Psalm 119:38

 

Psalm 119:38

Vervul ook aan my die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien (NAV)

Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees (OAV).

Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe (Die Boodskap).

 

 

Die psalmis vra hier dat God sy belofte (vermoedelik aan die psalmis) moet vervul. Twyfel die psalmis hier? As God sy belofte gemaak het, hoekom moet die psalmis Hom nog vra om dit te vervul? Is God se  belofte nie voldoende nie?

 

Die Bybel is nie hiermee ongemaklik nie. Ander gelowiges in die Bybel het soortgelyke bevestigings gevra. Luister na Dawid: En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het (2 Samuel 7:25). Of Dawid die skrywer van Psalm 119 is, is onseker. Wat wel waar is, is dat ‘n gelowige bevestiging van God soek. Die Bybel het geen probleem daarmee nie. Toe hy nog kinderloos was, het Abraham bevestiging van die belofte van ‘n nageslag gesoek. God bevestig sy belofte met visuele herinneringe van stof, sand en sterre (Genesis 13:16; 15:5; 22:17).

 

Maar selfs te midde van wat vir ons soos twyfel lyk, bly die psalmis aan God verbind – hy nader God direk om bevestiging te kry. Hy ken ook sy plek relatief tot dié van God. Hy noem homself dienaar/kneg.

 

Here, terwyl ons wag dat U u beloftes vervul, gee aan ons geduld, geloof en bevestiging. Amen.