Psalm 30 (2)

 

Yet we should remember that all love comes from God – Pelagius (354 – 420).

 

Psalm 30 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

30:5 – 6:

Hierdie psalm vier die Here se verlossingskrag, maar ook die doeltreffendheid van spraak – beide woorde in gebed aan God en woorde van lofprysing aan God in danksegging. Die danksegging aan die Here vind in die openbaar plaas waar ander mense dit kan hoor. Dit is dus ‘n getuienis.

 

5Sing vir die Here, julle wat sy getroue volgelinge is,

en loof sy heilige, gevierde Naam,

Dit gaan oor die musikale vorm van uitdrukking en oor die inhoud daarvan. Dit gaan oor die psalmis se toewyding aan die Here. Dan noem die psalmis die onderwerp van hierdie lofsang: die heilige, gevierde Naam van die Here.

 

 6Want sy woede duur ‘n oomblik. Sy goedgesindheid ‘n lewe lank.

In die aand word daar aanhoudend gehuil maar teen die oggend is daar ‘n gejuig.

Hierdie vers verduidelik waarom die Here se optrede teenoor een mens goeie nuus vir ander is. Die Here se verlossing van ‘n individu bewys wie Hy is. Hierdie kennis is betekenisvol vir mense in die algemeen. Die algemene waarhede soos bewys deur sy optrede hou verband met wie Hy is en hoe Hy optree. Want sy woede duur ‘n oomblik. Sy goedgesindheid ‘n lewe lank. Die Here se goedgesindheid is nie iets wat die psalmis verdien het nie. Die oorgang van hartseer na vreugde kan oornag plaasvind. Dit wys vir ons hoe vinnig die Here kan genees.

 

30:7 – 8:

Die psalm kon by vers 6 opgehou het. Vers 7 – 13 herhaal net die storie. Dit wat die Here gedoen het, moet meer as een keer en op meer as een manier vertel word. Hierdie verse vertel hoe dinge was en hoe dinge skeef geloop het.

 

7Ek is die een wat onbesorg gesê het: “Niks sal my ooit laat wankel nie!”

Die psalmis kyk terug toe dinge nog reg was. Dit wil voorkom of daar geen rede is waarom hierdie Godgegewe welstand nie vir altyd kon voortduur nie. Hier is geen rede om te dink daar was vals selfvertroue by die psalmis nie.

 

8Deur u goedgesindheid het U, Here, krag gevestig as my berg.

Verberg U u gesig, is ek verskrik.

Dit was nie oormatige selfvertroue nie, maar die Here wat gemaak het dat hy onbesorg was. Dit het die Here in sy liefde gedoen. Tog het alles in dui gestort. As die Here sy gesig verberg, is dit skrikwekkend. Dit is nie net geestelik dat God onbereikbaar was nie, maar Hy het ook sy seën en beskerming onttrek. Dit is wat hom in die aand laat huil het.