Psalm 22 (2)

 

There is nothing that leaves a man so open to sinister insinuation as the management of public funds (Calvyn).

 

Psalm 22 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

22:4 – 6: Ware gebed: ‘n Vertrouensuitspraak.

Hierdie gedeelte staan teenoor vers 2 – 3. Dit verwys na die basis vir die lof vir God se dade in die verlede. Let op dat die my van die eerste verse in vers 6 met ons vervang word. Die verlossing in die verlede is net so werklik soos die huidige verlatenheid.

 

4U is tog die Heilige, U heers waar die lofliedere  van Israel opklink.

Die beeld van God wat op sy troon in die hemel of op Sion sit, is ‘n bekende beeld. Die herinnering dat die Here die Heilige is, herinner ons dat Hy ‘n magtige God is. Hy het die mag om die psalmis te verlos, maar doen dit nie. Die Here is die enigste God en verdien Israel se lof.

 

5Op U het ons voorvaders vertrou, hulle het vertrou en U het hulle bevry.

6Tot U het hulle geroep en hulle het ontvlug; op U het hulle vertrou en staan nie beskaamd nie.

Hierdie is ‘n verwysing na die Israeliete se verlossing uit Egipte. Toe het die voorvaders op die Here vertrou en Hy het hulle verlos. Daar het hulle uitgeroep en die Here het geluister. Die roep na die Here is ‘n uitdrukking van vertroue. Dat hulle ontvlug het, beteken daar is geen rede vir skaamte nie.

 

Die psalmis se vertroue op die Here, die oënskynlike vergeefsheid daarvan ten spyt, is nie maar net mooipraatjies nie. Dit staan vas, want dit is gebaseer op wat God in die verlede gedoen het. Hy is die Heilige wat anders is as mense. Hy woon waar die lofsange van Israel weerklink: die lofsange is sy troon – nes die ark. Hy is koning en sy verbondsvolk maak voortdurend vir Hom ‘n troon met hulle lofgesange wat sy wonderdade besing. Die voorvaders het nooit tevergeefs op God vertrou nie. Dit is die psalmis se troos en anker in hierdie stormtyd. Sy troos en hoop is daarin geleë dat God tot nou toe nog altyd uitkoms gegee het.