Psalm 26 (2)

 

The Christian ideal has not been tried and found wanting; it has been found difficult and left untried – G.K.Chesterton

 

Psalm 26 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

26:3 – 5:

Hierdie verse beskryf nou die psalmis se aanspraak op morele integriteit.

3Want ek hou u troue liefde voor oë en ek leef volgens u waarheid.

Om iets voor jou oë te hou, beteken dat ek daaraan aandag gee en dit goedkeur. Die Here se troue liefde is dus ‘n aanmoediging of ‘n reaksie – ek gaan dieselfde probeer doen. Met God se troue liefde in gedagte kan die psalmis nie anders as om volgens sy waarheid te leef nie. Hier verbind die psalmis troue liefde en u waarheid. Hierdie twee vorm ‘n paar.

 

4Ek sit nie met bedrieërs nie, en by die slinkse mense kom ek nie.

Sit en planne maak, word deur optrede gevolg – ons implementeer die planne. Ons moet vermy om saam met bedriërs en slinkse mense te sit. Hierdie aandrang om nie met hierdie soort mense te sit nie, staan teenoor om in God se waarheid te leef.

 

 5Ek het ’n weersin in die byeenkoms van kwaaddoeners, en by goddelose mense sit ek nie.

Hierdie vers maak dieselfde punt, maar sterker: Ek het ‘n weersin. Hy sit nie by kwaaddoeners en goddelose mense waar hulle besig is om hulle planne te maak nie. Hy hardloop eerder in die teenoorgestelde rigting.

 

Die psalmis vermy mense wat verkeerd lewe – bedrieërs … slinkse mense … kwaaddoeners … goddelose mense. Godsdiens bestaan nie slegs uit die vermyding van die kwaad nie, maar ook in doen van die goeie. Die goeie sluit in deelname aan die formele godsdiens in die huis van die Here. Daarna gaan ons in die volgende blog kyk.