Psalm 24 (1)

 

Christian leaders must practice what they preach if they are to see what they preach practiced. —Douglas Milne

 

Psalm 24 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Jahwe se eienaarskap van die wêreld; voorwaardes om Hom te nader; laat Hom toe in die stad.

Hierdie psalm bestaan uit drie kort afdelings wat min verband met mekaar het. Dit mag selfs wees dat die drie afdelings se oorsprong onafhanklik was. Vers 1 – 2 verklaar dat Jahwe die aarde gevestig het. Daarom behoort dit aan Hom. Vers 3 – 6 bestaan uit ‘n vraag oor die kwalifikasies wat vereis word om in Jahwe se teenwoordigheid te kom, ‘n antwoord en ‘n verklaring dat die sprekers voldoen aan die kwalifikasies. Vers 7 – 10 bestaan uit ‘n opdrag dat die poorte vir die roemryke Koning oopgemaak moet word. Dit word gevolg deur ‘n vraag oor die Koning se identiteit en die antwoord.

 

24:1 – 2: Wie is die God wat die mens in sy heiligdom ontmoet?

Van Dawid. ‘n Psalm.

Hierdie psalm mag verband hou met Dawid se bring van die verbondsark na Jerusalem of met die koning se gereelde viering van die Here se posisie by die verbondsark as Koning.

 

Aan die Here behoort die aarde en alles daarop, die wêreld en dié wat daar woon.

2want Hy het dit op oseane gegrond en op strome gevestig.

Die Here het die aarde vas gevestig en daarom behoort dit aan Hom. Uit hierdie stelling kan ons ‘n paar afleidings maak:

  • Dat die Here gesag oor die hele wêreld het; en
  • Dat die Here deur die hele wêreld erken moet word.

Vers 2 gee dan vir ons die basis vir hierdie stelling. Die Here is die eienaar van die wêreld, want Hy het dit gevestig – Hy het die fondamente van die wêreld gelê. Hy het die wêreld op vaste fondamente gelê. Onder die wêreld is groot reservoirs water. Ons sien dit in die riviere en fonteine wat te voorskyn kom. Tog is die wêreld vas – die Here het dit so gemaak.