Psalm 34(3)

 

Be often among the godly. They are the salt of the earth, and they will season you. —Thomas Watson

 

Psalm 34(3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

34:8 – 15: Bevele

Hierdie gedeelte bevat opdragte terwyl 34:16 – 23 hoofsaaklik stellings bevat.

 

Zajin

8Die engel van die Here vorm ‘n laer rondom mense wat vir die Here ontsag het, en Hy red hulle.

Om die Here te eerbiedig beteken dat ek hulp van Hom soek. Hierdie hulp lei uiteindelik tot verlossing. Die engel van die Here is betrokke by die verdediging van die Here se mense. Hy tref ook diegene wat die Here se mense aanval. Hierdie engel vorm ‘n laer rondom mense – beteken waarskynlik dat hierdie leier nie alleen is nie, maar baie het wat hom bystaan.

 

Tet

9Beproef dit en ervaar: Die Here is goed, gelukkig is die mens wat by Hom skuil.

Beproef dit en ervaar dat die Here goed is, beklemtoon weer die idee van by die Here hulp soek.

 

Jod

10Julle moet ontsag hê vir die Here, julle wat aan Hom toegewy is; want wie vir Hom ontsag het, ly geen gebrek nie.

Hier kry ons ‘n verdere opdrag. Let op dat die psalmis twee maal na ontsag verwys. Julle wat aan Hom toegewy is, kan ook met heiliges vertaal word. Heiliges is die naam vir diegene wat die Heilige gekies het. Om die Here met ontsag te behandel, beteken dat ons ons so moet gedra dat dit ooreenstem met ons posisie as mense van die Heilige. Ly geen gebrek nie, beteken dat hulle al die goeie dinge het.

 

Kaf

11Jong leeus kry swaar en ly honger, maar wie smekend tot die Here nader, ly geen gebrek aan alles wat goed is nie

Hier word die punt verder beklemtoon met twee stellings:

  • Leeus, ten spyte van hulle krag, kan honger ly. Net so kan mense wat van die Here afdwaal gebrek ly.
  • Ten spyte van ‘n gebrek aan hulpbronne het mense wat hulle hulp by die Here soek alles wat hulle nodig het.

 

Lamed

12Kom, kinders, luister na my, ontsag vir die Here sal ek julle leer.

Hierdie opdrag moedig mense aan om oop te wees en te leer van ontsag vir die Here. Die Here is waar ons hulp soek – nie by ander gode nie. Die veronderstelling in hierdie psalm is dat so ‘n gesindheid nie maklik is nie. Mense is altyd in die versoeking om beheer oor hulle eie lewe en bestemming en behoeftes te wil oorneem. Hierdie uitnodiging is gerig aan kinders.

 

Mem

13Wie is die mens wat lewe begeer, graag jare wil hê om die goeie te ervaar?

Motivering is die sleutel van die opdragte in hierdie psalm. Wat wil jy regtig hê? Die psalm sien nie ontsag vir die Here as ‘n manier om menslike liefde vir die lewe en sy goeie dinge te beperk nie. Inteendeel: dit is die sleutel tot hierdie dinge. Die vraag is: Is daar iemand wat entoesiasties is oor ‘n lang lewe en om die goeie dinge van die Here te sien?

 

Nun

14 Weerhou jou tong van die kwaad en jou lippe van leuens praat.

Hier word gesag vir die Here verder verduidelik. Slegte gedrag lei tot slegte ondervindings. Slegte gebruik van taal hier beteken dat jou woorde oneerlik is. Dit dui dus op oneerlikheid in ons verhouding met ander mense, maar veral in ons verhouding met God.

 

Samek

15Vermy die kwaad, doen die goeie; soek vrede en jaag dit na.

Ons moet ons rug op hierdie slegte dinge draai en goeie dinge doen. Ons moenie soos van die ou koning van Israel doen en ons na ander gode draai nie. Draai jou rug op die kwaad en draai jou na goeie dinge is die sleutel.

 

Hierdie gedeelte herinner sterk aan Spreuke. Ook die kinders en jongmense word ingetrek in die kring van hulle wat moet deel in die vreugde van die verlostes. Die ware lewe waarna elke jongmens smag, kan hier op aarde geniet word: ‘n lang lewe en die goeie as vrug van ‘n mens se werk. Dit kom egter nie sommer vanself nie. Dit vereis selfdissipline: nie kwaadpraat nie; bly weg van die kwaad af; doen wat goed is; soek vrede en bevorder dit. Deur dit te doen, bewys die mens dat hy een van die regverdiges is. ‘n Positiewe lewensgesindheid, soos blyk uit die mens se diens aan die Here, sy toewyding en verbondenheid aan die Here, bring ware geluk.