) Dit bring ons nou by pornografie as sodanig. In lande wat post-Christelik is (soos in dele van Europa), word die verkoop van naakte foto’s en selfs prostitusie toegelaat, omdat hulle sê dat as twee volwassenes toestem om dit te doen, al is dit teen betaling, kan dit nie gekeer word nie, omdat die vryheid van keuse nie so ingeperk kan word nie. Dit geld ook vir Suid-Afrika wat sulke foto’s toelaat op grond van die vryheid van die individu. Kinders word egter steeds beskerm. In Nederland, waar ek bly, kry jy pornografiese TV kanale as deel van jou televisiepakket wat jy koop. Dit is eenvoudig deel daarvan soos die nuuskanale of flieks of sport deel van die pakket is. Daar word geargumenteer dat dit deel van mens se persoonlike vryheid is om ook sulke kanale tot jou beskikking te hê as jy graag daarna wil kyk. Tog moet ek weer beklemtoon dat die debat daaroor steeds voortgaan. Binne so gemeenskap is daar heelwat diskussies oor die negatiewe effekte wat so ‘n vrye situasie op mense kan hê. Daarop gaan ek nie nou in nie.

Die meeste Christene, spesifiek ook in Suid-Afrika, sou egter die uitlokkende foto’s van naakte mense dadelik afwys, vanweë die feit dat kuisheid oor die eeue as ‘n belangrike teken vir goeie Christenskap gesien is. Tog wissel die siening ook – soos hierbo vermeld, 50 jaar gelede sou mense ‘n hartaanval gekry het as iemand met ‘n doodgewone hedendaagse swembroek op die strand loop. Opvattings skuif ook dus maar. Dit maak ons bewus daarvan dat daar nie noodwendig vaste grense is nie. Dit is in ‘n groot mate ‘n kwessie van die kultuur en wat die mense met wie jy jou assosieer daaroor dink. Veral gaan dit oor waarmee jy jouself voor die Here gemaklik voel. Dit gaan inderdaad oor wat jou motiewe is met wat jy doen.

Die vraag is nou, wat is pornografie. Vanuit ‘n Christelike hoek word dit negatief beoordeel omdat dit jou stimuleer om jou seksuele drange verkeerd te gebruik. (Ek gaan nie hier in op al die argumente dat die pornografie modelle uitgebuit word, of dat dit die vrou of man bloot ‘n objek van seks maak en so verdinglik nie. Dit is alles geldige argumente). Naakte liggame is nie noodwendig verkeerd nie – kyk maar na al die skilderye met naakte vroue wat as meesterwerke beskou word. In die grootste museums kry mens tale beelde van naakte vroue. Dit is nie al waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor jouself en wat in jou gedagtes aangaan. Waarvoor kyk jy die foto’s, video’s of wat ook al? Wat wil jy daarmee maak? Watter gedagtes kom by jou op as jy dit kyk? Voel jy of jy ingetrek word in ‘n spiraal waaruit jy nie kan kom nie, omdat jy byna verslaaf voel.

As die antwoord op die vrae jou ongemaklik laat, as jy skaam is dat jou familie ongemaklik gaan voel, as jy moeiliker met God praat, dan moet die rooi ligte vir jou aangaan. Daar is nie ‘n vaste reël wat sê pornografie begin byvoorbeeld as die vrou nie meer ‘n top aanhet nie. Dit kan vir iemand vroeër of later al begin. Dit sou egter nie ver van die kol wees om te sê dat as jy ‘n Christen is, jy liewer maar nie te ver moet eksperimenteer nie. ‘n Kenmerk van Christene is steeds dat hulle kuis probeer leef en dit sluit in om nie die pad te loop waar naakte foto’s van die teenoorgestelde geslag hulle in die versoeking begin lei nie. Vermy dit liewer.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt