Psalm 33(2)

 

It’s so much easier to pray for a bore than to go and see one – C. S. Lewis

 

Psalm 33(2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

33:4 – 7: Redes vir lof

Want lei die eerste stel redes vir die nuwe lied in. Hier word na twee redes verwys:

  • Die algemene aard van die Here se verhouding met die wêreld; en
  • Die manier waarop die Here aan die begin die wêreld gemaak het.

 

4Want die woord van die Here is reg, en al sy werk is betroubaar.

5Hy is lief vir reg en geregtigheid; die troue liefde van die Here vul die aarde.

Die Here het die eienskappe van die mense wat Hom moes loof. Nog eienskappe word bygevoeg. Hy is opreg en betroubaar, maar ook regverdig en vol liefde. Dit is sy woord wat reg is – sy beloftes sal ons nooit mislei nie. Hy is aan betroubaarheid toegewy. Hy vul die hele aarde met sy troue liefde.

 

6Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër.

Dit is deur hierdie woord genoem in vers 4 dat die hemel gemaak is. Deur Hom begin dinge lewe. Die skepping was ‘n voorbeeld waar die woord en optrede van die Here reg en betroubaar was. Ons sou verwag het dat na die skepping van die hemele die skepping van die aarde aan die woord sou kom, maar die psalmis verwys nou na die hemelse leër – die sterre en planete. Die asem van die Here verwys na sy dinamiese mag wat mag verwys na vernietiging, maar wat hier na skepping verwys. Die wêreld is gemaak deur sy gesagvolle woord en die uitoefening van sy dinamiese mag.

 

 7Hy hou die water van die see soos ‘n dam bymekaar; Hy gaar die oewerwaters op in voorraadkamers.

Die skepping van die aarde word in negatiewe terme beskrywe – die negatiewe magte moet ingeperk word. Die water kan die aarde oorstroom as hulle nie binne perke gehou word nie. By die skepping het die Here hierdie negatiewe kragte ingeperk. Deur op hierdie manier vir die aarde te voorsien en te beskerm is ‘n uitdrukking van die Here se betroubaarheid. Die aarde is vol van die Here se toewyding.

 

3:8: Indirekte oproep tot lof

8Die hele aarde moet die Here vrees; vir Hom moet al die bewoners van die wêreld ontsag hê.

Die aarde word beskryf as al die bewoners van die wêreld.  Die hele aarde en al sy bewoners moet ontsag hê vir die Here.