Psalm 37 (4)

image_pdfimage_print

Psalm 37 (4)

Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

37:12 – 20: Derde vergelyking.

12Die goddelose soek die ondergang van die regverdige en bedreig sy lewe.

13Die Here lag vir die goddeloses, want Hy sien hulle dag kom.

Die goddeloses en regverdiges word hier direk teenoor mekaar gestel. Die goddeloses ondervind nie alleen voorspoed nie, maar val die regverdiges aan. Hier sien ons ‘n dreigende optrede wat slegte nuus vir die slagoffer is. Die goddeloses dink dat hulle slim en magtig is, maar vir God lyk dit nie so nie – Hy lag vir hulle. Hy weet wat met die goddeloses sal gebeur. Die Here het na die toekoms gekyk. Hy kan dit doen, want Hy bepaal die toekoms. Hy lag, want Hy het bepaal dat die goddeloses sal val. Die stelling voorveronderstel dat die goddeloses sal val.

 

14Die goddeloses trek die swaard en span die boog om die hulpelose en die arme

dood te maak, om dié wat die regte pad loop, te vermoor.

15Die goddeloses se swaarde sal hulle eie harte tref en hulle boë sal stukkend gebreek word.

Die swaard en boog is waarskynlik metafore vir die wapens wat die goddeloses gebruik. Dit beklemtoon die dodelike gevolge van die wapens wat die goddeloses gebruik. Dit wond nie net nie, maar maak mense dood. Hierdie is natuurlik nie reg nie en mag nie bly staan nie. Die swaard waarmee die goddeloses ander wil doodmaak, sal op ‘n geheimsinnige wys omgekeer word en hulle eie harte tref en die boë sal breek. Hier word geen ingryping van God vermeld nie.  Die optrede van die goddeloses word gefnuik.

 

16Die bietjie van die regverdige is beter as die rykdom van talle goddeloses,

17want die mag van die goddeloses sal verbreek word,

maar die Here sal die hulp wees van die regverdiges.

Hierdie herinner aan Spreuke. Hoe kan ‘n bietjie beter wees as die meer. God sal die goddeloses se mag verbreek

 

18Die Here sorg vir die lewe van die opregtes,

en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe.

19In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie,

in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê.

Die Here sorg vir die opregtes en ondersteun hulle. Die mense is die opregtes. Dit hou verband met die regverdiges – mense met integriteit. Die Here sal sorg dat hulle lewe in die land nooit eindig nie. Dit word verder in vers 19 uitgespel. As die land nie genoeg produseer vir die mense om te oorleef nie, mag hulle hulle land verloor Die Here sorg dat hulle egter oorleef. Die goddelose kry geen uitkoms in tye van hongersnood nie. Die regverdiges sal nie verleë staan deurdat hulle hulle land verloor nie.

 

20Die goddeloses sal te gronde gaan, die vyande van die Here sal tot niet gaan;

soos mooi weivelde wat in vlamme opgaan, so sal hulle verdwyn.

 

Die Here kies altyd vir die regverdiges kant teen die goddeloses. As die goddelose die ondergang van die regverdige soek en sy lewe bedreig, lag die Here vir die goddeloses, want Hy sien hulle dag kom. As die goddelose die hulpelose en die arme wil doodmaak, laat God hulle swaarde hulle eie harte tref – hulle boë sal stukkend gebreek word. Die Here sal altyd die regverdiges se hulp wees. Hy sorg vir hulle lewe; Hy beskerm wat hulle besit. In tye van nood en gebrek sal Hy hulle nie in die steek laat nie. Daarteenoor laat Hy die goddelose te gronde gaan; Hy laat hulle tot niet gaan; soos mooi weivelde wat in vlamme opgaan, so sal hulle verdwyn.

 

 

image_pdfimage_print