Psalm 18 (4)

 

The apostle does not say that Christ was sent to help us obtain righteousness, but to be our righteousness – Johannes Calvyn

 

Psalm 18 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons gaan nou sien hoe die Here verlos het (18:17 – 30)

 

Die psalmis beweeg nou na ‘n ander beeld. Die Here tree steeds van bo af op. Die Here se verlossing sowel as die aanbidder se trou, word beklemtoon.

 

17Uit die hoogte het Hy sy hand uitgesteek, my vasgegryp, my uit die watermassa opgetrek.

Die psalmis gaan voort met die Here se verlossingsoptrede. Die Here is nog in die hemel, maar Hy luister en tree op. Vandaar steek die Here sy hand uit en gryp en trek die psalmis uit die watermassa. In die Bybel is die watermassa ‘n bedreiging. Vir Israel se vyande beteken dit die dood – dink aan die Egiptenare by die Rietsee.

 

18Hy het my weggeruk van my kragtige vyand, weg van my haters, want hulle was sterker as ek.

19Op die dag van my teenspoed het hulle my ingewag, maar die Here was vir my ‘n streunpilaar.

Haters versterk die idee van vyande. Die Here is ‘n steunpilaar – soos ‘n staf waarop jy kan leun en wat jou nie in die steek sal laat nie.

 

20Hy het my uitgelei na ‘n oopte, Hy het my bevry omdat Hy my goedgesind was.

Hier begin die psalmis die rede vir die Here se bevrydingsoptrede verduidelik. ‘n Negatiewe gebeurtenis  word dikwels as een van beperking gesien – ‘n tronk. Nou ondervind die psalmis ‘n oopte – vryheid, spasie. Hoekom doen die Here dit? Omdat Hy my goedgesind was. Hoekom was Hy goedgesind teenoor die psalmis?

 

 21Die Here het aan my goed gedoen omdat ek doen wat reg is; Hy het my vergoed omdat my hande skoon is.

Die Here was goedgesind teenoor die psalmis, want hy het gedoen wat reg is. Hy maak dit nog duideliker: omdat my hande skoon is. Dit impliseer morele reinheid – hy het nie bloed op sy hande nie.

 

22Want ek het  op die Here se paaie gebly en my nie skuldig gemaak voor my God nie.

Hier word weer na die psalmis se gehoorsaamheid verwys. Dit was sy bydrae om verlossing moontlik te maak. Die eerste deel verwys na konkrete gehoorsaamheid; die tweede deel  verwys na die beginsel van trou.

 

23Ja, ek hou al sy wette voor oë en sy vaste voorskrifte wys ek nie af nie.

Ek het op die Here se paaie gebly, word nou verder verduidelik. Sy wette en voorskrifte verwys na sy paaie – dit is paaie wat die Here goedkeur. Om hulle te onderhou, moet ons hulle gedurig voor ons oë hou.

 

24Ek was onberispelik voor Hom, want ek het my weerhou van sonde.

Hoe was hy getrou aan God? Hy was onberispelik voor God en hy het hom van sonde weerhou. Hy was ‘n persoon van integriteit – ten volle toegewyd. Om dit te kan sê, moet hy hom van sonde weerhou.

 

25Die Here het my vergoed omdat ek doen wat reg is, omdat my hande skoon is in sy oë.

Hierdie herhaal vers 21 feitlik woordeliks.

 

26Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor iemand wat onberispelik is, tree U onberispelik op!

27Teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor dié wat vals is, tree u berekenend op!

Hierdie verse maak dieselfde punt, maar op ‘n nuwe manier. Die aanbidder sê dat hy ‘n getroue volgeling is. Hy maak dit nou duidelik. Hy word deur toeyding, integriteit en reinheid gekenmerk. Die psalmis se teenstanders, daarenteen, is vals. Hulle loop nie op God se paaie nie.

 

28Ja,dit is U wat ‘n magtelose volk verlos en trotse oë verneder;

Hier kry ons ‘n verwysing na ‘n volk. Die res van die psalm verwys na ‘n persoon, waarskynlik die koning. Die koning veg vir sy mense en daarom was sy verlossing hulle s’n. Sy magteloosheid was ook hulle magteloosheid. Hulle verlossing  en magteloosheid staan teenoor die vernedering van trotse oë – arrogansie.

 

29dit is U wat my lig laat skyn, Here. My God verlig my donkerte.

Die Here bring lig waar daar duisternis was.  Die uitwissing van ‘n persoon se lig is ‘n beeld van die dood. God hou hulle dus aan die lewe; Hy bring hulle terug van doodsgevaar.

 

30Met U hardloop ek oor ‘n verdedigingswal, met my God spring ek oor ‘n stadsmuur.

Hoe het die Here die koning se lewe gered? Deur die leier se positiewe en aggeressiewe optrede  teenoor sy vyande.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na die omgekeerde situasie.