Psalm 23 (1)

 

There is no forgiveness of sins without a truly repentant heart to which sin is sincerely painful and which renounces it with all its power.  – Emil Brunner

 

Psalm 23 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Die Here is my herder.

Psalm 23 is ‘n psalm van vertroue en bevat geen pleidooi nie. Dit manifesteer dieselfde hoop as dié waarmee Psalm 22 eindig. Kenmerkend is die gebruik van simbole. Hierdie psalm kan op verskillende maniere toegepas word. Dit verwys waarskynlik na  ‘n gewone individu, maar kan ook van toepassing op ‘n leier/koning  en die gemeenskap as geheel wees.

 

Vers 1 – 4 pas bymekaar, want hulle bevestig die Here se omgee deur gebruik te maak van die beeld van ‘n herder. Vers 5 – 6 gebruik ‘n ander beeld vir die gasvryheid van die Here. Die Here

is die herder wat versorg deur die voorsiening wat ons in sy huis ontvang.. Daar is feesviering en vreugde. Aanbidding betrek die hele persoon en is ‘n verhouding met die Here wat nie tot die godsdienstige lewe beperk is nie. Die Here is ook ons herder as ons uitgaan in die wêreld met sy gevare en vyandigheid.

 

Hierdie is ‘n baie gewilde psalm by almal – Jode, Katoliek en Protestant. Dit pas by ‘n huwelik en ook by ‘n begrafnis. Dit beskryf, duideliker as enige ander Skrifgedeelte, die indiwidu se ondervinding van God se genade.

 

Die beeld van die skaap is waarskynlik meer universeel as enige ander beeld wat gebruik kan word. ‘n Skaap is heeltemal afhanklik van sy herder – hy moet hom versorg, lei en beskerm. ‘n Mens voel spontaan die skoonheid van groen weivelde, waters waar daar rusplek is en ander aan. Die donkerste kloof is wat vir elke mens voorlê. Dit is die een absolute sekerheid wat ons almal het: ons gaan sterf.

 

Ons moet onthou dat in die Bybelse tyd die woord herder dikwels ‘n aanduiding van die koning was. Die Here is Israel se enigste Koning en daarom word Hy dikwels Israel se Herder genoem. Die digter spreek ‘n belydenis uit en hy antwoord op die vraag: Wie is jou koning?