Psalm 22 (7)

 

Poverty is not made by God, it is created by you and I when we don’t share what we have. Moeder Teresa

 

Psalm 22 (7)

 

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Hierdie psalm is ‘n model vir die gebede van gewone Israeliete en Christene as hulle teenspoed ondervind. Dit is veral toepaslik vir mense wat die drie vorme van teenspoed waarvan die psalm praat ondervind.

  • Die gevoel dat hulle persoonlik oorweldig is – hulle voel hulle is besig om uitmekaar te val; hulle staar die dood in die gesig.
  • Hulle word deur ander mense vervolg. Hulle word verag en gespot deur mense wat sterk en vyandig is – soos wilde diere. Menslike geweld is die fundamentele probleem waarmee ons sukkel. Dit wys vir ons hoe ‘n groep van iemand ‘n sondebok kan maak om hulle geweld te regverdig.
  • Dit voel asof God hulle verlaat het – God tree nie in om hulle te help en te verlos nie. God antwoord nie hulle gebede nie. Die psalm sê dat mense moet erken dat dit hulle ondervinding is. God was nie teenwoordig by die psalmis nie en Hy verwag nie dat ons moet voorgee dat dit so is as dit nie so is nie.

 

In die konteks van daardie ondervinding vra die psalmis dat ons van ‘n tweede stel feite bekend moet wees.

  • Ons herinner God en onsself aan God se optrede in die verlede – veral sy verlossing van sy mense. Hier gaan dit veral oor sy skepping van die mens. Dit bemoedig ons en daag God uit.
  • Ons herinner God en onsself aan sy betrokkenheid in ons persoonlike lewens – reeds vanaf ons geboorte.
  • Ons vra God om naby te wees en op te tree. Hy moet verlos en nie mense aan vervolging oorlaat nie.
  • Ons glo ons eie argument. Ons glo dat God sal optree en ons begin reeds so praat.

 

Die direkte verwysing van die psalm is die lyding van die gelowiges. Jesus het na hierdie psalm verwys. In die evangelies kry ons heelwat verwysings na hierdie psalm:

  • Die soldate wat die sterwende Jesus se klere onder mekaar verdeel deur daaroor te loot (Markus 15:24; Psalm 22:19).
  •  Die verbygangers wat wat Jesus spot, hulle koppe skud en Hom selfs uitdaag (Markus 15:29 en Psalm 22:8 – 9)
  • Tydens sy kruisiging gebruik Jesus hierdie psalm se openingswoord (Markus 15:34). So identifiseer Hy Hom met iemand wat deur God verlaat is.

 

Ons moet na Jesus in sy geheel in die lig van hierdie psalm kyk:

  • Jesus se gebruik van die openingswoorde van die psalm verwys na die aaklige werklikheid van die kruis. Dit beteken Jesus is van die Vader afgesny. God se toorn is nie omdat Hy die sonde van die wêreld dra nie. God identifiseer steeds met Hom en met wat Hy doen. God verlos nie vir Jesus nie, want anders kan Jesus nie die menslike sonde dra nie.
  • As Jesus met verse 4 – 6 identifiseer, identifiseer Hy met Israel. Sy werk moet in die konteks van God se werk met Israel gesien word. Hy het gekom om Israel te hernuwe. Daarom kan God Hom nie vir altyd verlaat nie.
  • Verse 7 – 9 begin dit duidelik maak dat  Jesus se probleem die vyandigheid van die mense is. Dit wys dat God die mense toelaat om tot die einde te gaan in hulle opstand teen God. Dit wys ook dat Jesus bereid is om tot die einde te gaan in die beliggaming van God se liefde. In Jesus dra God die totaliteit van die mens se opstand.
  • Verse 10 – 11 dink Jesus terug aan sy ondervinding as kind van Maria. Toe God ‘n moeder vir Jesus gesoek het, kies Hy ‘n vrou wat gewillig was om 100% beskikbaar vir Hom te wees. God voorsien in sy behoeftes deur haar.
  • Die middelpunt van die psalm is die klaaglied in vers 12 – 19. Dit druk duidelik die verwerping deur mense uit soos duidelik blyk uit Jesus se lyding. Die magtige mense wat Jesus aangeval het, is godsdienstige en politieke leiers wie se posisie deur Jesus se onderrig bedreig is.
  • Vers 20 – 23 is die gebed wat Jesus gebid het en wat God nie beantwoord het nie.
  • Vers 24 – 32 is Jesus se uitnodiging om vir God te loof vir sy reaksie op ‘n swak persoon. Hierdie optrede van God is ‘n belofte vir ander swak mense wat Hom aanroep. Hy sal reageer op hulle behoeftes.

 

Psalm 22 sê: My nood raak ook die geloofsgemeenskap – dit word ook hulle nood. My verlossing word ook hulle verlossing; my lof word ook hulle lof.  So word ons stemme ‘n simfonie van lof tot eer van dié God wat hoor as sy kinders na Hom roep. Daarom moet my oë oop wees vir my medegelowiges se nood. Ek moet saam met hulle huil en saam met hulle juig. Ons behoort almal aan God se familie.

 

Toe Jesus aan die kruis die aanvangswoorde van hierdie psalm uitgespreek het, het Hy die hele psalm, in al sy rykdom, ‘n werklikheid gemaak. Die lyding, die Lyer, die verlossing, die Verlosser en die hele aarde vir altyd die koninkryk van God vol onderdane wat Hom dien. Jesus het nie net saam met die lydende mensheid van alle eeue gely nie – Hy het ook vir hulle gely en hulle so verlos. Jesus se uitroep aan die kruis was sodat ek nooit weer van God verlate hoef te voel nie.