Psalm 37 (3)

Psalm 37 (3)

Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

37:5 – 11: Tweede vergelyking.

5Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

6Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son,

jou reg soos die helder lig van die middag.

7Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ’n skelm nie.

8Moenie kwaad word nie, laat staan die woede,

moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.

9Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land.

10Nog ’n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie;

’n mens sal hom soek waar hy was, maar hy sal nie daar wees nie.

11Dié wat nou verdruk word, sal die land besit en hulle verlustig in hulle welvaart.

 

Hierdie vergelyking begin met positiewe raad: Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom. Hoekom:  Hy sal sorg; Hy sal veg vir die reg van die gelowige; Hy sal die gelowige die land laat bly behou; Hy sal die gelowige welvaart laat beleef. Die gelowige moet liewer in stilte op die Here vertrou. Die gelowige moet hom nie oor skelms ontstel nie: die skelms sal uitgeroei word en die goddeloses sal verdwyn. David Livingstone het vs 5 elke dag vir homself herhaal.

 

Lesers moet hulle lewe/bestemming/toekoms aan die Here oorlaat. Hierdie beklemtoon vertroue net met ander woorde: Hy sal sorg.  Die Here se optrede is teen skelms en skurke en ten gunste van gelowiges. Wat sal die Here doen? 6Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. Die Here se trou sal nie net soos lig wees nie, maar so helder soos die lig van die middag.

 

Die lesers moet stil voor die Here wees. Dit is ook ‘n uitdrukking van vertroue. Om stil te wees verwys na ‘n gewilligheid om jou aan die Here te onderwerp en nie in te tree en sake self op te los nie. Dit beteken dat jy moet wag. Stil wees en wag is die teenoorgestelde van ontsteld wees (vers 1). Dit is ‘n versoeking om ontsteld te wees oor die voorspoedige lewe van die skelm.

 

In vers 8 kry ons weer ‘n oproep om nie ontsteld te wees nie – dit bring net ellende. Jaloesie mag beteken dat jy by die skelms aansluit of dat jy self wraak neem inplaas daarvan om die wraak aan die Here oor te laat deur stil te wees en te wag. Skelms sal van die land afgeskei word. Hulle verloor dus die vermoë om aan die lewe te bly en verloor hulle rusplek. Die skelms doen tans goed en kan die land van ander oorneem. Hierdie situasie sal egter omgekeer word.

 

Nog ‘n rukkie herhaal die belofte van vers 2 dat die voorspoed van die skelms nie lank sal duur nie. Vers 12 stel ons aan die verdruktes bekend. Hulle word teenoor die goddeloses gestel. Die implikasie is dat hulle mense van God is. As die goddeloses van hulle land verwyder word, sal die verdruktes die land oorneem.