Psalm 31 (3)

image_pdfimage_print

Much violence is based on the illusion that life is a property to be defended and not to be shared – Henri Nouwen

 

Psalm 31 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

31:7 – 9

Die krisis is oor. Die Here het gereageer. Later sal dit blyk dat die verlossing nog in die toekoms lê. Die psalmis weet egter dat die Here sy gebed gehoor het en gereageer het. Daarom praat hy asof die verlossing reeds plaasgevind het.

 

U het my gered, Here, troue God.

Hier kry ons die begin van die stelling wat die Here gedoen het – Hy het onderneem om iets te doen.Hy het opgetree volgens die oortuigings wat ons in vers 4 – 5 kry.

 

7Ek het ‘n weersin in mense wat nietige afgode aanhang, maar ek, ek vertrou net op die Here.

Hier word na die gesindheid van die psalmis gekyk. Hy het niks te doen gehad met mense wat afgode aanhang nie – hy het ‘n weersin in hulle. Nietige afgode wys dat hierdie gode verteenwoordig deur beelde, geen substansie of mag het nie. Hulle kan nie met die Here vergelyk word nie. Die antwoord van die Here bevestig die psalmis se stelling dat hy niks met afgode te doen het nie.

 

8Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde; U wat my ellende raakgesien het, wat besorg was oor my bekommernisse,

Hier kyk die psalmis vooruit oor hoe hy hom in die verlossing van die Here sal verheug. Dit is gepas as die Here se belofte ‘n werklikheid word. Verlossing is ‘n bewys van die Here se toewyding. Die Here het nie net bewus geword van sy swaarkry nie, maar reageer daarop.

 

9 my nie oorgelewer het in die hand van my vyand nie, maar my voete op ‘n ruim plek laat staan het.

Hierdie vers sluit die optrede uit die verlede af en beskryf die optrede van die Here – eers negatief en dan positief. Die verwysing na ‘n ruim plek beteken dat die verlossing van die Here die psalmis van ‘n nou paadjie waar jy maklik kan val, beweeg het na ‘n ruim plek waar hy nie langer in gevaar is nie. Die Here het verhoed dat die psalmis in die hande van sy vyande val.

 

Die digter se vertroue was nie tevergeefs nie. God staan nie onverskillig as die mens in opregtheid op Hom vertrou nie. Die digter verag egter mense wat nikswerd afgode aanbid. Hoekom stel die digter sy vertroue in die Here?

  • God se troue liefde het hom rede gegee om te jubel;
  • God was nooit onverskillig teenoor sy ellende nie;
  • God het die bedreiging in sy lewe raakgesien;
  • God het hom nie aan sy vyande oorgelewer nie; en
  • God het hom ‘n veilige staanplek gegee.

In die Here kan ek my vertroue stel.

 

 

image_pdfimage_print