Psalm 10 (5)

image_pdfimage_print

 

As the social cost of claiming to be a Christian increases, the percentage of nominal Christians decreases. —D.A. Carson

 

Psalm 10 (5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies van Psalm 9 en 10

Die basiese temas van die psalms is – die heerskappy van God, die verteenwoordigende rol van die koning, die pleit vir hulp in tye van nood, die paaie van die goddeloses en God se geregtigheid ten opsigte van die swakkes en armes. Dit praat ernstig met magtige nasies en bemoedig swakkes.

  1. God is die een wat in die verlede op wonderlike maniere opgetree het in die geskiedenis van Israel. Hy het hulle verlos van nasies wat hulle aangeval het; Hy het hulle nooit in die steek gelaat as hulle sy hulp gesoek het nie. God het beslissend opgetree teenoor nasies wat goddeloos opgetree het – Hy het die nasies en hulle beskawings van sy land uitgewis. Dit beteken dat Hy dikwels die vernietigende mag van die nasies teen hulleself gebruik het.
  2. Hierdie dade bewys dat God die Allerhoogste is; Hy sit permanent op sy troon en vandaar oefen Hy gesag oor die wêreld en sy mense uit. Hy sit in Sion, die fokus van sy heerskappy, op sy troon. Daarvandaan tree Hy regverdig, beslissend  en getrou op. Sy optrede beïnvloed die individu – dit bring verlossing. God is ‘n toevlug vir mense met probleme. As die swakkes uitroep, reageer God op daardie uitroep en straf die goddeloses. Mense kan nie meer ander terroriseer nie – God laat dit nie meer toe nie. God kan die goddelose na hulle dood stuur; Hy kan die regverdiges wegruk by die poort van die dood. Hy versterk hulle hart en luister na hulle gebed. God is nie net by die eindtyd betrokke nie: God is nou betrokke.
  3. Die feit dat mense na God moet uitroep, beteken dit dat Hy soms net sit of selfs wegkruip. Hy moet opgewek word tot optrede. Ons mag dink dat God die geroep van die swakkes geïgnoreer het, maar dit is nie so nie.
  4. Die nasies word deur goddeloosheid gekenmerk. Hulle ignoreer en minag God; hulle is maar te bewus van hulle eie posisie; hulle weet hulle regeer die wêreld; hulle sien God as daar ver en nie betrokke by die wêreld nie. Hulle glo God weet nie wat hier aangaan nie. Eintlik is daar geen God nie. Hulle glo dat hulle mag nooit gebreek sal word nie; hulle sien hulleself nie as menslik nie.
  5. Hulle is ook ontrou in hulle verhoudings met die res van die mensdom – veral die swakkes. Hulle benadeel die swakkes; hulle innerlike begeertes is vir hulle baie belangriker as God. Hulle kombineer bedrog en onderdrukking deur gebruik te maak van wetlike, maar onderduimse, metodes.
  6. Die mense oor wie God bekommerd is, is diegene wat sy Naam erken. Hulle plaas hulle vertroue in Hom en roep uit na Hom, want hulle is swak, arm, gebroke en kwesbaar. Hulle verhouding met God sluit in dat hulle sy Naam erken: hulle weet wie Hy is en lewe dienooreenkomstig. In hulle swakheid nader hulle God om in genade op te tree.
  7. Die verhouding met God betrek die mense individueel en korporatief. Hulle erken wie God is en erken wat Hy in die verlede alles gedoen het. Dit beteken hulle juig van blydskap. Hulle vertel van God se dade in Sion en onder die mense.
  8. Dit beteken hulle is oortuig dat God sien as nasies aggressief optree en dat Hy sal optree en hulle verlos. Dit is ‘n vertrouensverhouding wat dinge aan God oorlaat.
  9. Dit behels dat God gevra word om beslissend op te tree in die lewe van nasies en om nie die lot van die kwesbares te ignoreer nie. God moet dus aangespoor word om rampe oor die goddeloses te bring. Hy moet hulle planne op hulleself laat terugslaan. Dan sal hulle erken dat hulle maar net menslik is. God moet die mag van die goddeloses breek – alle goddeloosheid moet uitgeroei word. Dit beteken dus die psalmis is bekommerd oor God se eer, wat is reg en wat is verkeerd en vir wat in hulle belang is.

 

Die naam van God is gereeld op die lippe van die psalmis. Dit is afwesig van die lippe van die goddeloses, want hulle wil God elimineer. Die feit dat God by sosiale verhoudings van die regverdige en goddelose betrokke is, verander hulle vooruitsigte. Dit gaan hier oor alternatiewe politiek.

 

Wat sê hierdie psalm vir ons wat ook, soos die digter, van tyd tot tyd gebuk gaan onder die haat en nyd van die goddeloses?

  1. Dit herinner ons dat ons nie alleen staan nie. Al voel dit soms vir ons of God ver van ons af is, is Hy nog steeds daar. En al dink ons teenstanders die meeste van die tyd dat niemand van hulle geknoei weet nie, sien God tog elke ding wat hulle doen.
  2. Dit verseker ons dat ons welkom is by God. Net soos die digter mag ons met al ons nood na Hom toe gaan en mag ons bid vir die hulpeloses: die wese en weduwees; die eenvoudiges; die armes.
  3. Dit beloof ons dat God uitkoms sal gee omdat Hy dit kan gee: Die Here bly altyd koning. Maar veral omdat Hy wil gee: Hy is ‘n barmhartige God wat gebede verhoor sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.

 

 

 

image_pdfimage_print