1

Psalm 37 (6)

Psalm 37 (6)

Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

TEOLOGIESE IMPLIKASIES:

Hier is nie ‘n argument in die formele struktuur van die psalm ingebou nie. Dit keer egter gereeld na ‘n aantal punte terug:

  • Dit het ‘n pastorale bekommernis. Hy wil hê dat die luisteraars/lesers hulle gesindheid moet verander. Hulle tob omdat die goddeloses blykbaar voorspoedig in die lewe is – selfs beter af is as die regverdiges. Die goddeloses is sterk en die regverdiges swak, en daarom bedreig die goddeloses die regverdiges.
  • In hierdie situasie wil die psalmis hê dat die regverdiges nie langer ontsteld moet wees nie, maar dat hulle in die Here moet vertrou – hulle toewy aan Hom en op Hom wag.
  • Gelowiges mag energie vermors deur hulle oor die goddeloses te ontstel. Hulle mag selfs in die versoeking kom om hulle by die goddeloses aan te sluit.
  • Die gelowiges moet tevrede wees met dit wat hulle het – al is dit min –  want die oorvloed van die goddeloses is net tydelik en sal nie lank duur nie.
  • Die voorspoed van die goddeloses tans laat dit lyk asof daar geen morele orde in die wêreld is nie. Daar is ‘n ingeboude morele band tussen optrede en gevolge. Die swaard van die goddeloses vind sy weg na hulle eie hart.
  • Die mens word aangemoedig om op die Here en nie op ‘n morele orde te vertrou nie. Hy sal dinge reg laat uitwerk.

 

Die psalmis vermaan my om rustig  my werk in vertroue op die Here te doen. Die Here sorg vir die mense wat hulle lewens aan Hom oorlaat.  Dit help my niks om kwaad of ontsteld te word oor die voorspoed van die goddeloses nie. Ek moet positief bly optree; ek moet volgens die wil van die Here lewe; ek moet die voorbeeld van die opregtes volg, want net hulle het ‘n toekoms. Daarteenoor vergaan die goddelose gou; hulle word uitgeroei; hulle is sonder toekoms. Die Here lag vir hulle. Hy sien die dag waarop Hy met hulle gaan afreken. Die mag waarop hulle staatmaak, sal in hulle hande verkrummel. Hulle is nie net sonder God nie, maar soms teen God. Daarom wag ondergang op hulle. Dwarsdeur die psalms staan die goddelose en sy dwaalweg teenoor die goeie pad van die gelowige waarop hy deur die Here gehelp word.

 

Hierdie versekerings is vir my van onskatbare waarde as ek dag vir dag gekonfronteer word met die gevolge van moord en doodslag, roof en geweld. Dit sê vir my: Moenie aanvaar dat die bose tog sy sin gekry het nie. Ek moenie glo dat ek weerloos staan nie; ek moenie moed verloor, boedel oorgee of op ‘n hopie gaan lê nie. Dieselfde God wat lank gelede al deur die psalmis vir gelowiges gesê het: “Laat julle lewe aan die Here oor”, sê presies dieselfde ding vir my vandag. Ek moet myself in sy hande plaas; ek moet op Hom vertrou. Hy sal, soos Hy nog altyd gedoen het, sy beloftes nakom en vir my uitkoms gee – op sy tyd, op sy manier.