Psalm 119:51

You can’t do anything about the length of your life, but you can do something about its width and depth. -H.L. Mencken, (1880-1956)

Psalm 119:51

Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur, maar van u wet het ek nie afgewyk nie (NAV)

Vermeteldes het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie (OAV)

Selfs al spot slegte mense met my, hou ek nie op om te doen wat U sê nie (Die Boodskap)

 

Die primêre kampvegter vir die afskaffing van slawerny in Engeland was William Wilberforce. Hy het terloops die hele Psalm 119, die langste hoofstuk in die Bybel, gememoriseer. Die psalmis moes die spot van hovaardige, slegte, vermetelde mense verdra. Hoekom: Die psalmis sê nie vir ons nie. Dit lyk egter of dit verband hou met sy liefde vir God se wet. Ten spyte van die spot weier die psalmis om van God se wette af te wyk.

Daar is baie redes waarom mense gespot word as hulle aan God se wet vashou. Wilberforce is gespot, want hy het die status quo bedreig deur die afskaffing van die slawehandel te bepleit. Omdat alle mense na God se beeld gemaak is, het hy geglo dat alle mense respek in ‘n gelyke mate werd is. Sy liefde vir Psalm 119 het hom waarskynlik bemoedig om vas te staan ten spyte van sterk teenstand – veral as hy besef dat die psalmis ook teenstand en spot ondervind het.

Die slawehandel is nog nie verby nie – dit is net in nuwe vorms teenwoordig. Daar is baie sulke oortredings wat die waardigheid van mense ondermyn. Staan ons vas in sy wet? Hou ons nie op om te doen wat Hy sê nie?